’n Amptelike persverklaring som die nuwe seisoen só op: ’n Baba verdwyn van ’n plaas in die Noord-Kaap. Haar ouers word dood aangetref. Beide die oppasser en die baba is spoorloos. Wat het daardie verskriklike nag gebeur? Wie het die ouers vermoor en hoekom is die dogtertjie ontvoer?  Vyftien jaar later kry haar familie die tyding: Sy is gevind.

“Niemand is onskuldig nie. Kykers kan verwag om op hul tone gehou te word. Dis vinnig onverwags, dis slinks,” verklap Jane oor seisoen drie. “Tog, is dit ongelooflik menslik. Dis gewone mense met gewone probleme en behoeftes.”

Vertel meer oor jou karakter in Spoorloos: Steynhof”.

Adri is vyftien en ’n alleenloper. Sy is onbehep met gewild wees en die nuutste modes. Haar eksentrieke styl en krokodilvel, bevestig dat sy lankal opgegee het om in te pas. Sy is slim, aanpasbaar en braaf. Haar ma het ’n selfstandigheid en realistiese uitkyk op die lewe in haar gekweek, wat haar ’n ou siel maak. Tog, agter die mure van selfbehoud, skuil daar ’n brose jong meisie, wat eintlik op soek is na aanvaarding, vriendskap en sekuriteit ... nes ek en jy.

Jy speel die hoofkarakter. Hoe maak jy seker dat daardie druk en realiteit nie onnodige vrees kweek nie? Of was dit by tye iets waarmee jy gesukkel het?

Ek herinner altyd myself: Pressure is a privilege. Dis ’n voorreg om vertrou te word met dié tipe verantwoordelikheid. Om dit verder te verhoed, maak ek staat op fokus. Wanneer ek werk, verloor ek myself in die storie en in my karakter se wêreld. Ek sny af. Elke rol is ’n kans om iemand se storie te vertel, om lewens te raak en ’n impak te maak.

FOTO Instagram / Jane de Wet

Daar is ’n paar groot name, soos Diaan Lawrenson en Vinette Ebrahim, wat deel is van die rolverdeling. Was daar iemand by wie jy ’n waardevol les geleer het?

Franci Swanepoel, my beskerm-mamma en die toonbeeld van “wat jy sien is wat jy kry”. Ek het lanklaas iemand so onpretensieus en plat op die aarde ontmoet. Sy het my gewys dat dit moontlik is om uitmuntende werk te lewer, sonder om vasgevang te word in die oppervlakkigheid van roem. En dat dit okei is om jouself te wees, teen die grein te gaan, ’n stem van jou eie te hê én grense te stel. Ek het eindelose respek vir haar as akteur én mens. En goeie genade, het ons pret gehad op stel! Sy het my daagliks herinner om nie die lewe te ernstig op te neem nie.

FOTO Lindsey Appolis

Die kunste het ’n bloedneus gekry en ons sien nou nog die blywende effek van Covid. Hoe het jy in hierdie onsekere tyd probeer kophou?

Geloof, geduld en genoeg wyn. Elke dag is ’n testament van God se genade en getrouheid. Ten spyte van die gebrek aan werk, het ek ’n ongelooflike, bonatuurlike vrede ervaar, veral tydens vlak 5-inperking. Ek het gelees, kosgemaak, geslaap, gestap, joga gedoen, films gekyk en selfondersoek ingestel. Dit was ’n tyd van herevalueer, mediteer en asemhaal. Ek het besef hoe totaal oorwerk en uitgebrand ek was. Ek was dankbaar vir die geleentheid om terug te keer na ’n plek van homeostase. Nes Adri, is ek geneig om ’n alleenloper te raak. Die pandemie het regtig my solo-mentaliteit uitgedaag. Ek was opnuut bewus gemaak van die pyn, onsekerheid, eensaamheid, vrees en algehele menslikheid wat ons bind. Ek besef ons bestaan nie in isolasie nie. Ons woorde, gedrag en gedagtes affekteer mekaar. En in daardie wete berus vernuwe empatie en medelye.

Jy het ’n ongelooflike band met jou ma het. Wat is die belangrikste lewensles wat sy jou geleer het?

My ma is my rolmodel, beste vriend, vertroueling, vangnet, my grootste aanhanger en ondersteuner. My hele wêreld in een mens. Ek dink die belangrikste les wat sy my geleer het is om my eie intuïsie te vertrou. Sy is ’n fantastiese klankbord en selfs mentor, maar sy sal nooit vir my sê wat om te doen nie. “Jy weet reeds.” Dís die frase wat my gelyktydig teen die mure uitdryf en my verhouding met my intuïsie daagliks versterk.

FOTO Instagram/Jane de Wet

Wat bring die beste uit jou uit: ’n verhoog of die kamera?

Beslis die kamera! Ek dink ons is ons beste self wanneer ons gemaklik is. Wanneer ek op ’n film stel instap, voel dit asof die hele wêreld my welkom heet: Jy’s terug, jy’s tuis. Ek dink dis seker maar wat ’n roeping is. Die ding wat jou oë laat blink en jou vuur aansteek, maar terselfdetyd, ongelooflike vrede bring. Teater is vir my amper té intens. Jy is so ontbloot en kwesbaar tydens ’n optrede – ek vind dit baie stresvol. In film kan ek skuil agter die kamera. Dit bied gerusstelling.

Jane beskou haar ma as haar hele wêreld. FOTO Instagram / Jane de Wet

Die lewe van ’n vryskut-aktrise is nie maklik nie. Jy moet versigtig kies, maar kan nie noodwendig werk net wegwys nie en om ’n vakansie te vat kan dikwels ’n ongewenste stilte in jou loopbaan veroorsaak. Hoe maak jy tyd vir jouself en vir jou welwees?

Voor die pandemie was daar verseker tye waartydens ek skaars grondgevat het. Jy kan nie jouself so tot op die been werk en verwag dat jou fisiese- en geestesgesondheid nie daaronder gaan ly nie. Al die tekens van uitbranding was daar, maar ek het dit regverdig met die deuntjie wat die industrie in ons indoktrineer: Wees net dankbaar jy het werk. Dit het ’n pandemie gekos vir my om te besef ek mág nee sê, ek móét soms nee sê om myself te beskerm. Nie alle geleenthede wat oor jou pad kom is noodwendig vir jou bestem nie. Dus bid ek daagliks vir onderskeiding en wysheid. Ek sê nou makliker nee as ek vermoed my gesondheid gaan daaronder lei. Dankie Mamma vir goeie intuïsie! Roetine is vir my ook van onskatbare waarde, veral tydens tydperke van stilte. Kosmaak, dans, skryf, oefen, mense en aktiwiteite wat my koppie vul. Dís my behoud.

Watter projekte lê nog in die pyplyn voor?

Daar is ’n paar voltooide projekte wat binnekort vrygestel gaan word. Ietsie van alles! ’n vollengte speelfilm, Vlugtig, waarin ek en Arno Greeff so bietjie met jul koppe gaan smokkel. ’n Kortfilm, The Other Side, waarin ek en Greg Kriek mekaar te lyf gaan. En ’n Amerikaanse riller, Slumber Party Massacre, vol bloed, derms en gevegte met kussings. Die bedryf is baie dinge, maar vervelig is dit beslis nie.

FOTO Instagram / Jane de Wet