Leer ken vir Carol ook in SARIE se November/Desember-uitgawe, landwyd op die winkelrakke!

SARIE Voorbladgesig is trots geborg in samewerking met Isa Carstens Akademie en INOAR.

Wat is jou Kersfees-tradisie?

Hierdie jaar beplan ons om net gesellig en rustig by die huis te wees. Gewoonlik reis ons oorsee oor Kerstyd, maar met al die kronkels in die pad hierdie jaar, sien ons uit na ’n Kerstyd saam met familie en goeie vriende. Die meeste van ons tradisies gaan rondom kos! Almal kom saam in die kombuis en help kosmaak. Dis ’n heerlike kuiertyd oor ’n lekker glas koue sjampanje.

Carol van der Linde
Carol van der Linde FOTO Marzanne Schoeman

Wat is jou Nuwejaarsvoorneme vir 2021?

My planne vir 2021 is om ’n nuwe webblad te begin waar jy ontwerpers-rokke kan huur teen ’n fraksie van die prys wat dit jou sal kos om te maak. Dit gaan skraps in ons ekonomie op die oomblik, maar ons wil tog almal nog pragtig voel én lyk op spesiale geleenthede. Ek dink daaraan om dit Carol’s Closet te noem. Ons het reeds met die ontwikkeling daarvan begin.

Ek beplan ook om meer te reis vir werk, veral na plekke waar ek nog nie was nie. Ek geniet dit vreeslik om te konsulteer aan besighede wat hulle handelsmerke of kommunikasie sterker wil maak. Ek wil ook graag ’n halwe-marathon hardloop, dus wil ek goed na my gesondheid kyk om dié doelwit te behaal.

FOTO Marzanne Schoeman
FOTO Marzanne Schoeman

Wat het jy nuut geleer vandat jy jou Voorbladgesig-reis begin het? 

Die SARIE Voorblad-gesig reis het my geleer dat die wêreld eintlik ’n baie goedhartige plek kan wees. Ek het soveel boodskappe van gelukwensings en bemoediging gekry, selfs van mense wat jy nog nooit ontmoet het nie. Dit wys net vir jou, jy kan ander bemoedig deur jou eie reis te deel, en hulle kan jou bemoedig deur die kleinste gebare van ondersteuning.

Ek het ook geleer dat dit belangrik is om jou kroon standvastig op jou kop te dra, elke dag. Veral as dit moeilik gaan, moet jy nie jou kop te laat sak nie, maar trots die uitdaging in die gesig te staar.

Carol van der Linde FOTO Leana CR

Wat beteken ’n salon-behandeling vir jou?

Dit is ’n groot bederf vir die siel! Jy skakel vir ’n uur af van jou sosiale media, te-doen-lysie en verantwoordelikhede, om net te fokus om nutriënte terug te ploeg in jou vel. Absolute rustigheid kom oor jou, en as jy uitstap, gloei jy opnuut met selfvertroue.

Wat weerspieël jou hare van jou?

My hare weerspieël my persoonlikheid. Op die oomblik is dit kort, skouer-lengte, ’n vars verandering van my lang hare wat ek gewoonlik dra. Dit is dieselfde as die tydperk in my lewe. Een waar ek ’n nuwe reis aangepak het – SARIE voorbladgesig – en oop is vir nuwe ervarings in die lewe. Ek sukkel met dun hare, maar gelukkig is daar deesdae vele produkte en dienste wat jy kan gebruik om daarmee te help. Aan die ander kant, is ek baie gelukkig met die kondisie van my hare.

Haarsorg is naas velsorg baie belangrik. Dis een van die eerste dinge wat mense van jou raaksien, in persoon of in ’n foto. Ek maak seker om weekliks ’n masker op my hare te sit, nes ek sal doen met my vel. Ek probeer ook om nie te veel hitte te gebruik op my hare nie, maar as ek doen, altyd ’n beskermer aan te sit. Dis soos SPF vir jou hare!

Carol van der Linde
Carol van der Linde FOTO Marzanne Schoeman

Jou boodskap aan jou jonger self?

Jou waarde word nie bepaal deur ander mense nie. Jy is genoeg nes jy is. Jy het vlerke om te vlieg. Wees gelukkig met jouself. Wees lief vir jou heupe, dit gaan jou nog ver dra. Dit is oukei om nie perfek te wees nie.

Hoe bly jy positief oor die toekoms?

Ek is van nature ’n baie positiewe mens, daar is min dinge wat my onderkry. Dis nie te sê dat ek nie my af-dae het nie, maar dis juis op daai dae wat ek myself herinner aan al die goed wat al in my lewe gebeur het. En hoe geseënd ek eintlik is. Ek het hierdie jaar ook ’n visie-bord gemaak om gefokus te bly en om positiewe aksies na te jaag. En ja, om SARIE-voorbladgesig te wen is op die bord! Ek het deur die jare geleer dat jy nooit jou ideale sal bereik as jy negatief dink of optree nie. Hoe jy jouself optel en aangaan as dinge skeefloop, is die belangrikste.

Carol van der Linde FOTO Leana CR
Carol van der Linde FOTO Leana CR

Wat is jou gunsteling-aanhaling?

Die gesegde wat baie verandering in my lewe gebring het, is: “A man who wants to lead the orchestra must turn his back on the crowd”. Dit het ’n aansienlike impak op my gemaak. Jy kan nie omgee wat “die crowd” van jou dink as jy ’n simfonie-volle lewe wil lei nie. Jy moet vertroue in jou vaardighede hê om die beste lewe geniet. Dié mense rondom jou sal jou uniekheid en die musiek wel hoor in hoe jy jou lewe lei as ’n individu.

Carol van der Linde FOTO Marzanne Schoeman
Carol van der Linde FOTO Marzanne Schoeman

Wat beteken SARIE vir jou?

SARIE beteken vir my vroulikheid, vriendin-geselsies en sprankelende vrouens. SARIE is klassiek en tydloos. Sy stel my bloot aan nuwe mense, produkte en sienings wat my lewe verryk.

Wat beteken Afrikaans vir jou?

Afrikaans is my moedertaal. Vir my beteken Afrikaans ook goeie herinneringe – dit is die taal waarin Kersvader vir my ’n pop gebring het, en die feëverhaal-boek vir my verjaarsdag. Dit is ook die taal waarin ek die onderrig gekry het en wat my gevorm het in die sakevrou wat ek vandag is. Boonop is dit die taal waarin ek trou beloof het aan my man voor God, vriende en familie. My taal klop soos bloed deur my are. 

My gunsteling-woord in Afrikaans is “lekker”, want om Afrikaans te praat is mos lekker!