Dis ’n feit soos ’n koei ... Erns is nie bang vir the road less traveled nie, inteendeel dis op hierdie versteekte grondpaaie wat hy die mooiste stories ontdek. In die jongste seisoen van sy gewilde kykNET-reisprogram, Elders, is Namibië die fokuspunt. Skakel vanaand om 20:30 in op kykNET (DStv-kanaal 144) en reis saam met Erns. 

Erns se 10 reiswenke vir Namibië

Namibië is ’n wonderskoon land, só hoor ons keer op keer. Is jy lus vir ’n avontuur in ons buurland? Onthou hierdie 10 wenke. 

1. Ry self

’n Selfry-opsie is die beste manier om Namibië teen jou eie - en verkieslik 'n rustige - pas te verken. Die paaie is in ’n goeie kondisie, daar word dikwels gesê Namibië se grondpaaie is beter as Suid-Afrika se teerpaaie. En jy het nie ’n 4x4 nodig nie, ’n sedanmotor sal voldoende wees. As jy regtig van die pad af wil ry, maak seker jou voertuig het goeie grondvryhoogte.

 

2. Onthou n spaarwiel (of twee)

Hoewel die paaie goed is, is daar altyd die kans dat jy iewers ’n  pap wiel kry. Sommige dele van die land, soos in die noorde naby Epupa en die Kunenervier, is werklik afgesonder. Maak seker jy het altyd ’n spaarwiel byderhand, en as jy beplan om ver en wyd te reis, sommer twee!

Erns en sy vrou Catharien Robbertze by NWR Ai-Ais in die suide van Namibie¨ waar die Visriviercanyon staptog eindig. FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië

3. Moenie dors raak nie

Die dorpies is dikwels ver van mekaar af, soms honderde kilometer, en daar is nie gereeld petrolstasies en winkels langs die pad nie. Hou ’n 5 liter kan of groot bottel water in jou voertuig, en maak dit so gereeld as moontlik vol. As jy lief is vir koffie, ondersteun Namibië se eie puik Slowtown Coffee Roasters (http://slowtowncoffee.com/). Behalwe vir koffiewinkels in Swakopmund, Walvisbaai en Windhoek kan jy dit ook aanskaf by verskeie hotelle, restaurante en selfs koöperasies. 

 

4. Kry Super Aweh vir jou foon 

Vir ’n raps meer as R70 kan jy ’n  MTC simkaart en die Super Aweh 7 dae pakket in Namibië koop vir jou foongebruik. Dit is spotgoedkoop: vir ’n week het jy 700 minute se beltyd (na nommers in Namibië) en ten minste 3 Gig se data. Die kassiere by vulstasies en kiosks is baie hulpvaardig en sal jou help om dit op jou foon te laai. 

Sebastiaan Kizumba (gids) en Erns op die Tok Tokkie Trail in die Namibrand Nature Reserve. FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië

 5. Maak vrede met min selfoonsein

Hoewel data baie goedkoop is, is die selfoonsein op die "platteland" (wat basies 95% van Namibië is) helaas nie te volop of betroubaar nie. Jy behoort sein te hê in die meeste dorpies, maar op die agterpaaie sukkel dit maar. Maak vrede hiermee en geniet die stilte op jou foon. Die meeste lodges het wi-fi, hoewel jy soms iets ekstra vir wi-fi moet betaal.

 

6. Moenie te veel aanpak nie

As jy byvoorbeeld slegs 7 of 10 dae het om Namibië te verken, moet jy liefs nie probeer om die wye draai in Elders: Namibië te herhaal nie. Ons was 45 dae op reis en het nog 'n reeks ook geskiet! Fokus eerder op 'n spesifieke deel, soos die suide (Visriviercanyon-uitkykpunt, Ai-Ais, Aus, Lüderitz en Kolmanskop en Namibrand Natuurreservaat) en verken dit behoorlik. Jy kan altyd in die toekoms Namibië hopelik weer besoek en bv. Etosha in die noorde besoek.

