Van kleins af was sy baie bedrywig en by elke buitemuurse aktiwiteit betrokke. Op skool het dié meisie – wat jare later haar deurbraak as Clara in 7de Laan sou maak – veral in atletiek, ballet en akrobatiese gimnastiek uitgeblink. Almal by die Hoërskool Hugenote in Springs het haar geken as die meisie wat pouses sit en tuiswerk doen, want ná skool was daar nie tyd nie.

Angelique het nie veel van ’n sosiale lewe gehad nie. “Ek was die girl wat nooit by ’n braai kon wees nie, want ek was altyd te besig.” Skool was vir haar lekker, maar sy was dikwels in trane oor kinders wat met haar lelik was of haar gespot het. Toe sy jare later bekend word, het skoolmaats na haar uitgereik, om verskoning gevra en erken dat hulle bloot jaloers was oor al haar prestasies, sê sy.

Eers toe sy sielkunde aan die Universiteit van Pretoria studeer het, het sy haarself werklik gevind. “As ’n mens so besig is, verloor jy jouself in jou prestasies en koppel jou identiteit daaraan. Dis baie gevaarlik. Ek moes myself vra:‘Wie is Angelique sonder al die trofees? Wie is ek?’ Dit was ’n moeilike pad om te stap, maar ek het myself beter begin verstaan.”

Die droom was altyd om aan die New York Film Academy te studeer, maar haar ma het haar aangemoedig om eers ’n graad in iets “ordentliks” te kry. Ná Tukkies en twee jaar van werk in Londen, het sy haar droom nagestreef en drama aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie begin studeer. Haar studies is egter kortgeknip toe sy die geliefde Roemeense meisie in Die Laan geword het.

As Angelique besin oor die twee dekades ná matriek, besef sy sy het haar “fair share van laagtepunte” gehad. Haar pa se dood was geweldig moeilik om te verwerk. “Ek en my pa was nooit super close nie, maar in die twee jaar voor hy oorlede is, het hy reggemaak met my.”

Angelique sê hy was ’n oulike oupa vir haar seuntjie, Jacques, en het baie uitgesien om die tweeling te ontmoet. Sy was swanger met Annabella en Olivia toe hy oorlede is. Die verbrokkeling van haar eerste huwelik was ook ’n groot slag. “Dit was vir my baie erg.”

Angelique voeg dadelik by dat die afgelope 20 jaar ook vol hoogtepunte was. Haar tyd by 7de Laan en Boer soek ’n vrou staan beslis uit. Die geboorte van haar kinders en haar ontmoeting met haar man, Jacques Potgieter – “met kuite wat ’n Boeing kan kickstart” – is haar soetste herinneringe. “En ek het altyd vir my ma gesê ek sal nóóit met ’n rugbyspeler trou nie, want hulle is almal net bad news,” skerts sy.

Lees ook onderhoude met ander bekendes uit die klas van 2001:

Candice Boucher

Natalie du Toit

Christo Davids

Ben Schoeman