Daai fronslyne op Deon Lotz se voorkop laat hom nogal beneuk lyk. Daaronder is ’n paar groen oë wat nie ’n aks wyk nie. Onderstreep deur ’n gryserige volbaard en snor, gekweek vir sy rol as die stinkryk patriarg in die M-Net-telenovelle Legacy. Die een wat in die eerste episode deur sy dogter van ’n krans afgestamp word.

Daar is beslis geen vervelige oomblik in Deon se wyd uiteenlopende repertoire van rolle nie. As Francois, ’n man met donker drange in die internasionaal bekroondefliek Skoonheid, grillerige Smiley in die TV-reeks Die Byl, arme ou Vleis in die satiriese fliek ’n Pawpaw vir my darling . . . Hy is een van ons produktiefste akteurs met vele bekronings agter sy naam.

“A ferociously powerful, yet subtle and complex performance . . .” beskryf die Britse koerant The Guardian sy spel in Skoonheid.

Met gereelde reëlmaat keer hy egter terug in die rol van die streng, rigiede ou met die militaristiese klap wat die lewe in wit en swart sien. Een manier, my manier.

Maar Deon, wat is dit met jou en die dinosourus-manne? Ek dink jy’s eintlik ’n ou softie!

[En Deon gee een van daai stip kyke. Knik dan, ja, eintlik is hy nie só nie.] Nicola, my dogter, vra jare gelede terwyl ons fliek: “Dad, are you crying?” Want sy weet as daar ’n mooi toneel is, stort ek ’n traan. Ek i´s ’n softie en kan my inleef in mooi momente. Dit vóél. Iemand vra hoe kry ek dit reg om voor die kamera te huil. Maar jy moet daai moment belééf . . .Ek is nie skaam om emosioneel oor goed te raak nie. Madeleine [Reyneke, sy liefie] sê altyd dis ’n goeie ding as’n man oor sy gevoelens kan gesels.Dis ’n pluspunt in ’n verhouding. Daai ding van mans durf nie huil nie, dis nonsens en ek leer my kinders dit ook. Dis juis omdat ons nie emosies wys nie, opkrop, dat soveel goed verkeerd loop. Ek wys seker te veel emosie as dit by persoonlike goed kom, ek loop te veel met my hart op die mou. Jy sê dan te veel, of sê goed wat later ’n probleem kan wees. Dalk kry ek sulke rolle juis omdat dit die teenoorgestelde is van wie ek regtig is. Dis ’n uitdaging om daardie soort karakters te vertolk

Ek is seker dis daai frons van jou. Wat maak jóú beneuk?

[Sy frons verdiep.] Ek’s ’n ou wat lank vat om kwaad te word. Maar as ek dit die dag doen, raak ek rêrig kwaad.

Wanneer was die laaste keer?

Ag nee, lanklaas. Wee’ jy wat my frustreer, is swak diens. Dis maar my jare in die hotelbedryf. As jy by ’n winkel of plek kom waar hulle nie’n snars omgee nie.

Sal jy uitbars?

Ek het al my momente gehad waar ek ’n bietjie van ’n scene maak.

So ’n Charlize-Theron-in-die- bank-scene?

Nee, nie so erg nie. Ek sal eerder ferm wees: “Dit kan nie so werk nie. Asseblief, ek soek nóú die bestuurder.” Ek sal dit reg probeer hanteer, maar soms verloor jy jou cool, nê?

Professionalisme is ’n eienskap wat jy geslyp het in jou dertien jaar van vyfsterhotelle bestuur. Toe jy in 2001 besluit sekuriteit  is nie als nie, jy gaan jou hart volg en toneelspeel, was jy meer volwasse, rustiger. Dit het jou dalk die insig gegee wat by baie jong akteurs kortkom – en dus ’n voorsprong.

Dis altyd moeilik om by die bedryf in te kom. Dis soos [veteraan-akteur] Cobus Rossouw op die stel van Faan se trein vir my sê: “Waar was jy al die jare?” Nicola het drama aan Rhodes geswot en in 2019 klaargemaak. Nou werk sy in restaurante. Hoe gee ’n ou haar nou raad, watter kant toe?

Wat sal jou raad aan haar en ander jong akteurs wees?

