Op haar Instagram-blad beskryf sy haarself as “travel, food and cat lady”. So ín my kraal.

Haar ma is een van Suid-Afrika se bekendste glanspersoonlikhede; haar pa besit ’n groot diamantmaatskappy, Daneel Diamond Manufacturers, op Stellenbosch.

Kyk jy na háár lewe, is dit duidelik Roeline Daneel is ook ster-materiaal. Maar moenie dink ’n flashy leefstyl is haar ding nie. Sy skitter sónder vertoon.

Grendeltyd was Roeline se besigste nog. Nes haar ouers, ma Elsabé Daneel, aktrise en kommunikasiekenner, en pa John (hulle is in 2014 geskei), doen sy haar ding. Kom wat wil. Sy verwys na Elsabé en haarself as “pliggies”. Haar woord vir mense met ’n groot pligsbesef. Sy was op haar dag hoofmeisie vandie Hoër Meisieskool Bloemhof op Stellenbosch.

Waar ons koffie drink in ’n tuin in Kaapstad, lyk sy gemaklik-stylvol in’n los, wit rok met swart polkakolle, wit sneakers en ’n mosterdkleurige jurk.

Haar wange gloei.

Daar is vir seker trekke van Elsabéwanneer sy praat. Albei druk hulself goed uit en is ewe lief vir hul werk. Maar Roeline is ietwat meer ingetoë as haar ma.

Augustus het haar skoon uitasem gehad, vertel sy. Sy het gespeel in die kykNET-komediedrama Kompleks, Netwerk24 se aanlyn blitssepie Duiwelspoort, asook Arendsvlei,’n telenovelle (ook vir kykNET). Boonop was sy in ’n RSG-radiodrama, Die wildedruif val, gegrond op ’n ou P.H. Nortjé-roman.

So amper moes sy ons onderhoud afstel omdat haar en wederhelf Werner Lotz, ’n argitek, se Alexa (1) siek was. Sy erken: “Ons was bederf om my ma tydens die inperking by ons te hê om na Alexa te help kyk.”

Haar agting vir Elsabé is mateloos. “Ek en Werner sou soms cabin fever kry, maar niks kry haar onder nie.” Elsabé sou in die tuin uitkamp met haar stoel en ’n boek of met Alexa speel. “Sy sou in ’n konsentrasiekamp kon oorleef.”

Syself is nie altyd so positief nie, bieg Roeline.

“Eenkeer, toe ek klein was, het ek vir my ma gesê ek glo hoe jy op 1 Januarie wakker word, só sal jou hele jaar wees.” En só staan Roeline op die eerste dag van die nuwe jaar op – en haar hele bed is bestrooi met roosblare . . . “Dís die tipe ma wat ek het.”

Sy is dankbaar sy het nie ’n prokureur geword soos sy eens wou nie. “My pa het vir my gesê ek moet my met mooi dinge omring. Goed wat my gelukkig maak. Hy het gesê in die regswêreld is daar soveel hartseer. Tot met sy aftrede het sy werk hom vervul.”

Nadat sy na die Universiteit Stellenbosch is en ’n week lank ’n algemene BA-graad gevolg het, sitsy een dag in ’n enorme klas en dinkdis interessant, maar sy kan dié dinge self oplees. Sy wil iets prakties volg.En so skryf sy in vir drama. Met ’n honneursgraad in drama én joernalistiek (albei cum laude) die uiteinde.“Drama en joernalistiek het soveel raakpunte. Albei dissiplines probeer sin maak van wat mense dryf om sekere besluite te neem en hoekom hulle op ’n sekere manier reageer,” verduidelik sy haar belangstellings.

Vandag is sy ’n gerekende aktrise. Sy is geloof vir haar spel in rolprente soos Skoonheid (2011), asook Krotoa (2016) waarvoor sy vir ’n SAFTA (South African Film and Television Awards) as beste vroulike byspeler vir haar rol as Jan van Riebeeck se vrou, Maria, benoem is.

“Maar jy is nooit daar waar jy kan sê ‘ek het dit gemaak’ nie . . .” keer sy.Op televisie pryk haar naam in al wat ’n rolverdeling is: Die Boland Moorde, Fynskrif, Die Byl, Die Boekklub, Sara se Geheim, noem maar op.

“Maar ek vóél nie asof ek al baie vir televisie gedoen het nie . . .”

Radiowerk is nog ’n groot liefde.

“Eenkeer toe ek my ketel gaan ingee vir herstelwerk, het iemand my stem herken van ’n radiodrama,” vertel sy verwonderd.

