Die internasionale model en skrywer van kookboeke, Chrissy Teigen, is swanger met haar en haar EGOT-man, John Legend, se derde kind.

Die pragtige paartjie is reeds die trotse ouers van Luna (4) en Miles (2) - albei IVF-babatjies. Hulle het die wonderlike nuus in manlief se musiekvideo “Wild” gedeel

Dis die vierde keer wat Chrissy in John se musiekvideo’s verskyn. Hulle het 15 jaar gelede op die stel van sy musiekvideo “Stereo” ontmoet.

Sy sou daarna in “All of Me”, ’n liefdeslied wat John spesiaal vir haar geskryf het, verskyn.

Asook in die musiekvideo “Love Me Now”, waarin klein Luna ook in verskyn het. 

Chrissy se pad tot ouerskap was gevul met terugslae en teleurstellings. In 2018 het sy aan The Cut oopgemaak oor haar mislukte pogings met in vitro-bevrugting. En toe sy uiteindelik die lewe skenk aan haar eersteling, danksy suksesvolle in vitro-bevrugting, het sy aan enorme postnatale depressie gelei.

Vir maande moes Chrissy teen die trane baklei en het sy op ’n rusbank in die sitkamer geslaap. Sy't nie verstaan wat met haar aangaan nie. Haar lyf was seer, sy was gedurig hartseer en kon soggens skaars opstaan. Om haar te ondersteun het John saam met haar op die bank gaan slaap. In Desember is Chrissy met postnatale depressie en angs gediagnoseer. Sy't ’n artikel daaroor vir die tydskrif Glamour geskryf. 

"Ek't besluit om uit te praat omdat ek wil hê mense moet besef dit kan met enigiemand gebeur. Soos met enige postnatale depressielyer het ek goeie en slegte dae. Maar deesdae het ek meer goeie dae as slegte dae," het Chrissy destyds gesê.

Sy het ook aan postnatale depressie gelei met klein Miles se koms, maar was die keer meer voorbereid om dit te bestuur en hulp daarvoor te kry. 

FOTO Instagram / Chrissy Teigen

Postnatale depressie: Wat moet jy weet?

Daar is drie soorte depressie waaraan nuwe ma’s kan ly – postnatale blues, postnatale depressie en angs, en postnatale psigose.

 – Postnatale blues word gekenmerk deur huilerigheid en skommelende emosies. Dit duur gewoonlik net ’n paar dae na´ die geboorte.

– Postnatale depressie en angs is veel ernstiger as die blues. Die simptome kan jou lewe ernstig aan bande lê en van ’n paar weke tot maande of selfs ’n jaar duur. ’n Kombinasie van medikasie, terapie en ’n goeie ondersteuningsnetwerk word aanbeveel om dit te beheer.

 – Postnatale psigose is die “diepste blou” van die gees. Na raming kry een tot twee uit elke duisend vroue dit. Dit begin gewoonlik twee tot vier weke ná die baba se geboorte. Simptome sluit in versteurde gedagtes, erge depressie, manie en psigose. ’n Pasiënt kan ’n gevaar vir haarself en die´ om haar inhou en moet dadelik gehospitaliseer word.