Liefde blom steeds in die hart van Clanwilliam vir ’n Rooibosboer en sy Mooinooi. En ja, die tannies op die dorp keer hulle steeds voor! Maar hoe dan anders? As hulle én die res van Suid-Afrika gesien het, hoe Kupido ’n kolskoot skiet met dié oulike paartjie. 

Verlede jaar het Willem Pool op die gewilde kykNET-reeks Boer soek ’n vrou verskyn. Dis op hierdie pasmaatprogram waar hy vir die onderwyser Sanel Prinsloo, oorspronklik van die myndorpie Mooinooi, ontmoet het. 

FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo

Terwyl die res van Suid-Afrika in grendelstaat was en mense opgekrop in hulle huise gesit het, het Willem voort geboer op die plaas Langbergpunt - hy moes. “Hy was eintlik besiger as ooit,” vertel Sanel. 

Maar vir Sanel was inperking ’n aanpassing. “Ek was gewoond aan skoolgee en toe moes ek skielik by die huis wees. En mag niemand sien nie. Ek is ook nie ’n wafferse kok nie,” bieg Sanel.

Maar dié Mooinooi ken nie van handdoek ingooi nie. “Ek moes maar leer om aanlyn skool te gee. Paar huistake aan te pak. Ek het bietjie probeer bak en brou. Hier en daar kon ek darem ’n dis vir die man gee om te eet.”

Sy skerts: “Die lockdown-tydperk het my darem ’n beter huisvrou gemaak.” En Willem beaam dit speel-speel. “Ek het gehoor ek is soos goeie rooiwyn, ek raak beter met tyd. Só dis seker ’n goeie ding,” sê Sanel laggend.

FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo

Ja, inperking was in die begin ’n uitdaging vir hul verhouding. “Maar glad nie op ’n slegte manier nie. Die kere wat ek en hy mekaar in die verlede gesien het, was so ses weke uitmekaar uit.”

En toe Sanel aan die begin van die jaar in Leipoldtville begin skoolgee, het hulle mekaar naweke gesien, of soms een of twee keer in die week. 

“Vir die eerste keer kon ons mekaar lank aaneen sien, en daaraan moes ons gewoond raak.”

Soos in enige verhouding was daar klein jakkalsies. “Soos ek wat die skottelgoed op ’n sekere manier wil was,” skerts Sanel.

Maar nie sy óf Willem wil uit hierdie verhouding klim nie. Daaroor is ’n besliste sekerheid. “Hierdie tyd het ons goed gedoen. Ons het goed van mekaar geleer, wat ons nie geweet het nie. En dit was lekker om dit sáám te kon deurmaak en deurleef.”

FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo

Die paartjie het ook nou baie herinneringe saamgebou. En ja, Tessa en Leah, die twee skaaphonde, en Lisie, die huiskat, was deel daarvan. “Herinneringe wat ons eendag as stories kan oorvertel.”

Willem-hulle word steeds deur vreemdelinge voorgekeer en dis eintlik vir hulle lekker! “Veral om geselsies aan te knoop. ’n Mens kan dadelik sien, as iemand jou nou herken het ... hulle glimlag so skaam of hulle stap vier keer verby jou.”

Maar o wee, hulle nooit aan die “celeb-status” gewoond kan raak nie. “Dit sal altyd vir ons iets vreemds bly. Maar dis tog lekker as mense met jou wil gesels.” 

Die paartjie reken Suid-Afrikaners moet hierdie drie plekke in hul land gaan verken: Onseepkans in die Noord-Kaap, Tsitsikamma in die Oos-Kaap en Innie Mikkie by Langbergpunt. “Jy sien die hele Weskus ... o en daar is dan niks so lekker om ’n sundownertjie daarbo te geniet nie.”

FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo

Só vang jy plaasliefde vas

Die fotograaf Le-Handré Havenga van Kilig Photo het onlangs pragtige foto’s van die paartjie geneem. “Ek was mal oor die plaasliefde van Sanel en Willem,” sê die talentvolle fotograaf. Sy wou juis hul persoonlikhede vasvang, daarom was die veld en vellies ’n vereiste. 

Dis duidelik dat Sanel en Willem gemaklik voor die kamera was. Maar hoe gemaak as jy kamerasku is? “Ek stel eers voor dat daar ’n lekker koppie boeretroos gedrink word en ’n geselsie aangeknoop word, voor die fotosessie begin, sodat almal eers gemaklik is. Dit help my ook as fotograaf om die paartjie se menswees te leer ken en presies te weet hoe ek die fotosessie gaan benader.”

Besoek Kilig Photo se webtuiste of volg haar op Instagram en Facebook.

FOTO Kilig Photo
FOTO Kilig Photo