Destyds het hy groentjiekonserte by die Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria begelei. Vandag kry hy staande applous in die Carnegie Hall in New York. Vir Ben was daar nooit ’n plan B nie. Vandat hy kan onthou, wou hy ’n pianis word.

Seunskole is dikwels behep met sport en daar is nie altyd ’n plekkie in die son vir seuns met ’n liefde vir musiek, drama en die visuele kunste nie, maar Ben is vol lof vir Affies. “Die seuns was meestal twee keer my grootte en daar was omtrent twintig rugbyspanne per jaargroep, maar dit was ’n skool waar jy regtig jou individualiteit kon uitleef.” Dit was nietemin steeds angswekkend om in die saal voor ’n klomp seuns klavier te speel. “Beslis ’n goeie vuurdoop!”

Ben dink met ’n groot glimlag terug aan sy skooldae. “Daar was ’n liederlike ou vleuelklavier in die saal; dit was nie eens goed genoeg vir Chopsticks nie.” In ’n stadium is ’n ou snoepie omskep in ’n oefenkamer waar die musiekkinders ’n heenkome kon vind. “Ek het dikwels daar weggekruip en waarskynlik Franz Schubert gesit en speel wanneer die res van die skool gees vang!"

As kind was hy maar lui om te oefen en hy bieg dis steeds nie altyd plesierig nie. “Maar as ek eers begin, dan is dit vir my lekker. Dis soos gim.” Ben oefen dikwels ses tot agt uur per dag. “Ek het ’n baie moeilike loopbaan gekies. Musiek is ’n harde slawedrywer . . . daar is nie baie tyd vir rus nie. Ek vind dit uitputtend as ek eerlik moet wees.”

Hy het intussen die waarde van ’n gebalanseerde lewe geleer, en is lief vir lees en om bier saam met vriende te drink. Hy kyk ook graag televisiereekse soos die Deense politieke drama Borgen op Netflix.

In die 20 jaar ná matriek het hy geleer jy moenie skaam wees oor jou identiteit nie. Hy bly al langer as ’n dekade in Londen en ten spyte van sy liefde vir die Verenigde Koninkryk en Europa, bly hy trots Afrikaans en Suid-Afrikaans.

Hy is geseënd met ’n magdom hoogtepunte in sy lewe. “Daar is so baie konserte en kompetisies wat uitstaan, so baie adrenaline highs, en my musikale vennootskap met die pianis Tessa Uys is baie spesiaal.”

’n Groot laagtepunt was toe hy by ’n kitsbank in Londen aangeval is. Hy het twee vingers in sy regterhand gekraak en dit het vyftien weke geneem om te herstel. “Dit was die donkerste depressie vir my.”

Sy hand is nou sterker as ooit en hy kon ten minste tydens sy herstel sy doktorsgraad afhandel. Met sy merkwaardige talent het hy alle reg om ’n volslae diva te wees, maar hy kies om nie een te wees nie. Vir seker is Ben se beskeie geaardheid verfrissend!

Lees ook onderhoude met ander bekendes uit die klas van 2001:

Candice Boucher

Natalie du Toit

Christo Davids

Angelique Gerber