“Ag, ek is ’n cliffhanger queen,” skerts Hélène. Dit kom van as jy jou skrywerstande geslyp het by groot sepies soos Egoli en Generations.

Vir twee seisoene het kykers gesien hoe die paartjie Karen (eers vertolk deur Jana Strydom toe Antoinette Louw) en Francois le Roux (Louw Venter) deur diep, donker waters gaan ná die fratsongeluk wat hul seun Elmo se lewe geneem het. Francois het per ongeluk sy seun doodgeskiet. Op die fiktiewe Overberg-dorpie Swartwater, waarna die Le Rouxs gevlug het, probeer hulle sin maak van hierdie trauma. 

Haar eie broer, wat aan breinkanker oorlede is, het Elmo geheet. Swartwater was ’n tipe ode aan hom. “Ek het gesien hoe swaar my eie ma gekry het met sy dood. Toe besluit ek om ’n reeks te skryf wat ondersoek instel: Hoe oorleef jy so ’n  trauma as jou kind dood is?” 

Die skryfproses was soms close to home, erken Hélène.. “Ek het dikwels daai grens oorsteek.”

Sy het baie by Karen en Francois geleer. “Jy kan nie op ’n hopie gaan sit en jouself jammer kry nie, die lewe gaan aan. Dit klink als soos ’n cliché ... Maar clichés is ’n cliché want dit is waar.  Jy moet opstaan en aangaan. En liefde ... as daar liefde is kan jy enigiets oorleef.”

FOTO Swartwater

Aanvanklik het sy gedink dat Swartwater ná twee seisoene en 52 episodes sou eindig. “Ek was reg om koebaai te sê, want die storie het tot ’n volsirkel oomblik gekom.”

Maar toe, danksy die gewildheid, is ’n derde reeks aangevra. “Ek moes toe mooi gaan sit en dink: Wat gaan volgende gebeur?”

Gelukkig het dit nie lank gevat voor die karakters weer in Hélène se kop kom kuier het nie.

In die derde seisoen, wat uit 26 episodes van 30 minute elk bestaan, bevind die inwoners van Swartwater hulself te midde van ’n erger droogte. “Ek wou ondersoek instel ... Wat sou gebeur as ’n dorp naby die see nie meer water het nie? Jou ware DNS kom dan uit. Jy sien wat gebeur met mense as daar te kort is. Dit affekteer al die karakters.”

Sy meen die tema van droogte in Swartwater kan eintlik na die wêreld toe deurgetrek word. “Daar is ’n morele droogte op die oomblik ... die wêreld shrivel, die aarde shrivel.”

Maar voor jy dink Swartwater 3 gaan net swartgallig wees, belowe Hélène dat liefde in die seisoen gaan heers en seëvier. “Daar is verskeie storielyne oor liefde. Hierdie seisoen is doelbewus ligter as die vorige twee,” verklap sy verder. 

As vryskut-aktrise is daar nooit sekerheid nie. Maar dit blyk of 2021 verskeie projekte vir haar gaan inhou. “Ek is besig om ’n draaiboek klaar te skryf, daar is ’n moontlike rol in ’n sepie en dalk nog een in ’n film. Op hierdie stadium moet als nog bevestig word.”

Gelukkig verskaf haar dekorwinkel Amulet, wat in Hermanus geleë is, steeds eindelose vreugde. Dit leef nou ook as ’n aanlynwinkel, iets wat Hélène tydens grendeltyd mee gewoeker het. “Ek geniet hierdie aanlyn-besigheid vreeslik. Ek sit op my gaai voor die TV, in my pajamas, en werk met transaksies.”

En ja, tannie Poppie van Vetkoekpaleis-faam sal altyd ’n sagte plekkie in haar hart hê.

“Daai karakter het my op die map geplaas. En dan is dit ook die vrotste eiendomsagent in die wêreld Meisie van Rensburg, my karakter in Swartwater. Sy doen als met oorgawe, maar kry als verkeerd.”

- Kyk Swartwater elke Dinsdag om 19:30 op SABC2 (DStv-kanaal 192).