FOTO Local Truth

Vertel meer oor die kykNET-program Dierepraters”, wat jy Hettie Richter, ’n dierekommunikeerder, aanbied. Waaroor gaan dit en hoekom moet kykers dit kyk?

Dierepraters is ’n program vir diereliefhebbers.  Dit wys alternatiewe maniere hoe om diere te help, asook die verkenning van verskeie maniere rakende dierekommunikasie. Kykers kan verwag om saam met my op ’n interessante en opwindende reis te gaan. Die verfilming van die reeks het ’n dieper nuuskierigheid, verstaan en liefde in my gekweek vir diere en ek glo dit sal dieselfde doen vir kykers.

 

Jy het ’n groot liefde vir diere en het die geleentheid gehad om vir drie jaar in die teenwoordigheid van leeus te wees, danksy die verfilming van Mia and the White Lion. Watter lewenslesse kan die mens by leeus leer?

Dit was die grootste avontuur van my lewe en ek sal altyd dankbaar wees vir hierdie geleentheid. Die verfilming was eintlik net ’n bonus gewees, ek wou omtrent elke oomblik net by die leeus wees. Hulle was vir drie jaar my beste vriende gewees. Leeus het ’n magiese teenwoordigheid. Hulle is nie bang nie en stap met outoriteit. Jy kan nie anders as om hulle te respekteer nie. Ons as mense kan baie by leeus leer danksy hul attitude. Leeus weet hulle is leiers en daarom weet almal om hulle dit.  

Watter invloed het die rol van Mia Owen op jou lewe gehad? En watter ooreenkomste deel julle?

Ek sien al my karakters as vriendinne en raak baie geheg aan hulle. Mia was besonders spesiaal gewees, want ons albei het die liefde vir leeus gedeel. Sy het my geleer om op te staan vir dit waarin ek glo en nie bang te wees om die regte ding te doen nie. 

 

As jy enige dier kon gewees het. Wat sou jy wees en hoekom?

’n Leeu. Eerstens, om hulle manier van dink te verstaan. Leeus is baie sosiaal en ek kan baie daarmee vereenselwig. Hulle sorg vir mekaar. Hulle is ook so sterk, maar terselfdetyd ook sag. Leeus dra hulself met trots en is natuurlike leiers.

FOTO Unsplash / Ansie Potgieter

In SARIE se Januarie/Februarie 2021 het jy verklap dat jy graag op ’n sangloopbaan wil fokus. Hoe vorder daardie droom en het jy enige opwindende nuus om te deel?

Ek was sedertdien baie besig met die verfilming van ander projekte wat ek binnekort mag deel. Ek hou nogsteeds vas aan daai droom, skryf nog liedjies en neem nog covers op.

Jou sosiale media-platforms is gevul met inspirasies en dikwels boodskappe van bemoediging. Wat is daai een sê-ding waaraan jy koester as jy deur moeilike tye gaan?

Daar is ’n hele paar goed wat ek gereeld vir myself sal sê. Ek glo mens gaan deur verskillende seisoene in jou lewe ... Vir nou is die sê-ding: “We won’t be distracted by comparison if we are captivated by purpose.” Dit beteken vir my om te fokus op individuele doelwitte en nie dit te vergelyk met ander of wat jy selfs op sosiale media sien nie.

FOTO Instagram / Daniah de Villiers

Kyk Daniah en Hettie se Die Groot Ontbyt-gesprek:

Skakel elke Woensdag om 20:00 in op kykNET (DStv-kanaal 144).