Die aktrise Lika Berning het haar die lewe op 38 meer romanties voorgestel . . . Dalk met ’n groter huis, meer geld, ’n standvastiger loopbaan. “’n Lady of leisure wat in die tuin rondwandel, rolprentdraaiboeke skryf, movies maak, skilder, met die kinders speel.” Maar die lewe is ’n geswoeg en gejaag.
Voor my is ’n onopgesmukte, stylvolle vrou met ’n kort, moderne Franse haarstyl, nie bang om haar emosies op die tafel te gooi nie. Sy wéét haar idealisme spruit uit ’n bevoorregte opvoeding.
Ook haar rol in die kykNET-reeks Die Byl, wat pas klaargemaak het (reeks twee is reeds verfilm), is so anders as die romantiese hoofrolle waarmee sy bekend is. Polisie-kaptein Lena Evans is ’n tawwe koekie in dié reeks wat losweg gegrond is op baasspeurder Piet Byleveld se werk, hoewel die sake fiktief is.