Hulle het geweet Die Koors kom uit Afrika. Hulle het geweet dit was twee virusse wat kombineer het, een van mense en een van vlermuise (. . .) ’n Man lê iewers in Afrika onder ’n veselperskeboom. Die man se weerstand is laag, want hy is MIV-positief én hy kry nie behandeling daarvoor nie. Daar is al klaar een koronavirus in die man se bloed. Dis nie eienaardig nie. Koronavirusse kom nogal algemeen voor. In die era voor Die Koors het hulle minstens van vier geweet wat griep- en verkouesimptome in mense veroorsaak (. . .) In die veselperskeboom sit ’n vlermuis, met ’n ander soort koronavirus in sy bloed. Die vlermuis is siek. Diarree veroorsaak dat hy mors op die man onder die boom se gesig, sy oë, of sy neus, of sy mond (. . .) ’n Nuwe koronavirus word gebore . . .”

Vervang Afrika met China en maak enkele ander klein veranderinge en dit kan maklik iets wees wat jy die laaste paar maande in die media gelees het. Die woord “coronavirus” is wêreldwyd op almal se lippe. En ons raai-raai nog maar waarvandaan dit kom: vlermuis, ietermagog, genade, dalk mensgemaak? Ons laat mos nie altyd toe dat feite inmeng met wat ons wíl glo nie.

Nes die gewilde krimi-skrywer Deon Meyer sy verbeelding op loop laat gaan het met die skrywe van sy apokaliptiese boek, Koors (2016). Want dis uit dié boek wat die boonste uittreksel kom. Ja, vertel Deon, sy boek hét skielik weer baie aandag in die media gekry, veral in Europa en ook plaaslik. In die eerste paar weke van die inperking het hy daagliks Zoom-onderhoude daaroor gedoen, selfs met ’n radiostasie in Suid-Korea.

Dit was “’n vreemde gewaarwording”, sê Deon, toe Covid-19 sy spiere begin bult en hy besef daar is raakpunte met sy boek. “Met die aanvanklike nuus uit China het ek eers vermoed dit gaan maar net so ’n skrikmakertjie wees. Soos voëlgriep [1996] en varkgriep [2009-’10]. Toe word Wuhan onder streng inperking geplaas en ek wéét: Hier kom ’n ding wat baie aan Koors herinner. Maar ek het darem vroeg in die pandemie se ontwikkeling besef Covid-19 is nie naastenby so dodelik soos die virus in my boek nie.”

Nog ’n skrywer wat dalk regop gesit het, is die Amerikaner Dean Koontz. ’n Fiktiewe spanningsverhaal uit sy pen trek skielik wyd aandag. ’n Skermgreep van ’n bladsy uit die boek, The Eyes of Darkness, wat reeds in 1981 verskyn het, het sedert die pandemie wye draaie op sosiale media geloop. Hy “voorspel” daarin glo die coronavirus.

“To understand that,” Dombey said, “you have to go back twenty months. It was around then that a Chinese scientist named Li Chen defected to the United States, carrying a diskette record of China’s most important and dangerous new biological weapon in a decade. They call the stuff ‘Wuhan-400’ because it was developed at their RDNA labs outside the city of Wuhan, and it was the four-hundredth viable strain of man-made microorganisms created at that research center.”

In die skermgreep is die laaste sin in skreeuende oranje onderstreep. “They call the stuff Wuhan-400 . . .” Tromslae . . . rillings. Pure toeval, het hy deur sy reklameagent laat weet. Dit kos net ’n Google-loer om te sien Wuhan se instituut vir virologie, eers die mikrobiologiese laboratorium, bestaan reeds van die jare vyftig af. Dean het dus bloot sy huiswerk gedoen.

Maar wie weet watter kronkelpaaie vat ’n skrywer se kop? Morgan Robertson se boek Futility vertel die storie van ’n groot skip wat in die noordelike Atlantiese Oseaan sink ná dit ’n ysberg tref. Daar is baie ooreenkomste tussen die skip, die Titan, en die Titanic. Vreemd? Ja, want die boek is in 1898 geskryf, 14 jaar voor die Titanic se donker watergraf.

