In 2006 het Jeanne spesiaal vir SARIE se Desember-uitgawe ’n Kersverhaal geskryf.

Ons plaas dit ter herinneringe van Jeanne en al die wonderlike stories en woorde wat eens uit haar pen gekom het.

Geel perskes

Ek sit in die kombuis, kyk by die agterdeur uit, sien die geelperskeboom wat ek geplant het. Dit is vol in sy eerste drag. Ek kyk na die grasperk wat ek gereeld versorg, die plante, die struike, die buitegeboue. Ek kyk na alles wat ons opgebou het.

Die kombuis ruik na kalkoen. Sy staan voor die stoof met ’n vadoek oor haar skouer, prik met ’n lang vurk in die kastrol. Sy staan met haar rug na my, maar ek ken die uitdrukking op haar gesig: Lippe in ’n dun lyn, ’n frons tussen haar oë.

“My ma het my gewaarsku,” begin sy, “maar ek wou nie luister nie. Moer!”roep sy uit. Nét so: Moer. Sy sê: “Ek het jou liefgehad. Ek wou jou graagter as enigiets hê.”

Ek skroef die dop van die bottel First Watch-whisky af, gooi daarvan in my waterglas, drink.

“Ek wou nie luister nie,” gaan sy aan.“Die Barnards is nie ons soort mense nie, het my ma gesê. Die onstabiele soort. Maak niks bymekaar nie en altyd aan die trek. Van die een plek na die ander agter die Here weet wat aan …”

Sy roer nou met ’n lepel in die kastrol, skakel die plaat op laag. Sy skep van die sous in ’n piering en proe dit. Sy strek, kry die soutpot op die rak skuins bokant die stoof. My vrou strooi sout in die kastrol. Daar is ’n rooi tulp op die soutpot.

Ek kyk by die agterdeur uit, sien die jong perskeboom. Wanneer ek my een oog toemaak, verdwyn die boom. Ek het die boom net nadat ons hier ingetrek het, geplant.

My hande bewe. Ek maak die glas leeg, skink nog whisky, krap met ’n vuurhoutjie in die Good Year-asbak.

My vrou sit rys op. Sy raas met die gereedskap. “Nou is my ma dood,” sê sy. “My ma is dood sonder dat ek by was!” Sy swaai skielik om en skree: “Verstaan wat ek sê. Is daar enigiets wat jy hoegenaamd verstaan?!”

Ek draai my gesig weg, maak my oë toe, maak hulle oop. Die perskeboom is in drag, die vrugte is ryp. Nie een van ons het nog één van hulle gepluk om te eet nie.

My vrou huil nou sag. Sy praat nou met haarself. “Sy soort hou nie ’n werk lank nie, maar nee, het ek gemeen, dinge sal werk en Natie het my nodig.”

Sy lig ’n deksel op, sit dit weer terug. “Nou is dit te laat,” kerm sy.

“Die beste jare van my lewe is daarmee heen. Dit is wat ’n man aan jou kan doen.”

En net daar in die kombuis wat na kalkoen ruik, word ek kwaad. Miskien oor die manier waarop sy mán sê. Man. Ek word kwaad,stamp die stoel om, stap slaapkamer toe en pluk die grootste tas uit die kas. Ek begin pak: hemde, broeke, onderklere, nagklere, skoene, dasse.

Ek pak. Ek pak sommer my vrou se Duitse Bybel op die bedkassie ook in. In die badkamer pak ek my skeergoed in, handdoek, seep, tandeborsel, tandepasta, álles.

Ek stap met die groot tas deur die kombuis by die agterdeur uit. Ek sien die perskeboom.Ek sit my tas neer en maak dit oop. Ek pluk perskes, pak hulle een vir een in die tas. Ek pluk totdat die hele boom leeg is.Ek maak die tas toe. By die voorhek sit ek die swaar tas neer. Ek maak die hek oop, stoot die tas deur, volg en maak die hek weer agter my toe. Iewers sing Bing Crosby “I’m dreaming of a white Christmas”.

Ek vat die pad. Ek stap met die tas perskes met die straat af sonder om een maal om te kyk.

Ek stap deur die strate wat na Krismis ruik.