Die joernalistieke gene trek sy terug na oupa Piet Daneel, op sy dag redakteur van Landbouweekblad. En “Oumatjie Daneel” (Jacoba Magdalena) was Die Burger se eerste vroulike skeepsverslaggewer.

Haar ma, weer, het hulle tydens hul grootwordjare gereeld vertel van haar onderhoude met interessante mense soos die Walliese sangeres Shirley Bassey, IVP-leier Mangosuthu Buthelezi, liriek- skrywer Tim Rice en skrywer Dalene Matthee vir aktualiteitsprogramme soos Uit en Tuis, Profiel, Potpourri, Kaap om 6... “Dit was ’n huis vol nuus.”

Maar as sy régtig eerlik moet wees, was die grootste invloed op haar keuse om joernalistiek te studeer dalk dié van die ‘‘joernalis” Carina Human (gespeel deur Karin Fourie) in die televisiereeks van die laat 80’s Ballade vir ’n Enkeling. “Almal het haar geken,” lag Roeline.

Haar broers, Xander en Pieter, hetdie leisels oorgeneem by hul pa se onderneming. “Ons is ’n hegte gesin en dit was tough om my ouers se egskeiding te verwerk. Hulle was 35 jaar getroud.

”Kort daarna het haar pa ’n ernstige beroerte gehad. “Maar ons het ’n mooi les by my ma geleer. Sy loer steeds by hom in, kyk na sy medikasie, gee kos vir sy hond Buffel . . . Hulle is steeds ‘familie’. Hy bly naby haar op Stellenbosch. Selfs al is hulle nie meer saam nie, eerbiedig hulle op hul manier die huweliksbelofte van ‘vir ewig en altyd’.”

Roeline se dierehart word week wanneer sy dink aan haar geliefde kat Evie, haar eerste “baba”, wat haar so baie van verantwoordelikheid en liefde geleer het. Hy is op 5 Maart 2020 dood.

Op Instagram skryf sy ’n brief aan hom op die dag van sy dood. Nou is nog net Seun, haar ander kat, oor. Die geselse loop na 2021. In Januarie is Roeline in ’n kykNET-komediefliek, Kantlyn, te sien. Haar rol een van die ouers wat tydens ’n bulletjierugby- wedstryd langs die veld soos kinders tekere gaan. Sy hoop die toneelstuk My mense is die kluts kwyt (is groot), wat in 2020 by die Woordfees op Stellenbosch gedebuteer het en waarvan drie speelvakke weens die pandemie gekanselleer is, is weer op die planke. ’n Rol in ’n televisie-dramareeks wat gekanselleer is, gebeur hopelik ook nou, en binnekort hoor ons haar stem in ’n oorgeklankte Turkse sepie, Begeertes, op e.tv.

Ná twee uur besef ek ons kon oor véél meer as reis, kos en katte gesels . . .

Was jou rol as Mitzi Schoeman, die haarkapper en skinderbek in Netwerk24 se blitssepie Duiwelspoort, ’n leerproses?

Ek voel amper soos ’n pionier, want dis nog ’n nuwe genre. [Handrie Basson het dit geskryf en Nina Swart was die regisseur.] Elke episode duur slegsvyf minute en mense kyk dit op hul slimfone. Die nuwe reëls van dié genre is uitdagend, want die begroting is klein. Ons moes 48 episodes in agtien dae skiet. Ons het van Welgemoedtot Malmesbury en Stellenbosch verfilm. Daar was baie akteurs. Dit is ongelooflik mooi. Maar die wonder van Suid-Afrikaners is dat hulle baie met min regkry. Almal ken ’n niggie of’n pêl . . . En kort voor lank help mense mekaar en bespaar só koste en tyd.

Hoe is die kykNET-komedie- drama Kompleks, wat vanaf September tot November uitgesaai is, tydens die grendeltyd geskiet? Vertel ’n bietjie meer oor jou rol?

Louis Pretorius het dit in Mei 2020 begin skryf. Al die tonele is in die omgewing van Stellenbosch en die Zevenwacht-wynlandgoed geskiet. Daar was geen ekstras nie, niemand het gesoen nie, als het streng volgens Covid-protokol verloop. Daar is ’n jong Mika, vertolk deur Melissa Myburgh, en ek is die ouer Mika, met ’n kind van sestien. My karakter het al lewenservaring en is minder woedend as die jonger karakter –sy kyk terug op haar lewe. Vir kontinuïteit was daar selfs rekwisiete van die jonger Mika in die ouer Mika se studeerkamer.

Hoe het jý Covid-19 tot dusver hanteer?

