1. Kan jy ’n oomblik herroep wat jou lewe handomkeer verander het?

In 1980 is ek as 16-jarige vir die eerste keer oorsee. In daardie tyd was my wêreld Vredendal en die omliggende omgewing. Die reis het my kop oopgebreek en ’n omwenteling in my wese veroorsaak. Ek het skielik besef daar is so baie om te leer van die lewe, mense, verskillende kulture, en dat ek ’n piepklein skroefie in ’n enorme heelal is. In ’n sekere mate het dit my laat fokus en was ek tóé al dankbaar dat ek ’n paar jaar op hierdie ondermaanse mag wees, dit mag beleef en ervaar.

2. “Die storie van Klara Viljee” is ná 29 jaar nog ikonies. Hoekom kan mense steeds ná al die jare met Klara identifiseer? En spook sy soms in jou gedagtes?

Almal van ons het soms probleme wat onoorkombaar groot lyk. Ek dink die storie wys met wilskrag en treetjie vir treetjie is enigiets moontlik. Veral asons ons ego eenkant toe skuif en die helpende hand van iemand anders se liefde, begrip en ondersteuning aangryp.As ek terugdink, is dit met nostalgie en empatie. Ek het groot bewondering vir die karakter wat [ontslape dramaturg] Chris Barnard geskep het. As sy wel in my gedagtes kom rondloop, is dit positief en vou beelde van die see voor my oop.

Anna-Mart se eerste SARIE-voorblad in 1992. FOTO David Dodds

3. Die kunstefeeste het in 2020 ’n groot terugslag beleef. Dink jy feeste gaan hul formaat en resep vorentoe moet verander?

Niks op hierdie aarde is vir ewig nie. Ek glo die pandemie gaan dinge op ’n vernuwende en positiewe manier skuif. Terwyl die mens bestaan, sal daar kuns wees. Ons het ’n behoefte om saam te wees en te vergader. Teatermakers kyk nou opnuut na watter stories ons nodig het. Die digitalisering van teater sal hopelik net ’n tydelike oorbrugging wees. Ek weet ons gaan maniere vind om met die nodige regulasies weer die plankvloer van die verhoog onder ons voete te voel kraak en die kragtige en helende wisselwerking tussen gehoor en spelers te ervaar.

4. Ons sien ál meer hoe verganklik die mens is, maar nog belangriker, hoe die natuur stadig aan sterf. Hoe voel jy oor klimaatsverandering en het jy nog hoop vir die toekoms?

Die nietige mens behoort te besef die natuur het ook regte. Geen siel kan meer sê: “Ek het nie geweet nie.” As dit oorweldigend raak en jy jou begin kommer oor die wêreld wat jy vir jou kinders gaan agterlaat . . . gaan buitentoe en raak bewus van die natuur om jou. Al is dit ’n onkruid wat moedig tussen die krake van ’n sypaadjie in die stad groei. Elke bietjie bewustheid, die optel van één plastiekbottel, help. Die natuur het nes ons asem nodig om voluit te bestaan. Laat ons ophou om haar strot toe te trap.

5. Die aktrise Nicole Fortuin vra: Wat is die dryfkrag vir elke besluit wat jy in jou persoonlike lewe maak? En hoe beïnvloed daardie keuses jou loopbaan?

Om so eerlik as moontlik na my instink te luister en daarvolgens te handel. Eerlikheid in my keuses is vir my van kardinale belang. Iemand respekteer my deur vir my werk aan te bied. Ek wil daardie mens respekteer deur so eerlik moontlik na die stuk te kyk en dan my keuse te maak. Dis soms moeilik, want as dit ’n “nee” is, vrees jy hulle gaan dink jyis grootkop of dat hulle nooit weer saam met jou sal wil werk nie. Ten minste weet ek in my diepste wese ek was eerlik. Uiteindelik is jy self verantwoordelik vir die bestuur van jou loopbaan.

Die aktrise Nicole Fortuin het spesiaal vir Anna-Mart ook ’n vraag gevra. FOTO Instagram / Nicole Fortuin

Lees ook wat die ander ikone sê:

Pretty Yende

Koos Kombuis

Denise Newman

Dr. John Kani