Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein het onlangs ’n nuwe artefak uit die vroeë 1970’s ontvang: ’n boekie, met die hand geskryf – ’n spanningsverhaal oor ’n jong Afrikaanse vlieënier wat in die Tweede Wêreldoorlog die Duitsers links en regs neerskiet. 

Vandag, vyftien romans, twee internasionale TV-reekse, drie kortverhaalbundels, vier ? ieks en talle nasionale en drie kortverhaalbundels, vier ? ieks en talle nasionale en internasionale toekennings later, lag Deon oor sy destydse novelle en sy “perfekte held met geen swakhede nie”, want dit is juis ’n uiters feilbare held wat die afgelope byna twintig jaar momentum aan sy welslae as skrywer gegee het. Speurder Bennie Griessel, aan wie lesers so geheg geraak het dat hulle selfs vir Deon briewe skryf en vra dat Bennie asseblief net ie weer moet begin drink nie. Die plaaslike verkope van sy jongste boek, Donkerdrif, met Bennie en Vaughn Cupido weer op die spoor van die boewe, het tot oudpresident Barack Obama se A Promised Land geklop. Donkerdrif se Nederlandse en Duitse vertalings het pas verskyn en die res is in wording.

Dis vir hom dikwels nog onwerklik wanneer hy oorsee in ’n boekwinkel inloop en sy boeke daar sien, sê Deon, ’n koppie warmsjokolade in die hand terwyl ons op ’n reënerige dag op Stellenbosch gesels. “Weet jy, dan wens ek so my pa was daar om dit te kon beleef.”

Die Franse ridderskap (in die orde van kuns en letterkunde) wat vroeër vanjaar aan hom toegeken is, is vir hom nog oorweldigend. Hy skud sy kop. “Dis seker ’n goeie en ’n slegte ding, maar ek sal altyd die wete hê dat ek uit ’n blouboordjiebuurt kom, dat ek grootgeword het in ’n gemeenskap aan die armer kant van die spektrum. Vir so iets om met my te gebeur . . . dis amper onverstaanbaar. Dis ’n geweldige eer. Ek voel oor dié toekenning soos oor ’n verhouding, as jy iemand baie lief het en sy sê die eerste keer sy is ook baie lief  vir jou. Ek vrek oor Suid-Afrika, maar het nog altyd aanklank by die Franse kultuur, leefwyse en taal gevind, en my boeke het ook van meet af daar beter gevaar as in enige ander land.”

Dit was juis sy eerste Franse prys, Le grand prix de littérature policière in 2003, wat die boekmense in Suid-Afrika van dié “speurskrywertjie” laat notisie neem het. Voor dit was plaaslike resensies van sy Afrikaanse boeke louerig en low-key, maar toe, ná die prys, verander die trant van die resensies. “Dan dink jy, maar niks het verander nie. Ek en my boeke is nog presies dieselfde!”

Maar op die ou einde, as hy voor daardie leë bladsy gaan sit, help al die toekennings en mooi resensies net mooi niks. Dan begin jy voor. “Daar is tien plekke waar jy ’n boek kan begin. Die kuns is om die regte een te kry waarmee jy die boek aan die brand skop en die leser intrek. Ek het met my nuwe een nou al vier keer oorbegin,” sê hy.

Sy selfoon piep. Dis sy dogter, Lida, wat uit Italië foto’s stuur van die drie maande oue Matteo, sy eerste kleinkind – hy wys ’n video van die skatlike donkerkoppie. Toe Deon die outjie die eerste keer sien, het hy snot en trane gehuil. Met elke video-oproep raak hy weer bewoë.

Deon saam met sy kleinkind, Mateo. FOTO Instagram / Deon Meyer

Terwyl hy en sy kunstenaarvrou, Marianne, vir die geboorte in Italië was, het sy rekenaar die gees gegee en het hy ’n maand lank nie geskryf nie, net kos gemaak vir die familie: vars salm, ziti-pasta met fontina-kaas, carbonara, branzino (oondgebakte seebas), dentice-vis (snapper) in puttanesca-sous.

Dit was ’n onverwagte bonus om soveel tyd vir een van sy passies te hê , want hy’t baie hooi op sy vurk. Meer mag hy nie sê nie, behalwe dat dit verskeie TV-reekse en flieks behels . . .

Waar kry jy al jou idees?

Dit kom uit soveel oorde. Eenslag was dit ’n vliegtuig wat voor die maan verbygevlieg het – so stimulerend dat ’n boek, Orion, daaruit gekom het. Soms lees ek iets raak in ’n klein beriggie, soms is dit groot, soos met Donkerdrif. Ek gesels dikwels met polisiemanne oor wat hulle sien. Al dié diamantjies bêre ek. Dis soos chemie. Jy moet wag en ’n paar elemente bymekaarsit tot jy ’n vonk kry. Dit raak later ’n manier van dink. As ek iets lees of hoor, vraek myself af wat Bennie sal dink of Vaughn nou kwytraak. Jy leef eintlik in ’n fiksiewêreld, ek vra Marianne nou ook, sodat ek nie stoksielalleen in daardie wêreld is nie.

