Een van die dae gaan jy ’n bekende gesig in ’n Hollywood-aksiefliek kan sien. Ja, ’n Suid-Afrikaanse akteur gaan die grootskerm deel met Keanu Reeves!

James Alexander, wat kykers sal onthou as dr. Rico Maartens in die kykNET-sepie Binnelanders, was ook in die SABC2-reeks Geraamtes in die kas en die fliek Leading Lady te sien. 

Sy “leading lady” is die ewe talentvolle en pragtige aktrise Anel Alexander, wat in die flieks Sink, Klein Karoo en Semi-Soet te sien was. Sy was ook die rooikop Liesl Landman in die SABC-sepie 7de Laan. Die suksesvolle paartjie woon deesdae in Los Angeles waar hulle in die filmbedryf werk.

James en Anel Alexander. FOTO: Phyllis Green

Om sy tonele vir die Hollywood-aksiefliek te skiet was James verlede jaar in Rusland. Die lokprent vir die fliek, Siberia, is vandeesweek uitgereik.

Sterre soos Molly Ringwald en Ana Ularu verskyn ook in die fliek.

Siberia gaan oor ’n diamanthandelaar, Lucas Hill (Keanu Reeves), wat na Rusland gaan om sy vermiste vennoot te gaan soek, maar dan raak hy halsoorkop verlief op ’n Russiese vrou voordat dinge lelik begin skeef loop. James vertolk die rol van ’n Afrikaanse diamanthandelaar, en in ’n stadium praat hy en Keanu Afrikaans met mekaar - of probeer ten minste!

James Alexander saam met Keanu Reeves op stel. Foto verskaf


James Alexander saam met Keanu Reeves op stel. Foto verskaf

James Alexander op die stel. Foto verskaf

James vertel dit was heerlik om saam met Keanu te werk.

“Keanu het ’n reputasie as ’n nice guy in Hollywood, en hy is werklik opreg en aangenaam. Dit was crazy om saam met iemand met die star power van Keanu in die openbaar te verskyn en op stel te wees.”

Keanu Reeves. FOTO: Instagra / @keanureevesofficialfanpage

Anel kon ook die Hollywood-ster ontmoet, ’n ervaring was sy as “super cool” beskryf.

Ons kan nie wag om die fliek te sien nie! Hier’s die lokprent: