Kleintyd, hoog in die bome – sy was vreesloos – het sy groot drome gedroom. “Ek het gevisualiseer hoe ek eendag ’n model, aktrise en TV-aanbieder gaan wees. Maar ek moes geduldig wag. Dit het nie oornag gebeur nie . . .”
Marciel Hopkins, die sesde aanbieder van kykNET se werklikheidsreeks Boer soek ’n vrou, nou in die dertiende seisoen, lyk die ene sofistikasie in ’n swart denimbroek en bypassende baadjie, roomkleurige T-hemp en wit sneakers. Sy drink ’n energiedrankie in ’n koffiewinkel in Kaapstad. Haar lang hare blink, haar vel is vlekkeloos en sy dra ’n smeerseltjie pienk lipglans (Dior!) en maskara.
Sy gesels gemaklik en daardie blou oë kyk reguit na jou wanneer sy praat. Op 28 het sy al duidelik lewenservaring opgedoen. Sy is immers sedert 2016 een van Suid-Afrika se suksesvolste internasionale plusgrootte-modelle (sy hou nie van dié benaming nie, sy verkies die woord curvy).