1. Jy is al 41 jaar in die bedryf en het jou merk op die verhoog, die silwerdoek en televisie gemaak. Wat was die beste raad wat jy in dié vier dekades ontvang het?

Ek het lesse geleer wat ek steeds in my loopbaan en in my persoonlike lewe toepas. Om een uit te sonder is eintlik onregverdig. Maar ek sou sê eerlikheid. As akteur moet jy eerlik wees met jou karakter, met die storie. En jy moet in die oomblik bly. Moenie die storie vooruitloop of die einde al leef nie, neem die oomblik in. Wees oop vir die lewe, vir wat die lewe oor jou pad bring.

’n Jong Denise Newman in 1981 met haar optrede by die Mark-teater. FOTO Instagram / Denise Newman

2. Hoekom is stories oor ons geskiedenis so belangrik?

Kinders vandag is so vasgevang in die wêreld van tegnologie en die verledeso ver verwyder vir hulle. Dis net die hier en nou, die onmiddellike. Maardis nodig dat hulle leer van ons verlede.Om van ander se herkoms, kultuuren ook hul stories te hoor en dit te verstaan. Die geskiedenis is immers ’n waarskuwing vir die toekoms – ons leer uit ons verlede. Ons leer van mekaar, oor mekaar. Dis hoekom die medium van storievertelling so ongelooflik is, jy kan deur ’n enkele storie soveel lesse oordra, sonder dat dit soos ’n geskiedenisles voel.

3. Geweld teenoor vroue en kinders is steeds ’n kwessie. Waar reken jy moet verandering begin en wat behoort ons as Suid-Afrikaners te doen?

Dis makliker gesê as gedaan. Maar die ouers, ma én pa, moet meer doen. Die voogde moet meer doen. Hulle moet meer verantwoordelikheid neem vir wat hul kinders doen. Om kinders groot te maak is nie ’n demokrasie nie. Jy is die ouer, jy is die leier, jy is die voorbeeld van die verskil tussen reg en verkeerd. En dit is nie maklik nie. Maar jy moet bewus wees van wat jy doen en sê ...jou kinders neem alles soos ’n spons in. Kry ons hierdie fondasie, hierdie kern reg, sal talle probleme opgelos word. Kinders bly nie lank genoeg kinders nie . . .

Denise tydens SARIE Kos-fotosessie. FOTO Donna Lewis vir SARIE Kos 2016.

4. Wat gee jou hoop?

Dis die moeilikste vraag om te beantwoord te midde van wat in 2020 gebeur het. Ek dink dan aan die John Lennon-aanhaling: Everything will be okay in the end. If it’s not okay, it’s not the end. Een voet voor die ander. Ja, kyk agtertoe . . . leer van die verlede, watdie lewe jou tóé geleer het. Maar kyk vorentoe, iewers gaan dit oukei wees. Dís wat my hoop gee.

5. Die akteur Edwin van der Walt vra: Hoe baie van jouself, jou persoonlike binnewêreld en eie lewenservaring bring jy na jou karakters?

Baie, maar ook nie alles nie. Jy moet jouself, jou eie emosies beskerm. Verstaan jou karakter, gaan grawe binne jou, maar beskerm jouself. Observeer eerder die wêreld, die mense daarbuite, hulle huisves geheime, hulle leer ons.Jy moet leer om te kyk en te luister.

Die akteur Edwin van der Walt het spesiaal vir Denise ’n vraag gevra. FOTO Instagram / Edwin van der Walt


Lees ook wat die ander ikone sê:

Koos Kombuis

Pretty Yende

Anna-Mart van der Merwe

Dr. John Kani