Hoewel Charlotte bemarking gestudeer en die wêreld gesien het as lugwaardin, wou sy nog altyd in skoonheid spesialiseer. Sy het ’n kwalifikasie in somatologie gekry en vandag beoefen sy haar droomwerk by ’n estetiese laserkliniek.

“Dit is so lekker om vir mense te help en om mense te transformeer deur my werk. Mense kom na die laserkliniek met probleme en ons kan vir hulle sigbare resultate bied.”

Charlotte Timms in SARIE se September-uitgawe FOTO
Charlotte Timms in SARIE se September-uitgawe FOTO Leana Clunies-Ross

’n Vriendin het vir Charlotte genomineer vir SARIE Voorbladgesig, en nou maak sy as finalis nóg ’n droom waar. “Ek is ’n ma en entrepreneur, en nou kan ek die SARIE-leser inspireer.”

Ma-wees is Charlotte se grootste vreugde. Sy raak emosioneel wanneer sy oor haar kinders praat. “Ek het vier seuns en is baie trots om hul ma te wees. Elkeen van hulle is uniek en hulle bring so baie vreugde in my lewe. Ek ry saam met hulle fiets en klim saam met hulle boom.”

Haar eie ma is haar rolmodel. “My grootste inspirasie is my ma. Sy was ’n enkelma wat vir ons kinders net die beste gegee het, baiekeer ten koste van haarself. Sy is iemand wat alles van haarself gee en mense altyd help, selfs al het sy nie baie nie. Ek streef daarna om ook daar te wees vir my naastes.”

Agter die skerms met Charlotte Timms
Agter die skerms met Charlotte Timms

Die lewe het al baie lesse vir Charlotte geleer. “Ek het geleer om te leef vir nóú. Moenie dat môre se onsekerhede jou vreugde steel nie.”

Ander mense moet ook nie jou lewenslus inkort nie. “Jy moet jou eie drome en jou eie ideale hê. Jy kan nie jou hoop en identiteit op ander mense baseer nie.

“Máák tyd vir mense vir wie jy lief is. Ek’t lank gevat om my ouma se dood te verwerk en wens elke dag ons kon meer tyd saam hê.”

Hoekom SARIE Voorbladgesig? “Ek het nog nooit ’n SARIE-voorblad gesien wat nie met my praat nie. SARIE is ’n inspirasie vir vroue. Die Voorbladgesig is ook nie noodwendig model-mooi nie, maar sy praat met die Suid-Afrikaanse vrou. Sy beeld vrouwees uit. Dit sal vir my ’n groot voorreg wees om met inspirasie geassosieer te wees”

Ontmoet vir Charlotte en nóg SARIE Voorbladgesigfinaliste in SARIE se September-uitgawe. Die wenner van vanjaar se wedstryd verskyn op die Oktober-voorblad.

Agter die skerms met Charlotte Timms

Só is Charlotte voorbladmooi ...

PARFUUM Jimmy Choo EDP, ’n vrugtige chypre-blomgeur

INOAR Uitgegroeide haarwortels is verfris met die nuwe salon-kleurreeks verryk met arganolie. Klapperolie op haar haarpunte het intens bevog.

ISA CARSTENS AKADEMIE Elke finalis het ’n omvattende velanalise ontvang en daarna ’n gesigbehandeling propvol antioksidante. 

KALAHARI Elkeen is bederf met ’n lyfafskilfering, voetbehandeling en twee lyfmasserings, asook ’n vitamien C-gesigbehandeling vir ’n helder, fermer vel.

SARIE Voorbladgesig word met trots aangebied in samewerking met Jimmy Choo ParfumsINOAR, die Isa Carstens Akademie en Kalahari Lifestyle