Van Dinsdag 1 Desember tot Sondag 6 Desember tree die akteur en Kwêla-aanbieder Hannes van Wyk op in jou sitkamer. Ja, sy eenmanvertoning Sê groete vir ma is nou ’n aanlynvertoning vir ses volle dae. Moenie hierdie storie met hart en siel misloop nie. Koop kaartjies hier: https://bit.ly/2VaKzbr

1. Die toneelstuk fokus Reghardt Roberts en sy verhouding met sy ma. Watter rol het jou eie ma in jou lewe gespeel? En watter lesse, wat sy jou geleer het, pas jy steeds toe?

Die toneelstuk, Sê groete vir ma, is alles fiksie. Maar dis geïnspireer deur my wonderlike verhouding met my eie ma, Mariet van Wyk ( 86), wat in die aftree-oord in Aliwal-Noord woon. Ek kan sê dat ek alles by haar geleer het. Sy is my rots, my steunpilaar en op 86 steeds die een na wie toe ek gaan as ek raad nodig het. By haar het ek geleer van hardwerkendheid, lojaliteit en dat jou woord jou eer is. Ook dat mens elke mens dieselfde moet behandel. Ek probeer ál die wonderlike raad en lesse wat sy my geleer het elke dag toepas.

2. Hoekom kan mense so identifiseer met hierdie toneelstuk en spesifiek met die karakter Reghardt?

Ek dink die rede hoekom die eenmanstuk so suksesvol is, is dat ons almal daarmee kan identifiseer. Ons elkeen het ’n ma of het ’n ma (ma-figuur) gehad en ken die liefde van ’n ma. In die geval is dit die besondere verhouding wat Reghardt met sy ma het. Die liefde wat hulle vir mekaar het en dan alles wat daarmee gepaard gaan...Reghard is ’n sensitiewe siel met ’n boere-oom pa, ’n broer wat net rugby speel en dan sy troetelhoender Knoop en sy hond Boswild. Die toneelstuk is vervleg met humor en hartseer en raak oud en jonk se hartsnare.

3. Desember is dikwels ’n tyd van rus. Watter Kersfees- en vakansieplanne huisves dié twaalfde maand vir jou?

Ná hierdie vreemde jaar dink ek dis nodig om bietjie te dink aan die jaar wat verby is en ook te dink aan die jaar wat voorlê. Ek dink ons almal het geleer om nie te veel te beplan nie, want dinge kan so vinnig verander. Ek het so twee weke af en dan wil ek net by my huis in Kaapstad wees saam met my hondekinders en my geliefdes. Ek gaan vir Kersfees vir ’n paar dae Aliwal-Noord na my ma toe. Ons sal dus Kersfees sáám deurbring.

4. In ‘Kwêla’ het jy vanjaar talle roerende en hartbelaaide onderhoude gehad. Kan jy drie uitlig wat steeds by jou bly?

Daar was soveel wonderlike onderhoude waar mense hul harte en huise vir my oopgemaak het. As ek ’n paar moet uitsonder sal dit met Annelie van Rooyen, Niekie van den Bergh en Elize Cawood wees.

 

5. Wat is jou hoop vir die nuwe jaar?

Almal vir wie ek lief is gesond moet bly. En dan ook goeie gesondheid vir my ma. Ek wil ook die jaar wat kom dinge meer geniet en nie so vinnig bekommer nie. En dan natuurlik baie lag.

Sê groete vir ma – sinopsis:

Hannes van Wyk vertolk die rol van Reghardt Roberts van Aswegen wie se hele lewe, menswees en bestaan om die een vrou draai wat hom in die lewe gebring het. Dit is 'n drama waar die lag en die traan baie naby aan mekaar loop: die band tussen 'n ma en haar kind, hulle lewensreis saam, die pyn en onvermydelikheid van oudword en hoe ons soms ons grootste foute kan verdedig, omdat dit uit liefde gedoen is.

Dis 'n tipe knop-in-die-keel, tong-in-die-kies kykie na die dinge waarmee die meeste mense hul kan vereenselwig, en uiteindelik die een ding wat ons almal bind: die bleddie getik-tok van die klok wat niemand die aardigheid van oudword (en dan ook siekte) spaar nie.

Dit is 'n storie vir elke lid van die gesin en beloof om te sorg vir humor, maar ook lag met 'n traan. Elkeen wat 'n ma het, gehad het of sélf 'n ma is, moet hierdie langverwagte teaterstuk sien.

 
Roerende oomblik uit Hannes van Wyk se eenmanvertoning. FOTO Verskaf

Koop kaartjies hier: https://bit.ly/2VaKzbr