Hy was twee jaar in die Laan, maar Steyn sal hy vir baie mense bly, lag Ivan. “Ek het nie eens meer hare nie, en steeds, veral op kleiner dorpe, sal ek rondloop en hoor hoe mense sê, ‘Daar’s Steyn! Daar’s Steyn!’. Ek het in 2001 begin, toe 7de Laan ’n absolute fenomeen was. Dit het my ’n ongelooflike platform gegee, veral omdat ek geen formele opleiding as akteur het nie.”
Hy het daarna ook baie bekend geword vir sy rol as Koert in Egoli. In 2019 was hy te sien in die reeks Alles Malan, maar deesdae werk hy baie minder as akteur en het byna meer bekend geword as fietsryer. Hy het al vir liefdadigheidsprojekte van die Kaap na Kaïro gery, en van Beijing na Istanboel.
“Nou sien ek myself net as akteur wanneer ek op stel is. Ek is ook ’n vennoot in ’n maatskappy wat aanvullings verkoop, Happy Joints. Verder is ek maar ’n free spirit. My groot droom is om ’n jaar lank met my karavaan rond te reis.”