Met haar betowerende turkoois oë kon sy mense as tienermeisie skaars in die oë kyk. “Ek is nou nog skaam. Dis baie moeilik om uit my vel te klim en gemaklik te raak met mense.” Op skool het Candice op die atletiekbaan uitgeblink en die plan was om ’n kliniese sielkundige te word. “Maar toe het ’n kompetisie by die skool dinge in ’n ander rigting gestuur.”

Haar vriende by die Gelofte Skool in Pinetown, Durban, het haar ingeskryf om aan hul modeparade deel te neem.

“Ek was die dag van die inskrywing by ’n begrafnis en het van niks geweet nie.”Ten spyte van haar ongemak op die loopplank is sy as Mej. Gelofte gekroon. Een van die pryse was ’n fotosessie deur ’n fotograaf, en hy het later die foto’s vir ’n modelagentskap gestuur. En dis waar haar warrelwindloopbaan begin het.

Die modelwêreld is deurspek met drank en dwelms, maar haar goeie waardes het haar uit die moeilikheid gehou, glo sy. “Ek is baie dankbaar vir die mense wat oor my pad gekom het. Een of twee keer het ek saam met fotograwe gewerk wat dinge ’n bietjie ongemaklik gemaak het. Daar is lelike goed wat aangaan, maar ek het die regte mense om my en die regte mentaliteit gehad.”

Sy sê die stereotipe dat die modelwêreld vol kritiek is, is ook ’n werklikheid. “Modelle het van die swakste selfbeelde in die wêreld. Hulle dink die minste van hulself, want kritiek is wat hulle daagliks heeldag lank hoor. Die grootste kritiek op my was dat ek oorgewig was en ek is aangesê om gewig te verloor. Dit mors ’n mens bietjie op.”

Vandag woon Candice saam met TV-aanbieder Paul Rothmann en hul seun, Wolfe, in Pretoria. “Die plan is om oor veertig of vyftig jaar, as ons nog lewe, ’n klein viswinkeltjie êrens in Asië oop te maak.”

Tans werk sy vir ’n kuberveiligheidsmaatskappy waar dit haar passie is om kinders oor sosiale media op te voed.

As sy terugkyk op die 20 jaar ná matriek, is sy oor ’n paar dinge spyt. “Maar as jy enigiets in die verlede verander, verander dit alles vorentoe. Ek is op ’n manier dankbaar vir die dinge wat skeefgeloop het, want dit het my in ’n ander rigting gestoot of my oë oopgemaak vir die dinge wat om my aangaan.”

Die grootste les wat sy geleer het, is om meer teenwoordig te wees. “Dinge gebeur so vinnig en môre is nooit ’n waarborg nie. Wees meer in the moment. Die volgende oomblik is nie noodwendig beter as die een waarin jy nou is nie.” Candice se familie en hul seun is groot hoogtepunte in haar lewe. “Paul ook. Hy het my lewe onherroeplik verander.”

In haar professionele lewe is die tydskrif Sports Illustrated en die Guess-veldtog oomblikke wat die meeste uitstaan.

“Toe ek klein was, het ek altyd daardie groot Guess-ads oral op billboards gesien en vir my pa gesê: ‘Eendag, ééndag gaan ek dit doen.’ Hy was toe nooit daar om dit te sien nie

Lees ook onderhoude met ander bekendes uit die klas van 2001:

Christo Davids

Natalie du Toit

Angelique Gerber

Ben Schoeman