Op sy agste verjaardag het Johan Coetzer van Welgemoed, Kaapstad, vir al sy maats by sy verjaardagpartytjie ’n paar plante, ’n houer, grond en kompos gegee saam met aanwysings oor hoe om hul eie tuintjie te begin.

Hy sal tuinmaak vir enigiemand aanbeveel, sê Johan (11). Om met plante te werk maak hom kalm.

“Dan is ek in my eie wêreld en ek vergeet van enige probleme of stres.”

Vandat hy kan onthou, was hy lief vir diere en plante. “Ek dink ek was vier jaar oud, toe het ek al die saadjies in hul gaatjies gegooi terwyl my pa die harde werk gedoen het.”

FOTO Dwayne Senior

Nie dat sy ouers besonder groot tuiniers is nie, sê hy. Sy belangstelling is veral geprikkel toe ’n vriend van sy pa vir hom plante gegee het toe hulle daar gaan kuier het. Baie van sy kennis kry hy van die internet en tuinprogramme op televisie.

Met die onlangse droogte in die Kaap het hy al hoe meer op vetplante begin fokus. Sy kleiner vetplante is in potte op die stoep, maar Johan het nou ook in sy groentetuin, waar daar baie son is, groter vetplante begin plant.

Hy pas net die grondmengsel aan, verduidelik hy, en vervang ’n deel van die grond met sand. (Hy kan vir jou die presiese verhoudings gee, as jy dit soek.) In die verlede het hy al onder meer groenboontjies, wortels, tamaties en blaarslaai gekweek. Daar’s ook sonneblomme vir sy werfhoenders.

“Dis lekker om goed te kan gebruik wat uit my eie tuin kom. En om self te produseer. Ek het byvoorbeeld nie weer vanjaar boontjiesaad gekoop nie, omdat ek verlede jaar van die saad geoes het. Net voor die lente sal ek dit in houertjies plant en in ’n warm area sit en monitor om seker te maak dit ontkiem. Die proses is baie interessant. Ek het ook al steggies by mense gekry en dis lekker om dop te hou hoe dit vorder,” vertel hy.

Wanneer Johan klaar is met laerskool, wil hy landbouskool toe gaan. Daarna mik sy kop Nederland toe, “waar die beste plante en variëteite op aarde is”. Maar hy sou ook graag ’n natuurbewaarder wou wees. Wat hy ook al doen, “plante sal maar altyd deel van my lewe wees”.