Met die verfilming van die kykNET-dramareeks van bekroonde skrywer Marita van der Vyver se roman Die dinge van ’n kind, het Melissa Myburgh ’n gedaantewisseling ondergaan: “As die jong Mart het dit gevoel asof die reeks in ’n mate my coming of age is. As aktrise, maar óók as ’n 22-jarige meisie wat vrou word.”
Mienke Ehlers, wat die rol van Dalena vertolk, erken dat haar oorgang na grootmens in die bedryf baie moeilik was.
“In die groter plan van my lewe word elke geleentheid mooi bestuur. Die rol was genade, want dit het op die perfekte tyd gekom – ná vyf jaar agter die kameras in die kunsdepartement. My oorgang in die bedryf sal altyd my voete op die grond hou.”