Hulle gee hul alles, speel hul hart uit, en wanneer hulle in die Groen-en-goud op die veld uitdraf teen die wêreld se bestes, hou ons asem op. ’n Nasie se hoop is op hulle. Soos nou in Japan, waar hulle meeding om die gesogte Webb Ellis-trofee. Maar wie is die Bokke by die huis, wanneer hulle ontspan en tussen hul geliefdes is? Wat is die dinge wat hulle laat tiek? SARIE het gaan uitvind.

Wie sou kon dink die agsteman Duane Vermeulen het gaan swot om ’n sjef te word voor hy deur die Leeus gevra is om vir hulle rugby te speel?

“Hy kry sy liefde vir kosmaak van sy ouma,” vertel Ezel, sy vrou en dansonderwyser. “Hy is ook mal oor allerlei gadgets.”

Hulle ken mekaar al dertien jaar, waarvan hulle sewe getroud is. Hy noem haar “Bokka” en sy vir hom “Lief”. Hulle het twee kinders, Anru (6) en Zian (2).

“Hy sou dalk ’n sjef of boer wou wees as hy nie op die rugbyveld was nie, maar hy maak maar selde kos. Ek bederf hulle met my geregte,” lag sy.

Hy verkies haar met lang hare, gemaklik, met of sonder grimering: “Net myself.”

En hy hou van lekker ruik – Bulgari Man Wood Essence. “Ons besoek ook graag die spa saam. Hy het ’n lieflike sagte vel en ek sorg dat hy elke dag ’n goeie sonroom gebruik. O ja, hy loooooooove mooi skoene en het baie meer pare as wat ek het.”

Sy klein plesiertjies is die SA rockgroep Sunset Sweatshop, braaivleis en “sy mense”, en nagereg soos malvapoeding of ’n vlaskyf, verklap sy.