Kyk, moenie op een ding fokusnie. Nicola het ’n gawe vir skryf, in Afrikaans en Engels, ek dink dis haar nering. Gaan werk by ’n film- of TV- maatskappy waar jy kan skryf, begin onder, word ’n runner. Skep vir jouself werk, moenie sit en wag nie. Want as jy een ding doen, gaan daar drie ander deure oop. Niemand gaan jou kontak as hulle nie weet wie jy is en wat jy kan doen nie. Moonyeenn Lee, my agent in Johannesburg wat onlangs aan Covid-19 dood is, het gesê dis harde werk om ’n regte akteur te wees. Jy behoort nie aan jouself nie en jy moet heeltyd gesond, fiks en gefokus bly op die einddoel. Verloor jy fokus, begin jy aan jouself twyfel en dan maak jy verkeerde keuses. Fokus, weet waarheen jy op pad is. Baiekeer wil jy in jou kop meer op internasionale flieks fokus, dit of dat. As dit nie werk nie, moet daar’n plan B wees. Maak vrede met plan B. Die internasionale ouens kom in elk geval hiernatoe.

Jou seun, Liam, studeer in Duitsland. Sal jy hom aanmoedig om oorsee te bly?

Hy werk by ’n elektriese maatskappy en studeer terselfdertyd elektriese ingenieurswese, hulle betaal alles. My broer se twee dogters is oorsee, my sussie se een seun ook. En ja, dit was my raad aan Liam. Dinge in ons land gaan eers slegter raak voor dit verbeter. En die wêreld het klein geraak. Ons bel mekaar en praat ’n uur lank. Hy het vlot Duits leer praat, al was tale nooit sy ding nie. Hy het eerder ’n wiskunde-kop.

Is die glas in Suid-Afrika halfvol of halfleeg, volgens jou? Selfs ekonome verskil . . .

Ek is ’n selfmotiveerder en wil altyd die blink kant sien, maar is bevrees ons gaan nog swaar kry. My glas, sjoe, is halfvol. Maar die glas het begin kraak en ek is bang dit begin lek ...Ek bly egter positief, daar is mense soos Thuli Madonsela, Herman Mashaba, Moeletsi Mbeki, daai tipe ouens wat insig het en teregwys en sê, nee, ouens, julle kan nie so aangaan nie, kan dit nie so doen nie.

Jy het tydens die inperking onder streng regulasies aan Legacy gewerk. Hoe sien jy die toekoms van die akteursbedryf post-Covid-19?

Ek doen baie stemwerk van die huisaf en goddank, tydens die inperkinghet dit my gehelp. Ek dink aanlyngoed het gekom en gegaan. Mense gaan nie R150 vir ’n konsert betaal om by die huis op TV daarna te kyk nie. Gaan mense rolprentteater toe gaan? Daarvoor gaan daar altyd ’n behoefte wees, reken ek. Of inryteater gaan terugkom? Ek weet nie of mense tyd vir sulke goed gaan maak nie. Dit hang van die jonger generasie af en hulle kyk als op hul foon.

Legacy is in die telenovelle- formaat, baie gewild in lande soos Brasilië. Hoekom? En was die oorskakeling vir jou as rolprentakteur moeilik?

Dis nie soos ’n sepie wat jaar in en uit aangaan nie. Die telenovelle strek oor ’n spesifieke tydperk, sê nou maar 200 episodes. Die storielyn is relevant en dinge soos Covid-19 word betrek. Die spanningslyn kan egter tot aan die einde behou word. Ag, dis steeds kamera en dis ’n lekker medium. Dus was die oorskakeling nie moeilik nie.

Wanneer voel jy jy het behoorlik onder ’n karakter se vel ingekruip?

Ná die fliek Shepherds and Butchers kry ek ’n e-pos [sy karakter, Rautenbach, hou toesig oor beamptes wat terdood- veroordeeldes na die galg begelei.]: “Hoor hier, my pa het daar gewerk en ek het nooit verstaan waardeur hy gaan nie. Nou verstaan ek hom beter.” Ek kry koue rillings. As jy een ou só kan raak, vrede kan gee, is dit die moeite werd. Ook ná Roepman het mense gesê: “My pa is net so, streng.” Verstaan jy, ouskool. As jy ’n vertolking kan lewer waarmee mense hulle kan vereenselwig, het jy jou doel bereik.

’n Karakter wat net plein boos was, was Smiley in Die Byl. Waar gaan krap jy in jouself vir daai donkerte?

Dis maklik, mens moet net sekermaak jy kom weer daaruit. Ek kan verstaan hoe ouens wat iets verkeerds gedoen het, net kan aanhou. Jy raak opgeslurp deur die donkerte en gee nie meer om nie. Dis een ding wat ek met Skoonheid agtergekom het. Tydens die verkragtingstoneel in die hotelkamer het ek, as Francois, net mooi niks gevoel nie. Dieselfde geld vir Smiley. As Deon besef jy egter, jislaaik . . . In ’n Man soos my pa moes my karakter homself om die lewe bring en dit was moeilik. Want ek kan myself nie indink hoe jy jouself kan skiet nie. Dit bly dae by my en daardie dag op stel vra almal: “Hoor hier, is jy oukei?” En ek wil net uitgelos word. Toe’sek dáár, verstaan jy. Goddank, ná die toneel geskiet is, was ek saam met Waldi Schultz en Brendon Daniels in die komiese stuk Hie’ sit die manne by die US Woordfees. Die oggend skiet ek myself en die middag hou ons partytjie op die verhoog!

