SARIE Voorbladgesig is trots geborg deur Isa Carstens Akademie en INOAR

Wat is jou planne vir die feesseisoen?

Familie is vreeslik belangrik vir my. Ons hou altyd Kersfees by my ouma, maar na my oupa vanjaar oorlede is, het sy vanaf Kempton Park na Mosselbaai verhuis. Ons hele familie gaan vanjaar na die Suidkus mik om saam met haar die feesseisoen te vier. Ons wil in hierdie tyd ook my oupa se as strooi as ’n familie. 

Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green
Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green

Wat is jou planne vir die nuwe jaar?

Hierdie jaar was ’n groot uitdaging vir my én my besigheid. Ek is egter baie dankbaar vir die geleenthede wat vir my in lockdown oop gegaan het. Ek kan nie wag vir 2021 nie!

Ek het Wes-Kaap toe getrek om my eie fabriek oop te maak, en as alles volgens plan verloop, gaan ons volgende jaar begin om klere hier te vervaardig. Met my mode-reeks wil ek vir mense laat goed voel oor hulself, maar ek wil ook ’n verskil maak in die Suid-Afrikaanse modebedryf en werkgeleenthede skep. 

Eendag sal ek ook baie graag my eie koffiewinkel wil oop maak. Dis al vir lank ’n droom, en ek voel vanjaar moet ek die geleentheid vir myself skep en hierdie drome uitleef!

Ek het ’n maand terug verloof geraak, en ons hoop dat ons volgende jaar gaan trou – sou Covid-19 ons toelaat. 

Wat het jy nuut geleer vandat jy jou Voorbladgesig-reis begin het? 

Ek het reeds so baie van myself geleer in my SARIE Voorbladgesig-reis. Ek het weereens besef – ek is genoeg – en dat ek 100% in myself kan glo. Ek sou dit nooit kon droom nie, ek is in die top-10 en die SARIE-span beskou vir my as ’n inspirasie! Enige iets is moontlik as jy in jouself glo. 

Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green
Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green

Watter verhouding het jy met jou vel en hare?

’n Skoonheidsbehandeling is baie belangrik vir my, ’n mens kan sommer sien as ’n vrou mooi na haarself en haar vel kyk. Ek het altyd gesukkel met ’n droë vel, en ek het geleer dat mens ’n baie goeie nag- en dag-room moet gebruik en gereeld baie water moet drink.

My haarstyl wys baie van my persoonlikheid. Dit het lank gevat om my perfekte haarstyl te kry, maar toe ek my eie identiteit vind, toe ontdek ek ook my gunsteling-haarstyl.

Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green
Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green

Hoe bly jy positief oor die toekoms? 

Suid-Afrika is deur ’n baie moeilike jaar en ons mense het verskriklik swaar gekry. Dit was vir my hartroerend hoe ons saam kon staan deur die moeilike tyd. Daar was baie mense wat hulle werk verloor het, besighede het toe gemaak en baie het ’n geliefde verloor. Maar ons het maniere gevind om mekaar te help en te ondersteun – hoe ongelooflik! 

Ek is mal oor Springbok-kaptein Siya Kolisi se sê-ding ná die Wêreldbeker: “We are stronger together.” Dit is weer ’n bewyse dat ons as Suid-Afrikaners baie kan vermag wanneer ons saam staan. 

Die lewe is besig! Is selfsorg vir jou belangrik? 

Ek doen gereeld self-care-dae, maar dit hang ook af van hoe stresvol en besig my week is! Soms hou ek daarvan om net ’n lang bad te vat met klomp kerse en ’n lekker rooi wyn byderhand. Ek maak my kop skoon deur saam met my Yorkie en Weimaraners te gaan stap. Ek ontlaai ook deur ’n gesigmasker aan te sit en my gunsteling-program te kyk. Maar dit moet elke keer iets anders behels – ek hou daarvan om my self-care af te wissel! 

Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green
Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green

Wat beteken SARIE vir jou?

SARIE beteken inspirasie vir my. Elke vrou wat op SARIE se voorblad is, het haar eie storie wat ander vrouens inspireer. Ek wil eendag só kenmerk hê vir my eie brand.

Cyla Gonsolves FOTO Phillis Green
Cyla Gonsolves FOTO Phyllis Green

Wat beteken Afrikaans vir jou? 

Afrikaans beteken baie meer vir my as net ’n moedertaal, as iemand met my Afrikaans praat dan voel dit soos huis. Ek het in ’n Afrikaanse huis grootgeword, en die taal is deel van wie en wat ek is. My gunsteling-woorde in Afrikaans is: “Sies, maar dis lekker!” My pa sê dit vir alles wat lekker is, veral na ’n slukkie Whiskey! Ek is mal oor hierdie unieke sêding.  

Ek sal graag nog ’n ander taal wil leer, my ma en ouma probeer my al vir jare help om Fanagalo te leer wat hulle altyd op die plaas gepraat het. Soms gebruik hulle steeds die taal wanneer hulle wil skinder!