Hoekom is mense so mal oor Bennie?

Ek het geen idee nie. Ek probeer my karakters menslik maak, elk met hul swakhede, vrese, versugtings en worstelings. Konflik is die moeder van spanning. Jy wil ’n karakter hê wat in konflik met homself is, met al die lae van die w reld om hom.  Uiteindelik skep jy karakters oor wie jy self wil lees. As ek lees oor ’n karakter met al die menslike brooshede, dan vind ek baie sterker aanklank, ek verstaan dit en het dit ook, veral in ’n manswêreld waar jy jouself so sterk moet hou, maar tog ook bewus is van jou brooshede. En vrouelesers hou daarvan om te lees van so ’n man omdat dit in ’n sekere mate die werklikheid weerspieël. Ek kan net vermoed dis hoekom Bennie gewild is. Die slim ouens s die kern van ’n lekker storie is dat jou lesers bereid moet wees om ten volle in ’n karakter te belê, en dan laat jy die karakter deur hel gaan om haar of hom aan die ander kant te laat uitkom.

Wanneer het jy in misdaadstories begin belangstel?

Ek het van kleins af wyd gelees . . . wetenskapfiksie, die Tweede Wêreldoorlog, enigiets, maar ek het vroeg aanklank by die misdaadgenre gevind. Ek het nou nog van die misdaadfiksie wat ek vir 40 of 70 sent by die tweedehandsboekwinkel op Klerksdorp gekoop het. Ek het die Amerikaners Ed McBain en John D. MacDonald se boeke verslind.

Jy doen intensief navorsing. Verkies jy skryf of navorsing?

Al twee is lekker. Skryf het lieflike en mislike dae. Dis een lang proses van probleme oplos. Ek geniet daai stryd, hoe kan ek die pas interessanter en spannender maak? Soms is dit soos draf, meestal baie harde werk, maar soms – seker drie dae in die hele proses – kry jy ’n runner’s high, dan dans die woorde. Navorsing voel nooit na werk nie. Dis ’n konstante lekkerte, dis seker die joernalis in my. Ek het geleer hoe meer ek vra, my verdiep in die onderwerp, hoe meer uniek is my storie. Ek het al wonderlike goed ontdek wat tot ’n nuwe wending of einde gelei het.

Jy en Coenie de Villiers het ook twee Karooboeke. Vanwaar die bekoring met die Karoo?

Vakansies het ons altyd deur die Karoo gery – Jeffreysbaai of Kaap toe, my pa het graag visgevang. Ek kon nie genoeg kyk na die kaal, ruwe, primitiewe landskap nie. Daar was iets  magies daaraan. Baie later, toe ek ernstig grondpadmotorfiets begin ry het, het ek die Karoo verken, dít weer ervaar en my oorgegee daaraan. Ek het my hart op Loxton verloor, spotgoedkoop erwe gekoop en ’n huis van Karooklip gebou. Dis onlangs verkoop, ons kom nou te min daar.

Hoekom het jy besluit om by die gemeenskap betrokke te raak?

Daai dorpie is so klein, jy sien die armoede elke dag. Ek kon nie net niks doen nie. Ek het ’n maatskappy sonder winsoogmerk gestig om die kinders van die township te probeer help. Meer as die helfte kom sonder brekfis skool toe. Ons het begin met ’n voedingskema, ’n leesprogram, ook’n spesiale program vir kinders met fetale alkoholsindroom. Toe ek en Coenie ons Karoo Suite-konserte begin hou, het die Atterbury-trust betrokke geraak en baie groter as ons gedink. Met ons Karoo Suiteboek het ons eenmiljoen rand vir die kinders van die Karoo ingesamel, onder meer vir studiebeurse. As jy een kind se lewe kan verander, verander jy ’n gesin se lewe. Die tweede boek, Ons Karoo, het asemrowende naghemelfoto’s van Sarel van Staden en Maryna Cotton wat al ’n National Geographic-voorblad gehad het.

Is jou dae van motorfiets ry verby?

Ek het met my BMW ses jaar lank 40 000 km per jaar se agterpaaie gery. Ek het die hele Sub-Sahara-Afrika deurkruis en my uitgeleef. Dis nou ’n nuwe tyd. My motorfiets is verkoop, dit help nie jy gebruik dit een keer in twee jaar nie. Met my bergfiets kry ek dieselfde genot, twee wiele, grondpad, in die natuur. Ek en Marianne ry baie.

“Oase”, jou duet saam met Lize Beekman wat jy vir Marianne geskryf het, wat beteken dit vir jou?

