
2020 sou ’n besonderse jaar vir die aktrise en sangeres Christia Visser wees. Dit was vol eindelose moontlikhede, so wyd en oop soos die langpad tussen Laingsburg en Beaufort-Wes. Geleenthede vir haar loopbaan as sangeres én aktrise het gewink. Maar haar grootste avontuur sou in April plaasvind: Om met die liefde van haar lewe, Thomas Webb, te trou.
Maar toe gebeur Covid-19. Suid-Afrika kondig ’n staat van inperking af en Christia-hulle moes hul troue uitstel – die dag waaroor sy al so lank gedroom het. En waarop die liedjie “Kaal voor jou”, wat sy spesiaal vir haar aanstaande geskryf het, sou speel soos sy in die paadjie afstap.
“Dit was en is steeds moeilik,” erken Christia oor die teleurstelling. “Jy het jou goeie en slegte dae. Maar dis eintlik belangrik om te onthou: Dis buite jou beheer. Ten spyte van alles sal dinge wel ten goede uitwerk. Ons het tog mekaar én ons het steeds ons toekoms.”
Thomas sou die liedjie die eerste keer op hul spesiale dag gehoor het. Dit gaan oor hoe jy iemand so ten volle vertrou dat jy bereid is om weerloos voor hom te wees. Dis haar en Thomas se storie.
In stede van op hul troudag, het sy dit vir hom in hul sitkamer gespeel. Sy het kerse aangesteek en sushi bestel voordat sy die liedjie gespeel het. “Dit was privaat en intiem soos dit hoort.”
Die amptelike troue is uitgestel, maar hulle gaan spoedig hul beloftes aan mekaar maak. “Ons trou meer as een keer. Ek sal ’n honderd keer met hom trou.”
Christia is tans te sien in die gewilde kykNET-reeks Fynskrif se derde seisoen. Sy speel die karakter Adele, die “toebroodjiemeisie” wat die klerk Wian (Edwin van der Walt) se hart wen. En by wie Christia baie oor die liefde geleer het. “Geduld. Adele het berge vol geduld en liefde vir Wian, ten spyte van en as gevolg van sy seer en donker kant.”
Kyk die emosionele toneel in die tweede seisoen van Fynskrif:
Vir Christia was dit nog altyd belangrik om eerlik te wees – in alles wat sy aanpak, al is dit hoe moeilik. “Kaal vir jou”, wat môre eksklusief op SARIE.com gehoor kan word, was een van daai eerlike en weerlose rigtings wat sy gekies het om te stap. “Dit is soms moeilik om dit wat ek voel presies om te sit in woorde, om dit oor te gee aan die wêreld. Maar dis vir my belangrik.”
Nes talle ander vroue oor die wêreld heen sukkel sy soms met die gedagte van #JyIsGenoeg, SARIE se 2020-leuse. “Dis beslis iets waarmee ek op ’n daaglikse basis worstel. Dit is belangrik om te glo jy is genoeg, omdat dit waar is. Niemand is jy nie. Jy ís die beste én enigste jy. Nie een van ons is op hierdie aarde sonder ’n doel en waarde nie.”
Hou SARIE.com se platforms môre dop vir Christia se splinternuwe enkelsnit “Kaal voor jou”.