Kry skrywers dalk soms glimpse van die toekoms – ’n kombinasie van baie navorsing, peins oor ’n onderwerp? Wat dan uiteindelik hande vat met ’n ander, onsiende, nielogiese wêreld? Of is dit meer prosaïes, net ’n reeks lukrake toevallighede?

“Ek vermoed dis ’n kombinasie,” sê Deon. “Skrywers is oor die algemeen groot [nuus-]lesers. Ons is altyd op soek na stories, maar ook nuuskierig en wil in voeling met die zeitgeist bly. Die onderbewussyn word dus voortdurend met data gevoer, waar die verbeelding dit gebruik om te projekteer en ekstrapoleer vir moontlike verhaallyne. In die proses gaan mens sekerlik nou en dan ’n gelukkige ‘voorspelling’ maak.”

As daar “sieners” in sy´ storie is, sal Deon eerste wees om te sê, is dit die twee kundiges by wie hy aangeklop het om geboorte aan sy virus te gee: proff. Wolfgang Preiser, viroloog aan die Universiteit Stellenbosch, en Richard Tedder aan die University College London. Dis húlle wat ’n coronavirus as die beste kandidaat geïdentifiseer het. Hoewel hulle gereken het om 95% van die wêreldbevolking af te maai, soos in Deon se boek gebeur, is gans te pessimisties.

“Gaan kyk mooi na die wetenskapliteratuur van die afgelope twintig jaar en jy sal sien daar was tallose waarskuwings oor viruspandemies, die ontwikkeling van superbakterieë en natuurlik aardverwarming,” hervat Deon. “Dis gedoen deur baie slim mense wat na feite gekyk het. Ek onthou ’n artikel in die nuustydskrif Time hier in 1996 wat deurtastend berig het oor die volgende viruspandemie wat op pad is en dat ons nie voorbereid is nie.”

Die groot vraag is natuurlik nou: Gaan die mensdom hom steur aan die antibiotika-krisis en aardverwarming voor dit te laat is? En die antwoord is waarskynlik “nee”, reken hy.

Daar wás al vele waarskuwings oor virusse deur wetenskaplikes, selfs deur Bill Gates. Skrywers haak net daarby aan, sê fliekfoendi Leon van Nierop. “’n Virus is die laaste paar jaar reeds nuuswaardig en die algemene siening is dat die Derde Wêreldoorlog ’n virus-oorlog gaan wees – sonder dat ’n skoot geskiet word. Eintlik is ons lankal daar. Dink aan biologiese oorlogvoering en die Noord-Koreaanse bedreiging.”

 Hoeveel bedreigings kan daar ook nou in stories uitspeel, gaan hy voort. ’n Virus moet een of ander tyd aan die beurt kom.

Soveel rampe het boonop al die wêreld in flieks getref, daar is niks nuuts onder die son nie. Dink aan reuse-getygolwe wat San Francisco en Los Angeles beslis in die toekoms gaan tref. Nageboots in The Wave (2015), Geostorm (2017), San Andreas (2015) en vele ander.

Een of ander tyd gaan dit gebeur. Profeties? Nee, rolprente gebruik sulke temas om geld te maak, volgens hom, want hul stories raak op.

Deon Meyer FOTO Josie Borain

En so, midde-in die Covid-19- pandemie, beveg Binnelanders se personeel toe ook ’n misterieuse, gevaarlike virus. Nou moet jy onthou, dié TV-sepie word maande vooruit geskiet. Die storielyn is reeds in November verlede jaar gekonseptualiseer en geskryf, vóór die coronavirus toegeslaan het. Net nog ’n storielyn. En heel toevallig dat dit nou, in die tyd van Covid-19 en die grendeltyd, uitgesaai is, sê die vervaardigers op Netwerk24.com.

