Hulle gee hul alles, speel hul hart uit, en wanneer hulle in die Groen-en-goud op die veld uitdraf teen die wêreld se bestes, hou ons asem op. ’n Nasie se hoop is op hulle. Soos nou in Japan, waar hulle meeding om die gesogte Webb Ellis-trofee. Maar wie is die Bokke by die huis, wanneer hulle ontspan en tussen hul geliefdes is? Wat is die dinge wat hulle laat tiek? SARIE het gaan uitvind.

Die platejoggie Iva Ristik, die losskakel Elton Jantjies se Griekse verloofde, kan nie wag om noedels vir ontbyt, middagete en aandete in Japan te eet wanneer sy hom by die Wêreldbeker ondersteun nie. Sy het hom in 2014 in dié einste land, waar sy toe nog gewerk het, ontmoet.

“Ons kinders is dol op Japan en het eintlik daar grootgeword. Sedert 2014 is ons elke ses maande in Tokio vanweë Elton se rugbyverpligtinge.”

Hul “ritueel vir goeie geluk” is ’n video-oproep of SMS net voor hy op die veld draf.

“Elton is ’n wonderlike verloorder. Hy dink dadelik aan strategieë om die volgende wedstryd te wen.” Ná elke wedstryd wat die Bokke pas gespeel het, sit hulle die kinders – Elton Junior (EJ, 4), Noah (2½) en die kleintjie, Leandro Lee (5 maande in Oktober) – in die bed, en kyk dan weer na die wedstryd op die televisie terwyl hulle eet.

Saterdag is die enigste aand wat hulle ná tien gaan slaap.

Daar is ’n paar voordele wanneer hy oorsee toer, vertel sy: Hy koop vir haar mooi sonbrille en juweliersware.

“Van Argentinië af bring hy die wonderlikste sjokolade wat ons gewoonlik binne ’n dag of twee verslind.”

Iva sien daarna uit om saam met ’n lekker groep Leeus-vriendinne, wat ook hul manne ondersteun, inkopies in Japan te doen.

“Elton hou ook daarvan om unieke klere in verskillende lande te koop. Hy is avontuurlik, solank dit net nie inmeng met sy oefenprogram nie. Hy koop ook oorfone reg oor die wêreld – en verloor dit gereeld.”