1. Dit het 9 jaar gevat voor jy n nuwe album uitgereik het. Jy sê self dis gebore uit n plek van vrede en vreugde. Wat het jy oor jouself en oor die lewe geleer in die afgelope 9 jare, wat bygedra het tot die skep van hierdie album?

Wat het ek geleer oor myself en oor die lewe? Daar kan onmoontlik genoeg spasie in die artikel wees om die volle waarheid van dié antwoord te akkomodeer! Ek probeer nietemin kortliks antwoord en ’n enkele ding uitlig met betrekking tot die nuwe album. Ek het geleer dat dít wat ons doen (of nié doen nie), ons nie definieer nie. Ons kan wel wie ons is uitleef in wat ons doen - dinge leer, ervaar, ontdek - en dit is deel van ons ‘storie’ in hierdie lewe, maar ek sal steeds wees al was daar nie ’n nuwe album óf nuwe visuele kuns nie. Ek is dus nie afhanklik van daardie dinge om ten volle ‘ek’ te wees nie. Wanneer ons dit besef en regtig verstaan, maak dit ons vry van vrees, druk en verwagting - hetsy van onsself of ander. Dan kan jy jouself ten volle, eerlik, opreg en met oorgawe uitleef in enigiets wat jy doen en die vreugde van die reis omarm.

 

2. n Album se naam en die volgorde van die liedjies verg ook n kreatiewe besluit. Hoe het jy te werk gegaan met hierdie keuse? Moes jy ook jou vertroue laat lê in Mauritz Lotz se hande?

Aanvanklik het ek gedink die naam van die album sal Stil wees omrede ek meermale na stilte verwys in die lirieke, maar ’n vriendin het my gedagte bevraagteken toe sy die album in sy geheel hoor. Haar motivering vir ’n ander naam was so akkuraat geformuleer dat ek dadelik besef het die naam van die album moet ongetwyfeld Hier en nou wees. Daar is slegs een lied wat fokus op waar ek was in myself 8 jaar gelede en die res het almal betrekking op waar ek nou is.  Die volgorde van die snitte is voorwaar iets waarop ek besluit het in samewerking met Mauritz wat die verwerkings en produksie behartig het.  Deesdae kan mense ’n enkelsnit aflaai op aanlyn-platforms, maar daar is tog ook nog mense wat ’n harde kopie verkies. Die CD word in die CD-speler gesit en van begin tot einde geluister, en dan wil mens tog graag hê dat daar ’n mooi musikale vloei is van die een lied na die volgende.

Lize se eerste album in nege jaar.

3. Lize, jy is deur diep donker waters en aanhangers sal eerstehands hoor in Kan alles net stil”. Watter raad het jy vir iemand wat ná so n groot verlies nie kan of wil opstaan nie?

Was daar ’n eenvoudige enkele antwoord op daardie vraag, sou ons almal aansienlik ligter loop midde verlies, hartseer en soms ook trauma.  Daarmee saam is ons unieke individue met elkeen ons eie storie, uitkyk en lewenssituasies wat wel ’n rol speel in hoe gebeure ons raak.  Ek kan egter probeer om een van die dinge wat vir my gehelp het te deel. Ons voel soms “ek kan nie opstaan nie” en daar is niks verkeerd daarmee nie. Hoe kan dit ‘verkeerd’ wees om iets te voel? Jy voel wat jy voel en om waar te neem wat jy voel en dink, dit te herken en te erken, is opsigself ’n waardevolle eerste tree. Eers wanneer ons iets na die lig toe bring, kan ons iets daaraan doen. En as daar nié ’n onmiddellike uitkoms is nie, ‘laat dit toe’ en aanvaar dat dit is wat dit is in hierdie oomblik. Voel dit. Jy hoef nie met gebalde vuiste teen dit te baklei nie. Maak gerus jou hande oop. Wanneer ons hande oop is, is daar spasie vir dit om geneem te word. Daarmee saam, word ’n waarnemer van jou eie gedagtes. As jou gedagte oor en oor is “ek kan nie opstaan nie”, beteken dit nie dis die waarheid nie. Dis net ’n gedagte. Ons gedagtes is dikwels die oorsaak van ons gebalde vuiste (konflik, angs, vrees) - “ek is hier…maar ek wil daar wees” - veral as hier nie vir ons lekker is nie, of nie is soos ons wou hê dit moet wees nie. My ervaring was en is steeds, dat as ek my hande oopmaak vir hier, kom daarmee saam ’n vrede wat alle verstand (denke) te bowe gaan!

View this post on Instagram

A post shared by Lize Beekman (@lize_beekman)

4. Jy het Kan alles net stil” 8 jaar gelede geskryf. Hoe was dit om daai roerende lied, wat jou eie verlies en pyn so waargeneem (omarm) het, weer te herbesoek ná al die jare? Hoekom het jy besluit om dit op jou jongste album te laat leef?