Sulke stories is meestal vae afskynsels van die werklikheid. Leon onthou hoe baie spioenasiestories in sy kinder- en jongdae al oor virusse gegaan het. “Dink maar aan die eerste James Bonds waar ’n bose wetenskaplike ’n virus op aarde wou loslaat en dan net betyds gekeer word, met die buisie wat in stadige beweging deur die lug trek en gevang word – net betyds! Nie een was juis in die kol nie. Die 2011-fliek Contagion is die enigste uitsondering waaraan ek kan dink wat met verstommende akkuraatheid voorspel het wat tans gebeur. Skrikwekkend profeties en realisties soos dit mag voorkom, bly dit ’n vloekskoot.”

Contagion, met Kate Winslet, Matt Damon en Jude Law, is tydens die pandemie met ’n spoed aanlyn afgelaai en op verskeie webtuistes geanaliseer en gedissekteer. Baie het tot die gevolgtrekking gekom dat dit sekere voorspellings oor die huidige corona-uitbreking gemaak het. “Stephen King het die dodelike virus-ontmoet-die-bonatuurlike gedoen met The Stand [1994],” lui een resensie.

“Steven Soderbergh [Contagion se regisseur] ewenaar dit met iets nog skrikwekkender: die koue, harde, mediese werklikheid.”

Deon som op: “Die groot katastrofe-flieks soos Armageddon en Deep Impact [albei 1998], om nie eens van die zombie-apokalips-genre te praat nie, gebruik ons vrees vir die onbeheerbare [van veral natuurrampe] om ons in die karakters se stryd te laat investeer. Daar gaan altyd ’n sekere persentasie van dié rampflieks wees wat uiteindelik die werklikheidskol tref. En dan is daar die ernstiger fliekmakers – soos Contagion s’n – wat meer ondersoekend daarna kyk.”

As jy egter vuur en swael soos in die katastrofiese flieks verwag het, lyk die werklikheid ’n bietjie anders. Eindelose besprekings oor hoe om van die huis af te werk. En wanneer kan ons weer rook?

In Koors, net soos in The Eyes of Darkness, is die virus natuurlik mensgemaak. Daaroor vlieg baie samesweringsteorieë nou op sosiale media rond. “Ek is nogal verbaas dat sulke mense glad nie Koors as voorbeeld gebruik of met my kontak probeer maak nie,” sê Deon toe ek hom daaroor vra.

“My enigste verklaring is dat dié malkoppies nie lesers is nie.”

Een TV-reeks wat die afgelope drie dekades skynbaar met reëlmaat die toekoms raakvat, is The Simpsons. In ’n episode (in 1997 uitgesaai) wat glo 9/11 voorspel, koop die geliefde geanimeerde familie ’n gidsboek in New York. Langs ’n afbeelding van die Twin Towers staan “$9”, wat glo sinspeel op 9/11. Maar ook dié satiriese reeks se skrywers het nie ’n kristalbal nie. D’oh! Dis die produk van briljante mense wat koppe bymekaarsit, sê William Irwin, Amerikaanse filosofieprofessor en skrywer van die boek The Simpsons and Philosophy. (Ja, die twee woorde staan langs mekaar – en dis boonop ’n ernstige boek wat vir studente voorgeskryf word.)

Daar is talle slim verwysings gemeng met die kwinkslae: Na kuns, literatuur, politiek en die wetenskap. Wanneer soveel intelligente mense iets vervaardig – baie van hulle het glo aan Harvard studeer – gaan daar noodwendig ’n paar verrassende “voorspellings” wees. En deurdat dit so lank reeds op die lug is, is net mooi enigiets moontlik, het Irwin volgens The Irish Times (irishtimes.com) gesê. Weer daai woord, toeval.

In ’n episode rondom die eeuwisseling word ’n toekomstige Lisa uitgebeeld as Amerikaanse president – en sy neem by Donald Trump oor. Hoewel Trump in daardie stadium in die media bekend was, het hy nog nie tot die politiek toegetree nie. Terwyl ons nou oor die Yanks praat: Leon sê (skertsend) die rolprent The Omen waarsku die duiwel self gaan president van Amerika word. Hy word tydens die fliek se verskyning in 1976 daarvoor grootgemaak.

Nee! Nie hy-aan-wie-jy-nou-dink nie. Hy was toe reeds ’n rype dertig.