TOKYO, JAPAN - JULY 27: Tatjana Schoenmaker of Sou
Tatjana Schoenmaker verower SA se eerste medalje by die Olimpiese Spele. FOTO Getty Images / Gallo Images

In SARIE se September 2018-uitgawe het die joernalis Lydia van der Merwe met Tatjana gesels oor die oomblik toe sy ’n nuwe Afrika-rekord behaal het.

Hier volg ’n uittreksel:

Dis doodstil, jy kan jou hartklop hóór. “Take your marks” . . . en piep . . . die gonser. Jy is in die water, fokus net op jou ritme, jou tegniek. Die laaste lengte en jy gee jou als. Nog vyftien meter en jou arms en bene is lam, jy’t nie meer krag nie. Vasbyt.

Tatjana Schoenmaker raak eerste aan die swembad se kant en haar oë rek toe sy haar tyd sien: 2:22.02. Goud in die 200 m-borsslag en ’n nuwe Afrika-rekord.

Sy het geweet sy het vinniger as in die halfeindronde geswem. Maar dat sy nog ’n sekonde en ’n half van daardie tyd sou afskil? “Ek was net so bly! Om daardie tyd vol te hou gaan baie uitdagend wees. Dis nie lekker om te dink ek gaan nog harder moet oefen nie!” Met ’n giggellaggie.

Ná jare van droogte aan plaaslike top-vroueswemmers kom Tatjana byna vanuit die niet – en swem in April vanjaar twee goues los by die Statebondspele in Australië. Sy verbeter drie Afrika-rekords, in die 50 m, 100 m en 200 m. Twee daarvan, die 50 m en 100 m, was Penny Heyns s’n, waarvan laasgenoemde byna 20 jaar gestaan het. Op die podium vee sy aanmekaar trane af. In die skare is haar ouers, Rene en Renske. En sy weet hulle is net so emosioneel.

“Alles daarna het vinnig gegaan. Ek het uit die swembad geklim, my medaljes ontvang, vir my dwelmtoets gegaan. Maar daardie aand in die bed het ek die oomblikke op die podium herleef – en toe huil ek. Elke keer wanneer die Springbokke rugby speel en ek die volkslied hoor, sien ek myself weer op die podium.”

“Hoekom het jy nie gewaai toe jy uitstap swembad toe nie?” vra haar ma. “Ek was bang as ek die groot klomp mense sien, raak ek te senuweeagtig,” sê Tatjana, wat sedertdien mondig geword het. “Voor die halfeindronde in die 50 m hét ek opgekyk. Hoe gaan ek voor al die mense ’n resies swem? Ek het gebewe op daai wegspringblok. Dankie tog die 50 m was eerste, ek sou nie so wou voel met die 200 m nie.”

In die 50 m-finaal was die bewerasie weg. Sy het vierde gekom, maar die ys was gebreek. En ná haar 200 m-triomf doen sy dit wéér en wen nog ’n goue in die 100 m. ’n Bonus, aangesien sy gewoonlik die beste in die 200 m vaar.

Die hoop is nou op jou om by die Olimpiese Spele in 2020 in Tokio vir SA op die podium te staan. Voel jy daai druk? “Ek gaan nie toelaat dat dit my laat stres nie. Belangrik vir my is dat ek die swem geniet en my tye verbeter. Solank ek dit doen, weet ek ek vorder.”

Geniet jy dit nog? Ja! Al die harde ure se oefen is nie lekker nie. Dis nie lekker om in die winter sesuur op te staan terwyl dit ses grade buite is nie. En dan in ’n opelug-swembad, weliswaar verhit, te gaan swem nie. Ek wil baie keer eerder nog slaap. Ek woon ook nie by my ouers nie, daar is niemand om my wakker te maak nie en ek moet self deurdruk. Maar ná die tyd is ’n koppie koffie baie lekker.”

Terwyl sy oefen, dink sy aan “tegniese goed, my swemslag, of my tyd reg is. Jy moet jou tegniek inoefen, dit regkry. Op dae wat dit vervelig is, lank en aanhoudend, dink ek aan my leerwerk op varsity.”

Op vyf het haar ma haar vir waterveiligheidslesse geneem. Sy onthou sy moes met klere en al in die swembad spring, dit uittrek en kant toe swem. Op agt het sy aan kompetisies begin deelneem. Sy het in Johannesburg grootgeword, maar grotendeels danksy haar afrigter, Rocco Meiring, in graad nege by die TuksSport High School ingeskryf. Haar talent vir swem ten spyt was netbal lekkerder. Sy het egter deurgedruk en haar swemtye verbeter. En dit begin geniet.

Tans studeer sy in die finansiële wetenskappe aan die Universiteit van Pretoria. Sy is aanstaande jaar in haar finale jaar en wil daarna haar honneurs in rekeningkunde doen en haar as geoktrooieerde rekenmeester bekwaam. Nie dat sy haarself heeldag in ’n kantoor kan sien nie. “Ek sal maar eers my studies klaarmaak en kyk.” Wat ook al, sy sal ná haar uittrede ook steeds by swem betrokke wil wees. Soos Penny, met die slyp van kinders vir kompetisies.

Intussen het haar lewe nie veel verander sedert haar twee goues nie. Volgende jaar lê die Wêreldkampioenskap in Suid-Korea en die Wêreld-Universiteitspele in Italië voor. Haar studieprogram sal bepaal aan watter een sy deelneem. Mense herken haar nie juis op straat nie.

“Nou die dag word ek by ’n polisieversperring afgetrek. Die polisieman kyk na my rybewys: ‘Iemand met jou van het goud by die Statebondspele gewen.’ Ek sê: ‘Dis ek.’ En hy: ‘Ek glo jou nie.’ ‘Ja, dis ek.’ ‘Nee! Klim uit dat ek kan sien!’ ”

’n Tatoe? Sy sou graag die Olimpiese ringe wou hê, maar is skrikkerig. “As ek dit laat doen, sal dit klein wees. En op ’n plek waar ek dit maklik kan wegsteek.”

Kyk die groot oomblik hier: