Hier en daar het hul name opgeduik, mettertyd ál meer. Maar eensklaps is dié drie aktrises bekend, elkeen besig om hul stempel af te druk en hulle stewig in ons vermaakwêreld te vestig.

Vir jare geniet ons die werk van ons bekendste en talentvolste akteurs – daardie mense wat in ons hart kruip, ons bly verras en beïndruk, later legendaries word. Nooit kan ons dink dat ander hul plek sal inneem nie, en dan, op ’n dag, word jy bewus van nuwe name, nuwe talent wat ontluik en ál meer gehoor en gesien word. Dís waar die aktrises Trix Vivier, Jawaahier Petersen en Mila Guy hulle nou bevind – elkeen besig om op hul eie manier te wys watter talent hulle het en indruk te maak, ten spyte van die onvoorspelbare tye waarin werk skaars is . . . Hulle is op pad boontoe, en mense neem kennis.

Mila Guy, Jawaahier Petersen en Trix Vivier is ons voorbladsterre vir die Mei/Junie 2021-uitgawe. FOTO Leana CR

Trix Vivier gesels

Aktrise Denise Newman vra: Wanneer het jy geweet drama gaan jou loopbaan wees?

Ek het regtig net nog altyd gewéét. Op drie jaar het ek begin ballet doen en op skool aan elke eisteddfod deelgeneem. Dit was ’n manier om uiting te gee aan my emosionele wêreld. Daar was net so vyf minute in matriek wat ek getwyfel het, bang was my entoesiasme oorskry my talent. Snaaks genoeg was Denise ’n beoordelaar by ons tienertoneelkompetisies. Toe ons in 2018 saam werk by Suidooster, het ek vir haar gesê ek voel asof ek my broek gaan natmaak, ek is so senuweeagtig om saam met haar te speel. Toe sê sy: “Die senuwees gaan nooit weg nie – ek is ook nervous om saam met ’n nuwe aktrise te werk!”

Denise vra ook: Toe ons saam gewerk het by Suidooster, was jy so noukeurig met jou voorbereiding. Hoe speel jy uiteenlopende karakters dat elkeen so anders is?

Sjoe, dis ’n ongelooflike kompliment, ek sal sommer trane in my oë kry! Karakternavorsing is vir my uiters belangrik. As daar nie ’n agtergrondstorie gegee word nie, sal ek een uitdink – wie het hierdie mens grootgemaak, waar was sy op skool, hoe het dit haar beïnvloed? My agtergrond in dans het my ook ’n taamlik fisieke aktrise gemaak; ek gebruik my lyf en my stem baie. En ek dink dis hoekom ek interessante rolle kry – ek wil net toneelspeel en gee nie om of ek in ’n sepie of ’n romantiese rol speel of ’n antagonis is nie. Daardie bereidwilligheid maak jou veelsydig.

Dit het jou nogal lank geneem om jou groot deurbraak te maak. Wat het jou laat aanhou?

Ek het gedans, kinderteater gedoen, skoolkonserte gechoreografeer, as kelnerin gewerk en selfs ’n kulkunstenaar bygestaan. En vasgehou aan elke klein sukses – met die tweede seisoen van Boekklub, byvoorbeeld, het ek oudisies vir vyf rolle gedoen en toe net ’n rol met een enkele lyn gekry. Maar dit het my herinner daar is iewers vir my ’n plek in die bedryf. Ek het hard daaraan gewerk om myself nie met ander te vergelyk nie, maar dis hard op jou selfbeeld. Toe kry ek die rol van Kate Myburgh in die TV-reeks Waterfront in 2017. En toe Flea van Jaarsveld in Trackers [2019]. En nou, met Legacy op M-Net [sy vertolk die rol van Petra Potgieter], voel ek vir die eerste keer ek is sonder twyfel op die regte plek, in die regte loopbaan.

Trix in aksie op die stel van Legacy. FOTO Trevor A Brown

Hoe het Legacy jou lewe verander? Jy is amper elke dag in mense se sitkamers.

Legacy is massief – ’n telenovelle wat vier dae per week wys in meer as een taal, vir meer as een kultuurgroep, en met fantastiese produksiewaarde. Ons land was honger vir so iets. Ek word amper elke keer herken wanneer ek uitgaan, selfs wanneer ek inkopies doen, en selfs met my gesigmasker aan. Ek is so lomp en ongemaklik as ek herken word! Ek is eintlik bly my pad boontoe was stadig, want dit het my nederig gemaak.

Trackers is in 17 lande vertoon. Sal jy ooit oorsee gaan woon en werk?

Ná Trackers het ek een of twee afsprake gehad met internasionale bemarkingsagentskappe en het toe daaroor gewonder. Ek het met akteurs gepraat wat internasionaal werk en almal het gesê dis deesdae nie nodig om te trek nie, want jy kan oudisievideo’s instuur. Daar is soveel fantastiese produksies in Suid-Afrika en ek wil nie nou myself ontwortel nie. Ek sê nie nooit nie, maar nie vandag nie.

Jy, jou ma, Adri Vivier, en sus Lea is almal aktrises uit eie reg. Watter aspek van jul ma se loopbaan het dit lekker laat lyk?

Omtrent niks! Dit het uiters moeilik gelyk – my ma was ’n onderwyseres, aktrise, het ’n dramaskool gehad en boonop vier kinders grootgemaak. Sy het wel ’n onuitputbare passie vir die kunste en het my altyd gemotiveer om my hart en my droom te volg – nes my pa. Haar energie en toewyding was inspirerend.

FOTO Leana CR

Hoe is jy en Lea eenders en anders?

Ons het dieselfde humorsin en lewensuitkyk; dis asof daar ’n naelstring tussen ons is. Sjoe, hoe is ons anders? Sy bak en ek kook eerder. Ek hou van sjampanje en sy nie. Sy skryf whatsapps in paragrawe met perfekte spelling; ek nie. Ons is in verskillende fases van ons lewe. Sy is vier jaar jonger en nog meer sosiaal, terwyl ek hou van tuisbly met my maat en baie privaat is.

Jou ma vra: Wat is jou volgende uitdaging?

Om die regie van my eie rolprent te doen. Ek het besef ek het ’n natuurlike aanvoeling daarvoor en my agtergrond as choreograaf help waarskynlik ook. Die idee van my eie werk skep is vir my baie bemagtigend – vreesaanjaend, maar ook opwindend.

Trix in studio vir SARIE se voorblad-fotosessie. Saam met haar is SARIE se eie voorblad-ghoeroe, Fanie Cronjé. FOTO Instagram / Trix Vivier