Izel van der Merwe, ’n vryskut-videoredigeerder vir onder meer die kykNET-kanaal & Via, was 21 toe sy met psoriatiese artritis gediagnoseer is. Sy en die Fynskrif-akteur Edwin van der Walt was nog studente in hul derde jaar aan die Universiteit Stellenbosch en hul verhouding het maar pas begin. Nou, sewe jaar later, het sy reeds ’n pad daarmee gestap. Proefmedisyne, boererate, magiese rome, hope pynmedikasie gebruik . . . En hy was aan haar sy.

Dit was die skubberige kolle op haar kopvel en agter haar ore wat hulle aanvanklik laat besluit het: Flip, sy moet dalk by ’n dokter uitkom. Hulle is albei positiewe mense, maar ja, die uiteindelike diagnose was ’n skok. Teen daardie tyd kon jy al die tekens sien . . . haar gewrigte was pynlik en geswel.

Maar sy Izel is “ongelooflik”. “As dit ek was, veral met die pyn wat sy het, sou ek dit nie so goed kon hanteer nie. Sy byt vas, lewe in die oomblik. Dit help ons albei om nie negatief te raak nie.”

En jy pas aan: Leef van dag tot dag op die beste manier wat jy kan. Vir Edwin is dit egter maar net die vertrekpunt: Hy wil haar gesond sien, die chroniese toestand probeer omkeer.

“Ons is nie groot voorstanders van chemiese medikasie nie, dit het ook nie juis gehelp nie. Ons probeer ’n meer natuurlike benadering volg waaroor ons baie navorsing gedoen het. Daar i´s mense wat die toestand al omgekeer het. Maar dit vat langer, verg meer werk, moeite en is vreemd genoeg soms duurder. In die boek The Autoimmune Fix beveel Tom O’Bryan aan dat jy gluten, suiwel en suiker uitsny. Ons het dit vanjaar ons doelwit gemaak. Ekself het reeds ’n jaar gelede suiker gelos.

“Saans maak ek kos terwyl sy by my sit, ons selfone afgeskakel. Ek love kosmaak, dis soos ’n hobby. En ek love gesonde kos. Ons moes leer om dinge saam te doen wat nie vir haar ongemaklik is nie. Gaan fliek, na belaglike werklikheidsreekse kyk. Sy moes stadig maar seker dinge los waarvan sy hou, kunsprojekte, om met haar hande te werk, draf, staptogte, swem in die see, Leeukop uitklim. Om te bestuur en selfs te stap is ongemaklik, seer. Wanneer sy opstaan, klou sy eers aan die tafel vas, of iemand moet haar help weens die pyn in haar gewrigte. Ek voel om die beurt kwaad, gefrustreerd en hulpeloos om haar so te sien. Wil help, maar daar is nie

’n oplossing nie. Ek kan maar net daar wees. Oor die toekoms praat ons dikwels. Dis steeds blink, iets waarna ons uitsien. En kinders, ja, dis die pad, dis nie eens te betwyfel nie.

“Die grootste uitdaging – en ek wonder of baie ander verhoudings nie daardeur gaan nie – is dat jy as die ‘aktiewe’ een aanmekaar oplossings soek. En die ander een later se^: ‘Kan ek net ’n bietjie rus? Net nie nou daaroor dink of praat nie.‘Waarnatoe om te gaan, wat ek volgende moet doen, dit uitsny of dat.’ Maar dit verg oop en eerlike kommunikasie. Daardie moeilike kommunikasie waar die ‘aktiewe’ een moet besluit om net te los. Op te hou om als te probeer regmaak. Moeilik.”

* Besoek Edwin se aanlyn opvoedkundige platform met meesters in hul veldwat klasse aanbied: novieguide.com