Ons het hom leer ken as Dial September in die TV-reeks Onder engele. En toe as die seun Errol wat diep in Charmaine Meintjies se hart kom kruip het in die SABC2-sepie 7de Laan. Maar oor die jare het Christo Davids bewys watter dinamiese kunstenaar hy is: Akteur, skrywer, regisseur en vervaardiger. SARIE.com het met hom gesels oor die splinternuwe reeks Spoorloos II: Heksejag, wat hy vir kykNET help skryf het. 

Verlede jaar het die regisseur en skrywer Ilse van Hemert hom genader om saam met haar aan hierdie projek te werk. Vir Christo het alles in dié oomblik in plek geval. “Dis een van die grootste geleenthede wat my nog ooit te beurt geval het. Ek sal haar altyd dankbaar wees vir die geleentheid om saam met haar te werk en by haar te leer.”

Só verloop die storie ... 18 maande ná ’n ongeluk wat sy matriekafskeid-metgesel se lewe geëis het, word Adam uit ’n koma wakker. Hy kan niks van daai aand onthou nie. Eintlik het hy slegs herinneringe tot en met sy 10de verjaardag. Die jong akteur Andahr Cotton vertolk die rol van Adam Prinsloo en sy pa, Frans, word deur bekroonde akteur Gérald Rudolf gespeel.

Was dit ’n uitdaging om ’n reeks met só ’n komplekse storielyn te skryf? “Om enigiets te skryf kom met sy eie uitdagings,” sê Christo. “Met Ilse as hoofskrywer was dit effe makliker omdat sy ’n magdom ervaring in storievertelling het. Onder haar leiding het ek as assistent-hoofskrywer verskriklik baie geleer.”

En al was hy in die diep kant ingegooi en moes hy soms spartel om kop bo water te hou, het die muse by hom gebly en het hy nooit die gevreesde skrywersblok ervaar nie.

“As ’n storie na my toe kom deur iets wat ek sien of hoor of ervaar, probeer ek altyd om getrou aan die oorspronklike bron te bly wat my inspireer het. Dit maak die proses vir my ietwat makliker.” 

Lank nadat hy ’n storie geskryf het, spook die karakters steeds by hom en soms sukkel hy om hulle van sy lyf af te skud.

“Dit gebeur ná elke storie met my. Daar is baie emosionele en spirituele beleggings in ’n storie. Dit voel ook altyd of ’n mens dit die heeltyd wil oorskryf, tot jy jouself tot orde roep en aanvaar wat op die bladsy is.”

Hy meen vir skrywers is elke storie soos ’n kind wat jy moet grootmaak. “Dis moeilik om afskeid te neem die oomblik wanneer jy dit oorhandig aan die regisseur. Dis ook een van die redes hoekom ek sommer self die regie van my skryfwerk doen.”

Hy is ’n storieverteller in murg en been. “Dit was maar nog altyd die een wat die hardste met my gepraat het. Om iets nuut te skep is altyd baie exciting. Ek sien altyd baie uit daarna om ’n nuwe idee op papier vas te lê. Om dit oor en oor te skryf tot dit begin reg voel.”

Ook hy ly soms aan die bedrieër-sindroom en moet homself gedurig herinner hy ís goed genoeg. “Ek dink ons almal ly maar daaraan.”

Sy raad? “Vertroue in jouself en jou werk is een van die mees uitdagendste dinge. Dis die vertroue dat wat jy dóén genoeg is, want dis wat jou genoeg laat voel. Fokus op die werk. Dis wat my help.”

Hy is die trotse pa van ’n seun, Elijah. Sy vrou, Cindy, gaan binnekort die lewe skenk aan hul dogtertjie.

Spoorloos II: Heksejag begin vanaand om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).