Dis ’n groot hoogtepunt. Marianne is een van die beste dinge wat nog met my gebeur het. Ek het die gedig geskryf om haar ’n glimps te gee van wat sy vir my beteken, en by ons troue in Augustus 2019 vir haar voorgelees. Lize het op ons troue gesing, ’n verrassing van Marianne. Ek is ’n groot aanhanger van Lize en het altyd saam met haar musiek gesing soos ons Karoo toe ry. Later, toe sy ’n liedjie skryf vir my fliek Die laaste tango, het ek haar leer ken en die vrymoedigheid gehad om te vra as sy Loxton toe kom, sou ek graag op ons agterstoep net een liedjie saam met haar wou sing. Dan sou sy altyd baie hoflik sê: Ja, nee, eendag, eendag . . . [Hy lag.] Ná ons troue het sy my gedig in die geheim getoonset en gevra of ek dit saam met haar sou opneem. Dit was ’n vreesaanjaende gedagte. Syself het later vir Marianne gesê: “Ek het gedink jy sou seker vir my ’n whatsappie gestuur het as die man nie kon sing nie!” Ons het eers by haar huis op Melkbosstrand gaan oefen, wat eintlik maar ’n oudisie was. Ons was een en ’n halwe versie ver, toe begin Lize huil en ek begin huil . . . dit was mooi. Oor die ateljee-opname was ek erg gespanne, maar hulle was sag met my.

Raak jy maklik emosioneel?

Ja, ek raak gou aangedaan. Ek is nie minder of meer emosioneel as ander mans nie, ek dink net ek het nie skaamte daaroor nie. Ek is gemaklik daarmee.

Wat maak jou en Marianne se konneksie so spesiaal?

Ek weet nie. Ons is maar vir mekaar waarna ons nog altyd gesmag het. Ek wil dit nie te veel analiseer nie, ek wil dit net geniet. Sy is ’n ongelooflike mens. Ek dink sy is die eerste vrou by wie ek veilig genoeg voel om te wys hoe ek voel.

Marianne is die beste ding wat met Deon kon gebeur het. FOTO Instagram/Deon Meyer

Jy skuur skouers met groot skrywers – is hulle vriende?

Hulle het pelle geraak, almal aangename ouens, en eintlik al mense met wie jy regtig jou werk en die uitdagings kan bespreek. Die Skot Ian Rankin se boeke is redelik donker, maar hy is een van die snaaksste ouens wat ek ken. In Toronto het ons ’n taxi gedeel – van die inklim tot die uitklim het ek gelag vir hom en die Wes-Indiese cabby se gesprek. Ek, Ian, Michael Connelly en Harlan Coben het onlangs gesels oor die uitdaging van reekskarakters wat ouer word. Ian het sy speurder Rebus met elke boek laat ouer raak tot aftrede. Toe hy ’n nuwe karakter skep, was sy lesers smoorkwaad – hy móés Rebus terugbring. Ek hou Bennie al twintig jaar in sy veertigs. Daar is wel progressie in sy lewe, net stadiger as werklike kalenderjare.

Skrywer Chris Barnard het gesê, die beste  argument teen die bedreiging van Afrikaans is om ’n goeie boek te skryf. Stem jy saam, gegewe die taalbeleid op Stellenbosch? Moet ’n mens eerder stilbly en ’n goeie storie skryf?

Ek dink in dié tye moet jy al hoe meer jou steun vir ’n saak uitspreek. My siening was nog altyd dat dit ’n swak strategie is vir ou wit mans om op Stellenbosch oor Afrikaans te kom praat. As jy nie uit die bruin gemeenskap sterk stemme as steun kry nie, moet jy jou bek hou. Ons het dit nou, die eerste keer. Ek het my steun toegesê aan die bruin organisasie [DAK Netwerk] wat hier ’n optog gehou het. Ek sou saamgestap het as my ma nie haar heup die oggend gebreek het nie. Ja, my bydrae tot Afrikaans is om Afrikaanse boeke te skryf. Jy moet ook verstaan, as wit Afrikaner kan groot uitsprake groter skade as goed doen in die breë politieke bestel.

Is jy in SA om te bly? Of staan jy soos sommige met een voet hier, die ander in jou château?

Ek sal altyd hier bly solank ek voel my pensioengeldjie is veilig. Al die tekens is daar dat dit oukei gaan wees. Onder Zuma was ek minder seker van die saak. Ek voel ons is nou op ’n goeie pad. Ek het geen château in enige land nie. Ons het ’n piepklein woonstel in Italië vir R130 000 gekoop, net om naby die kinders te wees. Party dorpies het selfs inisiatiewe dat jy ’n woonstel vir een euro kan koop op voorwaarde dat jy dit opknap. Die Italiaanse platteland is besig om tot niet te gaan.

L’ultima caccia (Prooi) is pas in Italië bekend gestel . . . hoekom vind Europa so aanklank by jou werk?

Europeërs is baie meer bereid om boeke van eksotiese plekke te lees. Dit neem tyd, maar jy bou mettertyd ’n lesersgehoor op. Amerikaners is anders, hulle wil oor Amerika lees. Ek is tevrede met hoe my boeke daar vaar, maar dis nie vergelykbaar met Connelly s’n nie.

Jy het al gesê ná ’n boek klaar is, twyfel jy daarin . . . is dit steeds so?

Daar is tog nog ’n oomblik van paniek. Dis goed. Paniek en adrenalien dwing jou om te fokus en nie op jou louere te rus nie. Jy moenie selftevrede raak nie.