Op die reisprogram Hokaai, My Meisie! besoek Shari, ’n plaasmeisie van Upington, interessante plekke, doen verskillende aktiwiteit en leer ’n interessant karakter beter ken. Ons het by Shari gaan inloer en haar vyf vrae gevra. 

1. Plaaslike reis neem nou toe, weens die pandemie. Wat maak jou opgewonde hieroor?

O, ja! Ek is so opgewonde en so bly dat Suid-Afrikaners nou hul eie land weer verken. Ek self was een van daai wat bietjie meer in die buiteland gaan toer het. Maar ’n vuur is in my aangewakker, danksy alles wat ek op Hokaai, My Meisie! beleef het. Daar is regtig perfect hideaways wat vir jou wag, daar ander kant die berg. 

2. En wat is jou raad vir elke Suid-Afrikaner wat ’n groot “road trip” wil aanpak?

Beplan jou trip só dat jy die afdraaipaaie vat. Wanneer jy na ’n bestemming toe ry, draai af by ’n dorp en vind uit wat daar aangaan. Ek het geleer dis wanneer jy afdraai wat jy die ware juwele vind en plekke ontdek wat jy nog nooit van te vore sou gesien het nie. Dís wat my so opgewonde maak!

3. Op jou program het jy wonderlike plekke verken. Watter dorp of stad het jou veral verras?

Daar is eintlik nie ’n plek wat ek kan uitsonder nie. As ek dink aan Magoebaskloof, dis so ongelooflik mooi. Die plantegroei ... o, dit voel kompleet of jy in ’n ander land is! En dan Swellendam. Swellendam het my verras! Dis een van die mooiste dorpies – die geskiedenis, die geboue, die gourmet restaurantjies en daai kerk. Ag, St. Francisbaai ook. Dít het my asem weggeslaan. En ek kan aangaan en aangaan. Daar was regtig soveel plekke wat by my ’n blywende indruk gelaat het.

FOTO Hanru Marais Photography

4. Is daar ’n plek of omgewing nog op jou eie emmerskoplys?

As ek dink aan Suid-Afrika is daar twee streke wat ek nog nie behoorlik verken het nie: KwaZulu-Natal en die Transkei. Ek dink dis van die mooiste plekke in ons land. Maar ek was een keer deur die Transkei met my seuns toe hulle nog bitter klein was. Ek sal weer plekke soos Hole-in-the-Wall en Koffiebaai wil gaan sien. En dan die Natalse Midlands en die Drakensberge is net van die goed wat ek op my emmerskoplys wil afmerk.

5. Padkos raak ook ’n tendens. Wat is gewoonlik op jou padkos-lysie?

Ek is ’n karnivoor. So alles wat te make is met ’n vleisie: ’n Frikkadel, biltong, droëwors. Dáái is nou my ding! Maar my ondergang, wat ek nie eens wil sien nie, is slaptjips. Ek het die Sandveld-omgewing, daar naby Lambertsbaai, gaan besoek en hulle het die Sandveld-aartappels. Luister hier ... Bly weg! Jy raak verslaaf! Ek het beslis ses kilos net daar opgetel, want ek het omtrent net die aartappels geëet.

Moenie Shari se volgende avontuur misloop nie. Hokaai, My Meisie! wys elke Saterdag om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144). Die vorige episodes is beskikbaar op Catch Up.