Vanjaar is die wêreld tot stilstand gedwing. Maar vir Nataniël was stilsit geen opsie, inteendeel hy het aan baie projekte gewerk. 

“Ek het nie deur ’n krisis gegaan soos baie ander nie, ek het op die dag wat die afsondering begin het, weggetrek soos ’n malle en baie projekte aangepak, ek het baie gedoen gekry, daar is soveel goed wat ek nog moet doen, ons sal net ons vermoëns moet ontgin en op ander maniere leer werk. Dinge gaan nie wees soos ons dit ken nie, die kunste gaan anders lyk, dis beslis en dit is opwindend. Ek is gek oor verandering,” het Nataniël in SARIE se September 2020-uitgawe verklap.

Elke Saterdag in Oktober (3, 10, 17, 24) gaan sy geselsreeks GESELS in die Atterbury-teater plaasvind. Kaartjies kan hier gekoop word. Maar dis nie al nie, sy splinternuwe kykNET-reeks TOEGANG begin op Maandag 5 Oktober om 20:30. 

Waaroor gaan hierdie reeks? Die persverklaring lui as volg: “So stylvol soos altyd en geklee in sy kenmerkende ontwerpersuitrustings, gaan Nataniël met net ‘n opslaankombuis tot sy beskikking kook in plekke waartoe die publiek vir maand geen toegang gehad het nie. En die opslaankombuis? Net ‘n elektriese stoofplaat, twee panne, een pot en ‘n tassie met net die nodigste gereedskap vir nog ‘n smul-maal.”

Nataniël was nog nooit bang om hard te werk nie. Soos sy goeie pianis-vriend Charl du Plessis, wat al 20 jaar saam met Nataniël werk, sê: “Werksetiek is beslis die belangrikste. Hy stel sulke hoë eise aan homself en respekteer die gehoor (en kykers vir TV) geweldig en sal nooit dieselfde idee/musiek/storie/kledingstuk weer gebruik nie. Dit is altyd nuut en vars met sy geweldige vermoë om te bly skep en vernuwe.”

Charl bewonder steeds ná al die jare vir Nataniël: “Deursettingsvermoë. Al sing ons in die lelikste saal op die mees verlate dorp, doen hy net sy bes en ons gaan net aan – maak nie saak wat nie. Dit is wat ek professionaliteit van die hoogste graad noem.”

Vanjaar is SARIE se leuse ‘Jy is genoeg’ - in dieselfde September-onderhoud het Nataniël die volgende daaroor gesê: “Ek is deeglik bewus van my sterk punte en my vermoëns, asook my vele tekortkominge, ek probeer met hierdie balans lewe . . . dis ’n daaglikse stryd. Maar daar is altyd ’n stemmetjie wat my vertel dat as ek werklik goed genoeg was, sou ek baie meer sukses gehad het. Dalk is dit reg so, met té veel selfvertroue raak ons ondraaglik. Balans, balans!”