Haar karakters is so uiteenlopend soos die Kaap se weer. Sy kan eenklaps in die genre van drama verkeer en ook haar komedie-skoene aantrek. SARIE.com het met haar gesels oor Suidooster en haar permanente rol in dié sepie.
My karakter is Elana Naudé. Sy het haar pad opgewerk in die korporatiewe wêreld en was die kreatiewe direkteur van een van die grootste advertensie-maatskappye in Afrika. In Johannesburg het sy haar lewensmaat en eggenoot, Susan, ontmoet en dié twee het saam besluit om die gejaag na geld vaarwel te roep en af te trek Kaap toe waar hulle ’n kroeg op die strand gaan oopmaak. Elana wil vir haar en Susan ’n standvastige lewe in Ruiterbosch skep met die oog op eendag ’n kindjie ook te kan hê en ’n familie te wees.