Herman kook – by spoggeleenthede, in die tydskrif, op SARIE.com, met resepteboeke en op televisie. Hy is sedert 2009 SARIE se kosredakteur, het voor 30 al drie resepteboeke die lig laat sien, en vanaf 2015 is hy ook die aanbieder van Via se gewilde kosreeks Inspirasiekos met SARIE, wat nou by sewe seisoene trek.

Sy liefde vir kosmaak het Herman by sy ma, Susan, geërf. In haar Kalahari-kombuis het hy geleer dat ’n mens die wêreld ’n beter plek kan maak met ’n bord vol kos. En dat kos nooit kwaad raak nie.

Toe sy ma vroeër vanjaar oorlede is, het Herman sy pyn en hartseer in die kombuis verwerk.

Herman Lensing en sy ma, Susan. FOTO Instagram / Herman Lensing

Soos hy in SARIE KOS se Herfs-uitgawe, opgedra aan sy ma, skryf: “Hoe neem jy afskeid van iemand wat die middelpunt van jou bestaan was? Net een antwoord, met kos. Want kos bring die mooi herinneringe na vore. Kos help troos as die verlange te veel raak. Wanneer jou trane vlak lê, maak jy hoenderpastei, jy kook sop en jy bak sjokoladekoek. Met elke happie en elke proesel voel jy dadelik die liefde van jou ma.”

Nou bring Herman ook hulde aan sy ma met sy nuwe kosprogram, Dit proe soos huis. Deur haar resepte probeer hy troos vind en herontdek die smake en geure van sy grootwordjare. Hy kook ook saam met ander bekendes wat hul onthou-stories en nostalgiese geregte deel.   

Kyk die lokprent hier:

SARIE.com gesels met hom oor dié nuwe hoofstuk.

Watter herinneringe het jy van jou ma in die kombuis?

Ek sal haar altyd sien in die kombuis met haar bloedrooi lippe en haar groot glimlag, altyd reg om iemand se dag mooi te maak met kos. My ma was gewoon, maar sy kon buitengewone dinge regkry met kos. 

 

As ’n ode aan jou ma ’n viergangmaaltyd was, wat sou op die spyskaart wees?

My ma was lief vir enige kos, sy was dankbaar, nes ek, as iemand vir ons kook. Vir haar sal ek begin met sampioenrisotto, een van die eerste fênsie geregte wat ek vir haar gemaak het as sjefstudent. Dan moet daar lam op die spyskaart wees, maar soos Sondag se lam. Stadig gebak met baie bruin aartappels, sous en rys en natuurlik haar pampoenpoffers. Maar ek sal dit my geur gee om haar ’n bietjie te terg. Iets soos miso by die karamel van die poffers sal haar laat smile. Vir nagereg maak ek Magnums. My eie Magnums. Sy was mal oor Magnums. Dit was haar kroon vir enige feesmaal. En dan genoeg koffie sodat ons lank kan sit en kuier, lag en saam droom oor nuwe dinge.

 

Dit proe soos huis is ’n geweldig persoonlike program. Was daar tye dat die verfilming moeilik geraak het of was elke episode ’n vorm van genesing?

Ja, dit was baie moeilik, ek gaan nie jok nie. Maar soos die reeks aangegaan het, het ek ander emosies begin ervaar. Elke dag was anders. Party dae moeiliker as ander. Maar ek moes iets vind om te help met die genesing van die pyn. Kos is my genesing. Stories vertel is my pleister en my vriende is my medisyne. Ek het al drie gekombineer vir hierdie “gesondword”. Ek reken wel ek moet dit konstant toepas, want ek kan nie dink dat die pyn ooit sal verdwyn nie.

 
Sy ma, Susan, op 16. Herman erken sy is die rede dat hy ’n diep liefde en respek vir kos het. FOTO Instagram / Herman Lensing

Wat is die een lewensles wat jy by jou ma geleer het?

Sê altyd eerste dankie, en sê baie dankie. Jy is net so goed soos die mense met wie jy jou omring. Hulle is die grootste dankie altyd werd, want sê jy gereeld dankie, bring jy die beste in mense na vore.

 

Watter bekende vriende gaan saam kook op Dit proe soos huis?

Daar is baie van Marinda Engelbrecht, wat soos my tweede ma is, Donnalee Roberts en Cintaine Schutte, wat diep in my hart geëts is. Dean Smith van Suidooster-faam kom ook kuier. Daar is elke episode ’n ander gas. Ek verkies om hulle eerder as vriende te sien, want ons praat oor iets intiems, iets naby aan ons harte. 

 

Jy is een van die hardwerkendste mense wat ons ken – wat dryf jou om van soggens tot saans besig te bly?

Die woorde van my ma: Ons kan die wêreld een bord kos op ’n slag mooier maak. Dis al wat ek wil doen. Ek wil kook, stories vertel en mense se lewe mooi maak. Ek gee nie om om lang ure te werk nie, want ek weet elke stukkie wat ek iewers publiseer, voorsit of bedien is ’n stukkie van my, en as ons almal meer stukkies van ons goed deel, kan die wêreld nie anders as om mooi te wees nie. 

Besig om in die koringlande te kook vir een van sy SARIE Kos-artikels. FOTO Instagram / Herman Lensing

As jy internasionale bekendes om jou kuiertafel kon onthaal – wie sou dit wees?

Die Queen! Ja, die een van Engeland! Ek reken ons twee sal vir ure kan sit en skinder oor die lewe, G&T drink! 

 

Wat is die mees onlangse spog-gereg wat jy gemaak het?

Gisteraand! Macaroni-en-kaas. Want in my kombuis kan alledaagse geregte ook kans kry om spog-geregte te raak: Gooi by jou witsous hande vol parmesaan. Braai chorizo goudbruin en skep dit by. Rooster kersietamaties vir ’n paar minute in die oond tot oopgebars en meng by. Voeg macaroni by. In die oondroosterbak. Bo-op ’n groot hand vol broodkrummels en nog parmesaan. Laat haar stadig bak tot mooi goudbruin. Sit voor met basiliekruidpesto. Maklik, nè! 

En die mees onlangse lui en “stoute” bederf wat jy ná ’n lang dag geëet het?

Jy kan my onder ’n wip vang met ’n geroosterde kaasbroodjie. Maar eenvoudig. Goewermentbrood, baie botter en dan goudgeel cheddarkaas. Sit hom voor met baie kommin tamatiesous, daai een wat nie eens tamatie bevat nie, en ek is in die hemel! 

 

Watter resepte op SARIE.com is van jou gewildste nog?

Cremora-tert! Natuurlik ook my gunsteling. Ek is geen kossnob nie. Kos gaan nie oor die bestanddele nie, dit gaan oor die smaak en emosie wat dit wek. Die wêreld wil mense in bokse sit en gou vertel dat iets kommin is of nie reg nie. Bog! As ek Cremora-tert eet, sien ek weer my grootworddae op Upington. Ek sien elke oom en elke tannie wat om die tafel sit en tee drink. Ek ruik die parfuum, ek sien die snyerspakkies en sykouse. Ek hoor my ma ...

 
Een van Herman se gewildste resepte op SARIE.com: Cremora-tert opgetof! FOTO Donna Lewis

* Dit proe soos huis word vanaf Maandag 12 Augustus weekliks om 17:30 op Via, kanaal 147, uitgesaai.