Hoe groet jy ’n stad wat vir agt jaar deel van jou menswees was? Stukkie vir stukkie. 

Jy neem jou tyd. Begin eers by die mense … groet jou vriende, kollegas, geliefdes. Daarna laat val jy jou blik vir oulaas op die Stad van Goud se bakens: Ponte-toringgebou, Mellville koppies, Emmarentia-dam, Maboneng-distrik, Dieretuinmeer, Orlando-torings en die Nelson Mandela-brug.

En voor die stad begin lewe kry, ry jy uit, douvoordag, en beleef ’n stille “good bye”-oomblik wat eintlik net in ’n Leonard Cohen-song hoort. “Skielik besef jy, as jy terugkom, ontvang die stad jou as ’n kuiergas.”

Dít was die aktrise Kara du Toit se rouproses toe sy onlangs haar geliefde Johannesburg moes groet.

Die groot trek. FOTO Instagram / Kara du Toit

Vrydagaand was die laaste keer wat kykers vir dr. Maya Gosslin in die gange van Binneland gaan gewaar. Ná ’n emosionele wipplank-storielyn het Maya besluit om Mosambiek toe te gaan en vir Hlabi (Terrence Ngwila) by sy kliniek uit te help.

In die regte lewe het Kara en haar man, Jan-Louis, 1368 km afgelê om hulself in die Bolandse dorp van Stellenbosch te vestig. ’n Groot werksgeleentheid het vir Jan-Louis gewink. 

Toe dié voshaarnooi se laaste toneel klaar in Stark Studios verfilm was, het die trane omtrent gevloei. “Ek het so gehuil. Jy gaan die mense mis, die samesyn, die hegte band. Maar ek gaan veral vir Maya mis. Sjoe, ek het so beskermend geraak oor daai girl. Ek het lief geword vir haar.”

Op die stel van Binnelanders: Maya en Tracy (Melinda Brink) het vir lank ’n hegte vriendskap gehad. FOTO Instagram / Kara du Toit
Saam met haar kamma-pa, Faf Gosslin (André Stolz), en dr. Tertius Jonker (Reynardt Hugo). FOTO Instagram / Kara du Toit

Maar Kara omarm die nuwe seisoen. Sy het pas by ’n Kaapse agentskap geteken en is opgewonde om te sien hoe die nuwe fase in haar loopbaan gaan uitspeel.

En wat van daai kinderboek? Sy lag. SARIE.com hou haar omtrent accountable daaroor, skerts sy. “Dis eintlik kinderboeke … ’n trilogie. Jong, nou het ek behoorlik tyd om dit klaar te skryf!”

Die Boland is nie volksvreemd nie. Sy en Jan-Louis het immers hul studentedae in Matieland deurgebring. “Maar dis ’n hele ander storie as jy jouself nou as grootmens hier moet loop vestig.  Ons het gelukkig wonderlike vriende in die omliggende omgewing, wat ons help tuis voel.” 

Kara en haar man, Jan-Louis, het ’n nuwe tuiste: Die Boland. FOTO Instagram / Kara du Toit

En wat van daai Kaapse winter? Kara is immuun teen hom, waterstewels en al. “Maar om jou wasgoed hier droog te kry, bly nog ’n uitdaging,” skerts sy. 

Vir dié krulkop-ster is dit ongelooflik belangrik om outentieke vriendskappe te hê.

In die Noorde moes sy afskeid neem aan ’n kosbare vriendin, aktrise Simoné Pretorius. Iemand vir wie sy die wêreldse tyd en respek voor het. “Sy neem alles net in haar stride, soos met die nuwe seisoen van ma-wees. Sy het tenacity, sy is hardwerkend. Simoné staan sterk in haar waardes en identiteit. Sy weet wie sy is. Dis amazing!”

Kara en die aktrise Simoné Pretorius se vriendskap strek al vanuit hul studentedae. FOTO Instagram / Kara du Toit

In die Suide word Kara weer verwelkom deur ’n besonderse vriendin, musikant Esté Rabe van die Bottomless Coffee Band. ’n Vrou wat haar op vele vlakke inspireer. “Sy is ’n dinamiese wese en pak alles met soveel grasie aan. Nie net as musikant nie, maar ook as iemand wat ’n passie vir welwees het. Ná ek by haar was voel ek sommer geïnspireerd.”

Beide Simoné en Esté is die definisie van gatskop-sakevroue, meen Kara. “Hulle pak die kreatiewe bedryf aan met ’n goeie tikkie business sense. Hulle benader altyd ’n ding van ’n vars perspektief. Ek bewonder dit.”

Bottomless Coffee Band se Esté Rabe is een van Kara se hartsvriendinne. FOTO Instagram / Kara du Toit

Maar nou is dit tyd vir Kara om haar eie voete in die Kaap te vind. Om ook híér te waag, foute te maak en herinneringe op te bou.

En ja, sy sal altyd daai roadtrip van 1368 km onthou. Dié een wat haar en Jan-Louis eers in die hartjie van die Vrystaat, waar mielies trots staan, laat oornag het. Toe die N12 via Victoria-Wes en daarna in die omgewing waar die Drie Susters waghou, het die N1 gewink. 

“Dit was ’n rit van baie sinkplaatpaaie ry. ’n Geruk, ’n geskud. Maar uiteindelik het ons ons bestemming gehaal. In een stuk.”  Danksy die Ouman, hul Land Cruiser, wat getrou die tog aangedurf het. Die een wat nooit, ten spyte van al die vrese, tussen niks en nêrens gaan staan het nie. “Ja, onse Ouman. Sjoe, he made us proud.”

Kara en Jan-Louis met hul getroue Land Cruiser, Ouman. FOTO Instagram / Kara du Toit


LEES OOK: 

Getroud met Rugby-ster: Net, Ansu. Dankie!

7de Laan se Zac: Robert Bester se lewe ná die Laan

Suidooster se Vashti: ‘Wat vir my bedoel is, sal my vind’