Sewe Ghoema-musiektoekennings op sy naam en die baardman glimlag breed - ja-nee, die sanger Jo Black is baie dankbaar vir die erkenning wat hy en sy span musiekmakers vir hul harde werk vanjaar gekry het. "Dis 'n lekker gevoel - ons het 304 shows gegee en 170 000 km in 10 maande afgelê," vertel hy.

Nou sien hy uit na die winter, sy gunsteling-tyd van die jaar. Hy hou daarvan om hom warm op te bondel teen die koue. "Dan kan niemand sien ek het 'n boepens of dubbelken nie. En ek kry nie so warm nie. In die somer sweet ek so met my baard ..."

Wintertyd, meen hy, het hy darem réde om baard te groei. Hul gesin is "huismense", vertel hy. "Met dié dat ek so baie weg is van die huis, kyk ek en my vrou, Debbie, en die dogters, Dinieke (9) en Miané (6), lekker BoxOffice movies of ons gaan uit en fliek. Ons doen huisgoed saam met mekaar."

En hulle eet graag sy vrou se biltongsop, sy gunsteling-gereg om bietjie warm te word. "Ek is mal oor biltong, dis my stapelvoedsel." Hy maak nie eintlik kos nie, maar hou wel van braai.

Maar hy onthou sy kindertyd se lekker kos van sy ma. "Sy gooi by alles room, so alles wat sy maak is lekker."

Probeer gerus dié biltong-roomsop:

DEBBIE SE BILTONG-ROOMSOP

BESTANDDELE

* 1/2 koppie botter

* 1 koppie meel

* 500 ml melk

* 500 ml beesaftreksel

* 2 koppies poeier-biltong

* sout en swartpeper

* 2 koppies room

* fyn skyfies biltong, om voor te sit

METODE:

Smelt botter en roer meel by, voeg melk bietjies vir bietjies by en dan ook die beesaftreksel. Verhit tot kookpunt en prut tot verdik. Voeg biltong by en laat baie stadig prut. Voeg sout en peper na smaak by. Roer die room by en haal af van hitte. Sit voor met paar skyfies biltong bo-op.