Sy het nog altyd ’n konneksie met Antjie Krog se digkuns gehad. En vir die Amerikaanse rolprentmaker Richard Linklater se films het sy groot waardering voor. Sy is gek vir TV kyk en geniet reekse soos Schitt’s Creek en Fynskrif. Opgesom: Vriendelik, snaaks, quirky, kinderlik en romantic. Uit die perd se bek hoor!

Dís die aktrise en skrywer Ansu Visser in ’n neutedop. What you see is what you get ... voor volk, vrinne en fans. Tog, was die pad tot outentiek wees nie altyd maklik nie.

“Ek het altyd gesukkel met performance - ek het gevoel ek moet vir ander bewys dat ek goed genoeg, mooi genoeg, slim genoeg, net genoeg is,” bieg Ansu, wat weeksaande as Lulu Malherbe te sien is in die Getroud met Rugby. Sy skryf ook voltyds vir dié kykNET-sepie. 

“Ek het oor die jare geleer ek kan nie myself wees, en die Ansu wees wat God gemaak het - die bietjie weird, bietjie quirky, bietjie anders, as ek nie eerlik gaan wees oor wie sy is nie. En om eerlik myself te wees voor ander, verg altyd vulnerability, want daar is altyd die risk of rejection.”

Dié wat vir Ansu ken weet hoe belangrik eerlikheid vir haar is. “Dis my nommer een in alles. So ek streef altyd vir eerlikheid, wat vir my hand aan hand met weerloosheid loop. Dis iets waarmee ek steeds sukkel, maar dit laat my ’n bietjie meer braaf voel en ek wil graag ’n brawe lewe lei.” 

FOTO Instagram / Ansu Visser

Die donkerkop skoonheid word gekenmerk aan haar kort lokke, kuiltjies en die gaping tussen haar tande. Iets waarop sy trots is én beslis nie gaan verander nie. “Ek het nooit gedink dis eintlik anders of vreemd nie.”

Maar ’n groot kop in die industrie het ’n paar jaar terug vir haar aangeraai om die gaping te laat opvul. Dié het Ansu laat verstaan dat sy nooit daarmee sou werk kry nie. “Dit was vir my ’n groot skok - ek was meer bekommerd dat ek nie ’n goeie aktrise is nie en dat dít die rede sal wees hoekom ek nie werk kry nie, maar toe vind ek uit my tande is die probleem!”

Sy het volstrek geweier. 

“Ek gaan nie my tande verander net omdat iemand anders nie daarvan hou nie - dis wie ek is. Snaaks genoeg, paar jaar later het daai einste groot baas vir my werk gegee as ’n aktrise. Met my gaping!”

Oor die jare het Ansu in verskeie projekte verskyn, soos ondermeer die bekroonde Johan Cronjé-rolprent Wonderlus (2018). Haar bestie, die aktrise en SARIE-voorbladster Mila Guy, het ook in dit gespeel. 

Sy bewonder Mila en het al ’n ellelange lys van goed by haar geleer. “Maar iets wat altyd vir my uitstaan is dat sy vreesloos die lewe inhardloop. Ek probeer altyd als beheer, seker maak als is reg, seker maak als is veilig, seker maak ek doen die regte ding… Maar sy laat die lewe gebeur, sy hou spasie vir foute en sien dit as geleentheid om te leer. Sy sê altyd sy is iemand wat go with the flow, sy laat die lewe met haar gebeur. Maar tog is sy so ’n go-getter om te gaan vir die dinge wat sy wil hê! Ek bewonder dit.”

Ansu en aktrise Mila Guy is al vir jare beste vriendinne. FOTO Instagram / Mila Guy

En hoe wil sy nog haar merk verder in die bedryf maak? Dis ’n moelike vraag, erken Ansu. “Ek weet ek wou act en skryf, maar daar was nie ’n spesifieke droom rondom dit nie. Ek wou act en skryf, dis al. En wat ook al dit sou wees en tot watter kapasiteit, sou ek gelukkig wees…”

Haar loopbaan definieer haar nie. “Dis moeilik om te beskryf hoe ek voel oor my werk - dis nie waar my hart, desires en vreugde lê nie, alhoewel ek dit vreeslik geniet en ongelooflik dankbaar is. Daar was net altyd baie seën oor my met werk - daar is ’n tipe vertroue, dat wat ook al ek moet doen, sal gebeur. Ek dink my antwoord is ek leef nou my droom, enigiets anders is ’n bonus!” 

As Fiësta-aanbieder kon sy groot dele van Suid-Afrika behoorlik verken. “Ek dink ek het plekke besoek wat ek andersins nooit sou sien nie of nie eers van sou weet nie!”

En watter drie plekke beveel sy aan? “Jacobsbaai, Graaff-Reinet en Platbos - dis tussen Gansbaai en Hermanus. Jy kan self ’n boom gaan plant by Platbos!”