Al het dit by tye bitter swaar met haar gegaan, het Maye haar nie laat onderkry nie. Sy het áltyd ’n plan gemaak. Dit is dan ook waarom die titel van haar memoires, A Woman Makes a Plan*, geïnspireer is deur die Afrikaanse uitdrukking “’n boer maak ’n plan”.

LIEZEL ENGELBRECHT het met Maye Musk gesels oor haar boek en lewensverhaal. Lees dié onderhoud hier of in SARIE se Augustus-uitgawe. Hier is Maye se Afrikaanse boodskap aan SARIE-lesers. 


A Woman Makes a Plan

Maye Musk, 72-jarige internasionale supermodel en ma van ruimtevaartentrepreneur Elon Musk, se outobiografie is onlangs in Suid-Afrika bekendgestel.

A Woman Makes a Plan: Advice for a Lifetime of Adventure, Beauty and Success vertel Maye, wat ook ma is van filantroop Kimbal en filmvervaardiger Tosca Musk, se lewensverhaal – van haar reise deur die Kalahari as kind, tot waar sy supermodel-status verkry het in Amerika.

Sy deel hardverdiende lewenswyshede op ’n plat-op-die-aarde manier waarby talle vroue sal aanklank vind. Sy gesels oor haar uitdagings as enkelma, hard werk, verhoudingsteleurstellings, gewig aansit, gesondheid, skoonheid en hoe sy telkemale ’n plan moes maak as dinge nie uitgewerk het soos sy gedink het nie.

Hoewel Maye in Kanada gebore is, het haar ouers na Pretoria verhuis toe sy twee jaar oud was. Sy het in haar 40’s Kanada te getrek en is van daar af Amerika toe. Maye is passievol oor voeding – sy was vir dekades lank dieetkundige en het twee meestersgrade in die veld.

Haar boek lees maklik en oud en jonk sal uit haar stories iets kan wysraak.

(Jonathan Ball Publishers, R240)

* Liezel Engelbrecht is ’n voormalige joernalis en tydskrifredakteur. Sy is nou ook ’n geregistreerde dieetkundige en ’n woordvoerder vir die Vereniging vir Dieetkundiges in Suid-Afrika (ADSA). Besoek liezelthedietitian.com of volg haar op Instagram by @LiezelTheDietitian vir ’n videoopname van die onderhoud.