Op 15 Maart, met my laaste optredeby die Woordfees [op haar 35ste verjaardag], ry ons terug stad toe en Tafelberg brand. Pres. Cyril Ramaphosa het kort daarna die noodtoestand aangekondig. Dit was ’n soort apokaliptiese gevoel. ’n Klein groepie feesvoos akteurs het, terwyl ons myen [mede-akteur] Ludwig Binge se verjaardag vier, gewonder wanneer ons weer sal werk. Aanvanklik het ons dit as ons burgerlike plig beskou om aldie grendelreëls na te kom. Ek is weke lank nie winkel toe nie. Nou het ek 360 grade geswaai. Die lewe moet aangaan. Ek is darem nie onverskillig nie.

Sal jy altyd in Suid-Afrika wil bly?

Daar is ’n besonderse tekstuur aan alles – hoe die lug ruik, die plante, hoe mense se stemme klink, die gedeelde verwysingsvelde. Daar is soveel ervarings binne ’n radius van twee uur. Ons was onlangs in die Tankwa-Karoo en kort daarna op Stanford . . . Dit voel asof ons twee verskillende lánde besoek het.Albei my ouers was leerders aan die Hoërskool Jan van Riebeeck. My ma het in ’n drieslaapkamerwoonstel in Tuine grootgeword en raai na watter skool gaan Alexa eendag? Dis ’n stylvolle stad, die mense is mooi . . . hulle praat mos van “agter die druiwe- gordyn”. Internasionale agentskappe kom skiet graag hier advertensies. Dis ’n sprokieslewe in die stadsmandjie.Ons het ’n jaar gelede – ek hoog- swanger – uit ons woonstel getrek na ons Tuine-huis, wat in die 1930’s gebou is. Dankie tog vir al ons vriende se hulp. Vroeër het ons geïrriteerd geraak met mense wat die land verlaat, maar wanneer jy ’n kind het, verander jou lewensuitkyk. Ons is bekommerd oor die ekonomie, die geweld teen vroue . . . Ek probeer deesdae amper afstand van die nuus kry en lees dit minder as vroeër. As ons die land sou verlaat, sou dit om Alexa se onthalwe wees. Maar ons sal altyd soos ontheemdes in die vreemde voel.

Hoe belangrik is veelsydigheid in jou bedryf?

Jy kan nie bekostig om net op een ding te fokus nie. ’n Advertensie wat ek gedoen het vir Gain, ’n Amerikaanse waspoeier, het ons gedra deur die grendeltyd. Ek doen twee tot drie advertensies per jaar want die betaling is goed. Die meeste akteurs het aanvullende werk. Hoe meer ’n mens doen, hoe meer help dit jou om afgeronde karakters te vertolk. Ek het al aanbiedings van korporatiewe video’s vir Damelin-kollege gedoen, was gelukkig om in verskeie kortfilms te speel en in 2014 het ek in die Duitse rolprent Zum Teufel mit der Wahrheit (Na die duiwel met die waarheid) gespeel. [Sy praat Duits.] Van my lekkerste herinneringe is kleintyd toe my ma vir ons voorgelees en ons die Lindense biblioteek besoek het. Ek is steeds mal oor lees . . . Nou doen ék voorlesings vir RSG en die app BiB! Ek het ook al navorsing en regie vir die SABC2-joernaalprogram Pasella gedoen. Dit sal lekker wees om in die toekoms ook aanbiedingswerk op televisie te doen.


Hoekom werk jou en Werner se verhouding?

Ons het mekaar op die regte tyd ontmoet. In ons vorige verhoudingswas ons aangetrokke tot interessante, maar chaotiese mense. Ons het ons eie trouformulier geskryf en nie met ons troue in 2016 beloof om tot die dood ons skei getroud te wees nie. Ek dink nie die mens is net vir een maat gemaak nie. Maar omdat ons dit insien, wil ons dit juis probeer deursien en respekteer ons mekaar. Hy is ’n baie betrokke pa, ruil doeke om, doen nagdiens, want ek het baie slaap nodig en hy kom met minder oor die weg. Ons het baie raakpunte. Of ons nou reis na Stanford of Europa, is dit lekker om onsself te bederf en ’n goeie bord kos saam met ’n bottel wyn te geniet. Soms sit ons net op die trappie by ons huis se voordeur en gesels. Hy waardeer teater en ek geniet dit om meer van argitektuur te leer.

Wat laat jou beter voel as jy die dag ‘af’ is?

Jan Grobbelaar, my ma se pa, was baie na aan my en jare ná sy dood is hy steeds een van my gunstelingmense. Hy het altyd gesê: “Jy lyk elke dag mooier en vandag lyk jy soos môre.” Dit wasas kind vir my altyd so oulik en slim. As ek die dag minder mooi voel en die geborgenheid van my oupa wil aanvoel, dink ek daaraan.