 
Erns op die Etendeka Overnight Walking Trail in die Palmwag gebied in Damaraland. FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië

7. Kry 'n Gondwana-kaart

Oorweeg sterk om vooraf 'n Gondwana-kaart teen slegs R300 (geldig vir vyf jaar) te koop. Met hierdie kaart kry jy fantastiese afslag by die lodges van Gondwana Collection Namibia: 40% afslag op akkommodasie (bed en ontbyt) en kampering en 25% afslag op aandete en aktiwiteite. Gondwana het puik lodges regoor Namibië naby ikoniese plekke soos die Visriviercanyon, Sossusvlei en Etosha. Kliek hier vir meer: https://store.gondwana-collection.com/card

 

8. Koester jou innerlike karnivoor 

Kyk, as jy ’n vegetariër (of veganis) is, gaan jy mooi moet kophou in Namibië. Dit is vleiswêreld en waar jy ook al reis, van ’n gasvrye boervrou op ’n plaas tot by ’n lekker restaurant langs die kus gaan daar watertand vleisgeregte wees. In my ervaring is die vegetariese opsies nie altyd op dieselfde standaard by die meeste restaurante nie. Indien jy wel hou van vleis, gaan jou innerlike karnivoor ’n fantastiese tyd hê. Veral by die Withuis Guest Farm naby Grünau: hoe klink gekrummelde springboksteakies vir aandete, en ’n gebakte skaapnek die volgende middag? 

 
Erns saam met die legendariese Koos Verwey van Epupa Falls Lodge and Campsite by die Kunenerivier in die noorde van Namibie¨. FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië

9. Doen n staptog 

Namibië is ’n land met ’n wonderlike verskeidenheid staptogte: hardebaarde kan die Visriviercanyon-staptog of die Namib Naukluft-staptog aanpak en hulle eie swaar rugsakke dra, maar as jy eerder in "slackpacking" belang stel is daar baie opsies: Live The Journey se Namib100 in die Namibwoestyn is 'n fantastiese nuwe en eksklusiewe staptog (https://namib100hike.com), die Tok Tokkie Trail is ’n rustige stap in die Namibrand Natuurreservaat (https://toktokkietrails.com/) en die Etendeka Overnight Walking Trail (https://www.etendeka-namibia.com/) is 'n puik en luilekker manier om Damaraland naby Palmwag te verken. 

 

10. Kyk Elders: Namibië

As jy nog idees soek vir ’n vakansie en top bestemmings in Namibië, kyk al dertien episodes van Elders: Namibië van Woensdag 28 Julie om 20:30 op kykNET. Die reeks sal ook van Donderdag 21 Oktober om 20:00 op kykNET & Kie herhaal word en later aanlyn op Showmax beskikbaar wees. 

Erns ontwaak in styl op 'n duin op die Tok Tokkie Trail in die Namibrand Nature Reserve in die suide van Namibie¨. FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië
 

En die versteekte dorpies wat hom die meeste ontroer het?

Daar was nie soveel versteekte dorpies op ons roete nie, aangesien ons meestal in reservate en nasionale parke gery het. Ek kan wel noem dat die petrolstasie op Helmeringhausen ons flink en vinnig met ’n pap wiel gehelp het, dat Uïs ’n  fassinerende klein myndorpie met 'n lekker kuierplek is by die Brandberg Rest Camp en 'n mens maar kan stop by die Outjo Bakkery op Outjo vir 'n pastei! 

Spanfoto by Gondwana se Canyon Roadhouse van links na regs Erns Grundling Bertus Mostert (klankman) Frankie Opperman (regisseur) Jaen Kleynhans (kameraman) en Jean de Villiers (kameraman). FOTO Verskaf danksy Elders: Namibië

Skakel elke Woensdag om 20:30 op kykNET (DStv-kanaal 144).