Die wêreld kan maar net nie genoeg kry van die drie nie ... prins William en Kate Middleton, hertog en hertogin van Cambridge, se kroos.
Die afgelope Sondag is ons omtrent bederf. Die koninklike egpaar was saam met die vyfjarige prins George, prinses Charlotte (4) en prins Louis, wat onlangs sy eerste verjaardag gevier het, by die bekendstelling van die jaarlikse Chelsea-blommeskou. Vir vanjaar se skou het Kate vir die eerste keer in samewerking met twee tuinontwerpers haar eie tuin, genaamd Back to Nature, ontwerp.
Die egpaar het die mooiste foto's en video's van die uitstappie op sosiale media gedeel. Ouboet en ousus het die tuin kaalvoet verken, geswaai en hul tone in die water gedruk terwyl prins Louis al waggelende deel in die pret. Dis nie aldag wat die publiek so 'n intieme kykie in die gesin se lewe kry nie!