Vanoggend het aanhangers die nuus gehoor: Shaleen Surtie-Richards dood op 66. Medelye het ingestroom vanaf sterre, geliefdes en ook die man op straat. Volksbesit, onse Shaleen.

Sy behoort erkenning te kry vir ál haar werk op die silwerskerm, klein kassie en die verhoog. Maar dis as Fiela wat ons haar veral onthou ... Die rol wat sy 33 jaar gelede in die Katinka Heyns-rolprent Fiela se Kind gespeel het. Die karakter wat sy so innig voor lief was.

Wie kan haar pleidood by die magistraat vergeet?

“Ek staan nie hier vir myself nie, ek staan hier vir die kind. God vergewe ons baie dinge, maar vergewe ons nie vir die kwaad wat ons aan ’n kind doen nie.”

En toe sy by Bartha van Rooyen gesoebat het om vir oulaas haar optelkind, Benjamin, te sien?

“Missies, jy is tog ook ’n ma. Daai kind is soos my eie. Ek het hom soos my eie gevat, met ’n jammerte in my hart daarby ... Ek vra net 10 woorde met Benjamin. Laat ek hom net een keer sien.” 

Of hoe sy huilend hom jare later weer omhels het?

“Here, dit kan nie wees nie? Dis ’n wit mens. Dis ’n grootmens. Dit kan mos nie hy wees nie? Ek glo dit nie, ek glo dit nie. Benjamin!”

“Sy is so ’n fenomenale vrou. Jy neuk nie met haar nie. Jy klim in háár skoene; sy klim nie in joune nie. Ek sal nooit moeg raak vir Fiela nie,” het Shaleen in 2017 aan SARIE se Fanie Cronjé gesê. Sy het daardie jaar weer in die skoene van Fiela geklim, toe sy in die Frans Swart-verhoogproduksie gespeel het.

In dieselfde onderhoud herroep sy ’n oomblik in 1988, toe die rolprent in Upington gespeel het. “Ek onthou daar was ’n inry-teater op Upington waar ek vandaan kom met ’n muur reg in die middel. Wit mense aan die een kant, bruin mense aan die ander kant. Ek het gesê: "As julle wil hê ek moet kom vir die wys van die fliek, moet julle die muur afbreek." Hulle het dit toe afgebreek. Toe ek daar kom daai aand, was die muur weg. En dis wat ek met Fiela vermag het vir die land se menseverhoudings.”

Rus sag, Shaleen.