Rof! Stres jy ooit oor waar jou volgende werk vandaan gaan kom?

Nee. Toe ek die hotelbedryf verlaat,het ek my voorgeneem ek gaan dit nie doen nie. Want dan raak jy desperaat en dit gaan in jou vertolkings wys. Eerder wil ek glo daar gaan weer geleenthede wees. Dit hou my ook op my tone, sodat ek harder werk as ek ’n oudisie doen. Iemand vra nou die dag: Doen jy nog oudisies? En ek sê, ongelukkig, ja. Maar ek het my daarmee versoen. Nie almal is [vervaardiger en regisseur] Koos Roets wat sê: “Hierso is twee rolle, kies een” nie. Soos hy met die fliek Gerrie gedoen het nie. [Vir die fliek, wat weens Covid-19 nou eers in 2021 gemaak word, kon hy kies tussen die rolle van bokslegende Gerrie Coetzee se pa, of sy oom Fielie. Hy het Fielie gekies, vir eens ’n ligte, humoristiese rol.]

Jy en Madeleine is nou vier jaar saam, jou eerste lang verhouding na´ jou egskeiding so sewe jaar gelede. Hoe herhaal mens nie weer dieselfde foute nie?

Mens loop daardie gevaar. Daai ding van tyd en hoe om jou loopbaan te bestuur sodat dit nie ’n groot impak op die mense om jou het nie. Dis moeilik want jou werk is dikwels uitdagend. Jy raak in jou kop betrokke by jou rol en leer jou woorde en is heeltyd aan die gang daarmee. In ’n verhouding waar jy die ander mens respekteer, moet jy die regte keuses maak. Dis nie altyd maklik nie en veroorsaak intense gesprekke en struwelinge binne enige verhouding. Dis ’n moeilike bedryf vir iemand om te verstaan wat nie deel daarvan is nie. Jy moet hard daaraan werk, maar as die liefde ’n prioriteit is, is dit ook nie sulke harde werk nie.

Sy is ’n eertydse LO-onnie en het ’n droëvrugtewinkel op Melkbos. Wat is pluspunte dat sy buite die bedryf staan?

Beach Bites, ja. Sy’s deel van die realiteit – en die bedryf nie altyd nie. Daar is baie voorgee, mense probeer ander beïndruk . . . die glamour is nie so glamorous nie. Die mense buite die bedryf, jou kinders en geliefdes hou jou voete op die grond.

En jou hond . . .

Scooby, ja, ons het hom by die SPCA aangeneem. Wat ’n karakter, mens kan amper nie glo iemand sal so ’n hond by die SPCA aflaai nie. Hy’s so liefdevol. Hy kyk jou só aan, met soveel liefde en waardering. Hy’t ’n tweede kans gekry.

Sy forever home. Moonyeenn, Paul Eilers, Elize Cawood, PG du Plessis . . . mense saam met wie jy gewerk en vir altyd gegroet het.

Paul was soos ’n pa vir my. Ek kry nou die dag ’n e-pos wat hy vir my gestuur het. “Hallo ou grote,” skryf hy. Vir my was hy Eil, of ou Polla. Ja, jy besef jy moet uitreik na die mense wat spesiaal is in jou lewe. Een van my grootste vrese is seker om siek te word. Soos my ouers, albei reeds oorlede. My pa, Hannes, het Alzheimers gehad, kanker het hom uiteindelik gevat. My ma, Isabel, Parkinsons. Maar dis dalk een van my grootste dryfvere ook. Om my brein aktief te hou . . . fiks te bly. Jy weet nie wat voorlê nie. En jy besef [hy gee ’n laggie] jy moet maar inpas wat jy kan. Regmaak waar jy moet. Alles kan nie net oor werk gaan nie. Balans . . . balans . . . Dis bietjie van ’n heroriëntering wat ’n ou nodig het.

Hy dink baie oor goed na, leef dikwels in sy kop en wil gedurig bly leer, ontwikkel as mens. Miskien is dit wat die verskillende karakters aan hom doen. Hom laat groei, sê hy. “Maar dan is dit maklik om ander se probleme en issues te hanteer en weer as Deon uit te klim. Sou jy my egter vra om myself te speel, wat sal mens dan doen? Dit sal nogal interessant wees, moeilik wees.”

Hy lag en sy hele gesig lag saam. Beneuk? Sê wie!