Geliefde go-getters, noem ons hulle. Positief, energiek, gewild, talentvol – met altyd die breë glimlag. Maar, sê dié twee blondekoppe, hoebeter, positiewer en meerprofessioneel die wêreldomhulle, hoe beter is hulle.Dís die inspirasie.

2020 voel dalk soos een lang winter, maar twee positiewer mense as Minki en Leah om vanjaar se langverwagte lente mee af te skop kry jy nie. Albei mooiblond, hul glimlagte ewe breed. Met ’n duidelike sin vir pret en armsvol empatie vir hul medemens. Juis dít het hulle om die beurt as aanbieders van kykNET se baie gewilde Boer soek ’n vrou tot diep in Suid-Afrikaners se harte laat kruip. Maar verskillend is hulle ook, met uiteenlopende, suksesvolle loopbane, elk ’n uitblinker op eie terrein.

Minki as model en sosiale media-entrepreneur met haar geselsprogram op Via, en Leah as sangeres, rolprentaktrise en verhoogkunstenaar.

SARIE het ’n handvol lesers, bekendes en mense in hul lewe aangemoedig om self vir dié twee ’n paar vrae te vra. Om agter te kom wat hulle laat tiek en na aan die hart lê.

Corné Oosthuizen (Leah se bestuurder): As jy nou terugkyk op jou ses jaar as solo-kunstenaar,wat sal jou raad aan ’n jonger Leah wees oor die uitdagings van die bedryf?

Eerstens, moenie oorhaastig wees nie, want alles gebeur op die regte tyd. Nadat ek in 2012 by Johan Vorster [’n kontrak] geteken het om musiek te maak en my album eenkant geskuif is om eers die fliek As jy sing te maak [waarin Leah die hoofrol speel], was ek maar hartseer om te moet wag. Maar nou weet ek dit was die regte besluit. Tweedens, en die belangrikste, moenie ander se negatiwiteit ter harte neem nie.

Berdene Burger (regisseur van Leah se Boersoek ’n vrou-seisoene): As jy met enigiets kon boer, wat sou dit wees?

Ek dink jy weet presies, Berdene! Ek sou vir seker ’n wingerd boerwees en wyn maak. Maar nou wil ek ook sê hoeveel respek ek vir jou het – ons het so lekker saamgewerk in 2018 en 2019. Dit was ’n roller coaster, maar ek is bly ek het dit gedoen. Ek en my man gesels oor hoe ons eendag op ’n plaas gaan bly, met groot, oop spasies. Maar vir nou is Bellville goed.

FOTO Marijke Willems

Hennie van Niekerk (Leah se man, ’n projekbestuurder): Jou loopbaan vereis dat jy gereeld reis. Hoe was die aanpassing om vanjaar so baie tuis te wees?

Ek dink ek hou nou nog meer van jou! Dit was beslis ’n aanpassing. Dis die langste wat ons al ooit in mekaar se geselskap was die afgelope dertien jaar. Selfs toe ons studeer het, was jy op Stellenbosch en ek in die Kaap. Ons moes ’n ritme vind en krapperighede uitstryk. Maar dit was ook so lekker om mekaar meer te sien, om goed weer te leer wat ons vergeet het en lang stories te kan praat.

Reynardt Hugo (sanger): Ek weet jy het, nesek, verskriklik uitgesien na die musiekblyspel Doringrosie. Wat sou dit vir jou beteken het en hoe het jy jouself in daardie tyd besig gehou?

Ai, die trane het geloop toe ek hoor ons repetisies is uitgestel,en die produksie in die Staatsteater in Julie ook. Ek het jarelank uitgesien om in ’n musiekblyspel te wees . . . ek kan ditsteeds nie glo nie. Maar tog, ek het lekker dinge aangepak in daardie tyd. Ek het myself leer ukelele speel, baie koek gebak, ek het ’n enkelsnit, “Girls’ Night”, in April uitgereik, en selfs saam met André Schwartz ons reeks Magical Musicals [kyk by coproductions.co.za/aanlynkonserte] opgeneem.

