Sy het die wêreld gesien, sy het voor groot skare gesing, sy het aan roem se tafel gesit. Maar as Katie een oomblik moet herroep wat ’n blywende impak op haar lewe gemaak het, is dit ver verwyderd van daardie verblindende kollig. Dis in die berge van haar geboorteland, Georgië.

“Ek het saam met my pa [Amiran] die Kaukasus-bergreeks by die Swartsee gaan verken. Dit was ’n oomblik van pure vergenoegdheid. Niks anders het saak gemaak nie. Dit was net ons, die natuur, die hier en nou.”

En terwyl hulle oë die kronkellyne van die bergreeks gevolg het, het weemoed in hul harte kom spruit. “Ons het geweet dat ons, as ouer en kind, dalk nooit weer hierdie bergreeks saam sou sien nie.”

Tyd is immers onvoorspelbaar, voeg Katie by. “Niks is ’n gegewe nie, niks is gewaarborg nie.”

Dit het vier jaar geneem voor Katie haar agste album vrygestel het. En op Album No.8 met die lied “Leaving the Mountain” het sy hierdie einste herinnering ewig vasgevang. Haar musiek het nog altyd haar lewensoomblikke en emosies uitgebeeld. Hoe dan anders?

Van kleintyd af was Katie aangetrokke tot woorde, lirieke en stories. Dis in woordvorm wat sy haarself die beste kon uitdruk. “Ek was nog altyd gefasineerd met tale. Hoe taal kan bind en skei. Jy kan soveel ontleed deur wat mense sê en hoe hulle iets sê.” 

En weef jy melodie en liriek saam, vind ekwalibrium plaas. “Pure magic,” sê Katie, terwyl haar donkerbruin oë glinster.

Op 19 het sy haar eerste album, Call Off The Search (2003), uitgereik. Binne vyf maande is 1,8 miljoen eksemplare verkoop. Met elke album het Katie net gewilder geraak. In ’n stadium was haar albums topverkopers in Brittanje en Europa. Haar liedjie “No Fear of Heights” was op die klankbaan van die Hollywood-fliek The Tourist (2010) waarin Angelina Jolie en Johnny Depp gespeel het.

Maar in daardie jaar het die roem vir haar te veel geword. Soos Ikaros het sy te naby aan die son gevlieg en Katie het ’n senu-ineenstorting gehad. Dokters het haar aangeraai om dadelik op te hou werk, en al haar konserte is gekanselleer. Sy is vir ses weke in die hospitaal behandel.

FOTO Instagram / Katie Melua

As sy terugkyk was dit die beste ding wat met haar kon gebeur het. “Jy leer uit jou verlede, uit jou terugslae. Ek is meer gegrond. Ek kyk nou met ander oë na die bedryf. Ek is sterker, ek luister na myself, na my liggaam. Ek is sagter op myself. Dit gaan oor my musiek ... oor my lirieke, roem is nie die fokus nie. En ek omring myself met goeie mense, wat my optrek, nie afbreek nie. Ek is nou gelukkig ... en ja, ek is genoeg.” 

Sy is ook meer teenwoordig, sy neem elke oomblik sorgvuldig in. Of dit nou op ’n verhoog is voor ’n skare van duisende of in die natuur ... terwyl die wind oor die berge sing.

Musiekvideos van Album No.8:

Volgens Katie is hierdie drie musiekvideos vervolgverhale. Haar karakter raak verlief, die verhouding word verbreek en sy leer om weer te glo sy is genoeg