SARIE Voorbladgesig word met trots geborg deur Isa Carstens Akademie en Lavish’d.

Wat is jou verhouding met jou vel en hare?

Ek behandel myself soos ek my geliefdes behandel - met sagtheid, liefde en baie geduld. Ek is die eienaar van Opatra SA, ‘n franchise van die luukse internasionale handelsmerk Opatra London, ons voer hoë gehalte skoonheid-toestelle in en verskaf dit aan professionele salonne regoor Suid Afrika. Ek is dus baie betrokke by skoonheid en velsorg en kyk baie mooi na myself. Ek verlaat die huis nie sonder ’n goeie sonskerm nie en drink 2 liter water per dag. Die son en dehidrasie is jou vel se grootste vyand. Wat my hare aanbetref probeer ek so min as moontlik hitte gebruik en maak seker dat my dieet genoeg goeie vet en vitamine bevat sodat dit ’n natuurlike glans het en in die beste moontlike gesondheid is. Ek is ook dol oor my eie natuurlike maskers maak en bly ver weg van te veel met haarkleur te eksperimenteer. Ek is die afgelope 13 jaar dieselfde skakering blond en ek is doodgelukkig daarmee.

Wat beteken SARIE vir jou?

In 2017 het ek my vlug vanaf Istanbul na Suid-Afrika verpas toe ek aan die slaap raak gedurende die lang vertraging tussen vlugte. Om dinge meer interessant te maak, het ek per ongeluk my beursie saam met my hoof-bagasie ingepak en al kontant wat ek gehad het was 5 Euro in my paspoort. Die eerste vlug waarop hulle my kon akkommodeer was eers oor 72 uur. Ek was geweldig verveeld en eensaam in ’n vreemde land en omring met vreemde mense. Dit was op dag twee gedurende my baie “window shopping sessies” dat ek tot my verbasing ’n SARIE tydskrif op ’n koffietafel raakgesien het! Dit het gevoel asof ek ’n ou vriendin raakloop! Ek het nog nooit so lekker gelees nie en was nog nooit so gelukkig om ’n tydskrif te sien nie. Soos ’n glas water in die woestyn, so is SARIE vir my.

Het jy voorheen ingeskryf? Hoekom/hoekom nie?

Ek het nog nooit voorheen ingeskryf nie. Ek wou nog altyd maar ek het baie gesukkel met my selfbeeld en het nie geglo ek sou dit eers in die Top-40 maak nie. Hierdie jaar wou ek eers my jonger sussie inskryf vir die Nuwe Gesig-wedstryd, maar sy het absoluut geweier en vir my gesê sy voel nie goed genoeg nie … Hoe goed ken ek nie daardie gevoel nie? Sy is natuurlik ongelooflik pragtig, maar ek het in daardie oomblik besef dat elke mens op sy eie tyd groei en dat dit ek is wat nou moet inskryf. Toe ek my inskrywing vir SARIE stuur het ek dit met mening gedoen en met selfvertroue. Ek het nie ingeskryf met die houding van “ek glo nie ek gaan inkom nie”, ek het myself ingeskryf om vir myself, vir my sussie, en vir elke dame wat hiermee identifiseer, te wén.

Wat is jou boodskap aan ander vroue?

Ek wens meer vroue sal besef dat om ’n ander vrou te help wen, om haar aan te juig, vir haar te bid, of om haar te ondersteun ... nie wegneem van die seëninge wat jou toekom nie. Iemand anders se sukses maak jou nie minder suksesvol nie. Ek voel baie sterk hieroor en lewe daagliks volgens hierdie waardes. Vier mekaar se sukses, gun mekaar ’n plekkie in die kollig, en wees werklik gelukkig vir ander se goeie nuus. Jy weet jy is genoeg wanneer jy almal soos iemand laat voel terwyl hulle in jou geselskap is.

Wat beteken die konsep “ouderdom” vir jou?

Dit herinner my dat die lewe te kort is om enigiets half-hartig te doen. As ons geweet het hoe min tyd ons eintlik het sou ons niks daarvan wou mors op negatiewe dinge nie. En dan natuurlik soos my ouma altyd sê: “Met grysheid kom wysheid.” Hoe waar is dit nie.

Wie is jou grootste bron van inspirasie? Hoekom?

My pa. Sonder twyfel. Sy lewensverhaal gee my hoendervleis en is die krag wat my dryf om die beste van my lewe te maak. Hy was skaars 10 jaar oud toe hy een oggend wakker word saam sy drie jonger sussies en albei ouers is net skoonveld. Vir dae lank het my pa seker gemaak sy sussies het ietsie om te eet, terwyl hulle alleen en verward wag vir iemand om huis toe te kom. Dit was eers toe die welsyn opdaag en hulle almal kinderhuis toe neem wat hy besef het sy ouers kom nie terug vir hulle nie. Drank was nommer een in die huis en kindermishandeling was die norm. Hy is vandag ’n suksesvolle man wat sy vrou en sy kinders op sy hande dra en is die steunpilaar waarop ek nog altyd kon staat maak. Sy liefde, beskerming, waardes, en eerlikheid is die konstante in my lewe en ek is ongelooflik lief vir hom en trots op hom.

Ontmoet die SARIE Voorbladgesig Top-10 hier