FOTO Marijke Willems

Sanet Neethling (SARIE-leser, Eversdal,Kaapstad): Hoe motiveer jy jouself wanneer dinge onseker lyk en jy regtig nie kans sien viriets of iemand nie?

Kom ons wees eerlik, daar is maar oggende wanneer ek sukkel om op te staan, dat ek kwaad en hartseer en gefrustreerd is. Maar ek het as kind al geleer die lewe is kort en kan vinnig van jou weggevat word toe my pa dood is [Leah was 7].Dit het my uiteindelik sterker gemaak. As dit moeilik gaan, herinner ek myself ek wil steeds my man trots maak en nie my familie en aanhangers teleurstel nie. Ek steun op mense, want dit gee my energie. En as ek ’n glimlag kan opplak [sy lag], kan dit dalk iemand anders ook help. So beur ons mekaar op.

Steyn Pretorius (SARIE-leser, Paarl): Baie Afrikaanse musiek is gemaak vir partytjies! Hoe dink jy gaan Covid-19 ons musiekstyle beïnvloed?

Ek dink eintlik daar was reeds ’n alternatiewe musiekbewegingvoor Covid; baie kunstenaars wil meer risiko’s neem en raak kreatief met nuwe invloede. Nou gaan ditv eral interessant word. Ekself hou nogal van ballades, kontemporêre of sommer net weird musiek; ’n paar liedjies op my eerste was glad nie hoofstroom nie.

FOTO Marijke Willems

Katryn Kruger (model): Wat kan ons doen om Afrikaans te beskerm en te bevorder?

Ek glo glad nie Afrikaans sal uitsterf nie, maar ons moet ditaanhou waardeer. Geen ander taal het daai lekker erre nie. Dis so ’n hartstaal, daarom glo ek mense sal aanhou veg daarvoor. Lees meer Afrikaans, kyk teater, ondersteun die feeste. 

Marciel Hopkins: Hoe het jy jou stem gevind asnuwe aanbieder in jou eerste reeks van Boer?

Ek het van dag een af vir myself gesê ek sal net myself wees. So, as ek simpel sou lag of grinnik, sou ek dit net doen – as die produksiespan nie daarvan hou nie, kan hulle dit mos net uitsny. Maar ’n groot deel van die program is ook om die deelnemers op hul gemak te stel, want ’n kamera kan baie intimiderend wees. En hoe meer jy dit doen, hoe gemakliker is jy ook.

Michélle van Breda: Bring ’n kamera of ’n gehoor die beste in jou uit, of moet jy “werk” om dit te laat werk?

Oe, ja, ek voed die gehoor en hulle voed my. Hoe meer hulle gee, hoe meer gee ek vir hulle. Dis vir my baie moeiliker om net voor ’n kamera te wees en daardie selfde energie te bring. Ek moes onlangs aanly ’n seremoniemeester wees en was so ongemaklik. Daar is geen gehoor om vir jou grappies te lag nie, dan lag ek maar vir myself en voel heel simpel.

FOTO Marijke Willems

Willem Botha (sanger): Ons het saam al baie toere reg oor Suid-Afrika onderneem, en in Nederland en België opgetree. Wat is jou gunstelingherinnering aan daardie dae? 

Ek kan nie glo jy vra dit nie, daar is so baie! Ek dink ons heel eerste toer saam in 2015, toe ek nog nie eens ’n album gehad het nie. Die drie weke saam op die pad, die min slaap, baie lag, harde werk elke liewe dag ... ons was soggens nog nie eens wakker nie, dan het ons al drie liedjies gesing. Ons het daar al close geraak en ek weet jy sal altyd my beste maatjie wees. 

Dankie aan Babylonstoren buite Franschhoek vir die neem van die foto’s in hul tuin en vrugteboorde. Kontak 0218633852, enquiries@babylonstoren.com, babylonstoren.com