Ons swem in ysige Arktiese waters en riviere wat wemel van piranhas om ons grense te toets. Ons swem vir plesier, vir oefening, vir genesing. [. . .] Ons evolusionêre voorgeslagte het vir oorlewing geleer swem; nou, in die 21ste eeu, is dit een van die gewildste aktiwiteite in die wêreld.” Só skryf Bonnie Tsui in haar boek Why We Swim.

Dís waarom ons swem, sê die menslike ysbeer Lewis Pugh, aktrise Tanya van Graan en “seekatfluisteraar” Craig Foster. Dís waarom ons terugkeer, weer en weer. Almal het as kinders die water geniet, maar mettertyd het swem vir hulle ’n ander betekenis gekry.

Lewis Pugh se rede

Die water is pynlik, folterend koud, dit slaan jou asem weg. Net voor hy ingeduik het, was daar vrees, maar dit het in wanhoop omgesit. Die tonnel slinger onder die gletserys, vol stalagtiete skerp genoeg om jou hand flenters te sny. Jy dink nie aan jou voorbereiding nie, of die totale verligting netnou terug op die boot nie. Jou fokus vernou, is op elke enkele haal.

Stadig, doelbewus, jou heel beste, want jy wil lewend anderkant uitkom. “Toe sien ek die kleure: afwisselend turkoois, elektries-blou, koningsblou, indigo en pers . . .”

Lewis Pugh het sy lewe verlede jaar gewaag toe hy Antarktika se water in net ’n stywe baaibroekie aangedurf het – deel van sy “Speedo-diplomasie”:

Hy en sy baaikostuum wat in die voorste linies teen klimaatsverandering veg. Reeds het hy in van die wêreld se afgesonderdste waters geswem: die Noordpool, ’n ysmeer op Everest. So mooi soos dáárdie kleure het hy egter nog nie beleef nie. Mooi maar ontstellend. Die tonnels word weens klimaatsverandering onder die gletsers uitgekerf. En dit gaan net erger raak. Ons menslike ysbeer.

Stel jou voor: By die Olimpiese Spele is die swembad 25 ºC, op Muizenberg op ’n mooi somersdag so 24 grade, Clifton so 12 grade, die Titanic se slagoffers het verdrink in water van so 5 ºC. Soutwater vries teen -1,8 ºC en die Antarktiese waters waarin hy swem is net ’n rapsie warmer – 1,7 ºC. “Koue water is goed vir jou lyf en kop en die wetenskap bevestig dit. Maar nie teen dié temperatuur nie. Dan begin dinge in jou lyf op sellulêre vlak verander.”

Alles het begin met die stories van ontdekkingsreise waarvoor hy as kind lief was. Sy pa, ’n chirurg in die Britse vloot, het wêreldkaarte oral in hul huis gehang: Eers in Plymouth, toe Malta en Kaapstad, waarnatoe hulle verhuis het toe hy tien was. As klein seuntjie het hy saam met sy ouers op Whitsand Bay naby Plymouth gaan swem, ’n pragtige strand amper soos Long Beach by Kommetjie. Verrassing! Lewis het sy eerste ordentlike swemles op 17 gehad, nadat hy besluit het om Robbeneiland toe te swem.

’n Maand later het hy dit suksesvol voltooi. “Ek het dadelik geweet ek geniet dit, dit daag my in my diepste wese uit. Elke jaar daarna wou ek dit weer doen – maar elke keer bietjie langer, kouer, moeiliker. Mense vra my keer op keer: Waarom sonder ’n duikpak? Hulle dink ek’s gek, maar net omdat hulle nie sien wat in die see aangaan nie. Want dan sal jy ook opstaan en daarvoor veg.”

FOTO Kelvin Trautman

Sowat ’n week ná die Antarktikaavontuur vlieg hy Moskou toe vir onderhandelinge met die Russiese regering. “Internasionale reg vereis dat 25 nasies instem om die waters rondom Antarktika te beskerm. Nog net Rusland en China het nie. Op pad Kremlin toe vir my ontmoeting met Sergei Iwanof, president [Wladimir ] Poetin se nommer twee, loop ek oor die Rooiplein. Dis reusagtig met keistene – en my vriesgebrande voete voel elkeen van daai keie. Ek het myself afgevra: Hoeveel fut het ek in my oor, om te por en aan te hou por? Maar dan ook kan ek nie swyg oor die gesondheid van ons planeet nie. Ek swem om een rede: Om ’n stem vir die see en die see se manjifieke inwoners te wees.”

Daarvoor is Lewis, behalwe ’n spierbol ook ’n energieke en charismatiese spreker, deeglik toegerus.