Verlies en die hartseer en gemis wat daarmee saamgaan is deel van hierdie lewe soos die son wat opkom oor ons een en elk in die oggend. Ek het die lied ingesluit op die album omrede ek glo die lirieke is iets waarmee enigeen sal kan identifiseer.  Soms kan ’n emosie wat verwoord is in ’n liriek vir iemand anders - al is dit net vir ’n oomblik - ’n mate van verligting bring, omrede dit hulle ‘minder alleen’ laat voel en dalk uiteindelik uitdrukking gee aan ’n ervaring wat hulle nie self kon verwoord nie. Voorwaar het ek die lied vir die eerste keer in baie jare herbesoek, maar intussen is die verskil dat alhoewel ek baie goed kan onthou hoe ek op daardie stadium gevoel het, herleef ek dit nie opnuut en oorweldig dit my nie asof dit nóú weer gebeur nie. Alhoewel die gemis van ’n Geliefde altyd sal deel wees van ons, is die kosbare ‘stempel’ en die geskenk van hulle teenwoordigheid op ons lewenspad blywend. Ek kies om dít te omarm!

 

5. Aanhangers van die skrywer Deon Meyer was verras om te hoor hy sing én boonop n pragtige duet saam met jou. Was dit instink wat jou oortuig het om hom te nader vir die duet of hoe het hierdie kameraadskap ontstaan?

Ek het die voorreg gehad om op Deon en Marianne se troue te sing en by die onthaal het Deon ’n pragtige gedig wat hy geskryf het vir Marianne gelees. Coenie de Villiers was ook daar en ek en hy het dadelik begin konkel om dié mooi gedig musiek te gee en dit as ’n verrassing vir hulle op te neem. Ek het die toonsetting gedoen, Mauritz Lotz het ’n baie mooi verwerking gedoen en Coenie het gesorg dat alles opgeneem word en bymekaar kom as geskenk vir hulle. Hulle was só opgewonde daaroor en het toe ek vra geantwoord dat ek dit maar op my nuwe album mag sit. Later, toe ek die finale keuse van liedjies maak, het die gedagte kom aanmeld by my dat dit baie spesiaal kan wees as Deon dit saam met my sing omrede dit sy lirieke is en boonop ’n baie spesiale en persoonlike gedig vir hom en Marianne. Hy was heel opgewonde, maar het wel versigtig gesê dat hy eers gaan oefen en dan ’n ‘oudisie’ vir my sal kom doen.  Hy het voorwaar die oudisie met vlieënde vaandels geslaag en die uiteinde is “Oase” op die nuwe album. Hy sê graag hoe voorreg dit vir hom is, maar dit is ongetwyfeld wedersyds.

6. Daar is ook n Kersfees-lied op die album. Wat beteken Kersfees vir jou en waar gaan jy dit vanjaar vier?

Elke jaar rondom Kerstyd mis ek Afrikaanse musiek wat getrou is aan ‘n eg Suid-Afrikaanse Kersfees, so ek het my skryfpen opgetel om só lied neer te skryf en is opgewonde dat dit ook ingesluit is op die nuwe album met ‘n pragtige verwerking deur Mauritz Lotz. Kersfees is vir my sinoniem met Liefde. So, op Kersdag is ek bevoorreg om my familie rondom my te hê - ’n kosbare Kersgeskenk!

 

7. Het jy nog hoop vir ons land?

Daar is keuses en aksies van mense wat opbou en daar is wat afbreek. Gebeure in ons land is geen uitsondering nie, want dit is (ongelukkig) die aard van die mensdom. Daar is nie ’n mens op hierdie aarde wat weet wat die dag van môre inhou nie. Ons gedagtes kan soms vreeslik besig raak met die toekoms (wat eintlik rêrig net fiksie is waarmee ons verbeelding opkom) en dit bring kommer, vrees en angstigheid. Soms bring dit ook hoop en opgewondenheid, maar die feit bly staan dat wat ookal ons verbeeldings mee opkom en waaraan ookal ons kies om vas te klou, dit bly gebaseer op fiksie. Ek probeer gevolglik daagliks om my gedagtes waar te neem en nie ‘verlore’ te raak in die fiksie nie, maar eerder my hande oop te hou en ontvanklik te wees vir wat hier en nou voor my is of afspeel. In hierdie oomblik kan ek waarlik teenwoordig wees, my volle aandag gee aan die mens of die taak op hande en optree vanuit ’n plek van liefde en empatie. En ja, dít mag dan dalk wél ’n verskil maak aan die dag van môre, maak nie saak hoe groot of klein nie.

8. Watter drie plekke in Suid-Afrika laat jou altyd na jou asem snak?

Ek giggel nou by myself omdat ek bietjie soos ’n stout kind voel, want dis ’n bykans onmoontlike taak om al die uiteenlopende mooi in ons land te verminder tot by drie, so, ek gaan so bietjie wegskram van jou vraag. Eerder wil ek sê dat dit die mense van Suid-Afrika is wat my dikwels na my asem laat snak. Daar is in ons mense (en ek glo dis die meerderheid) ’n geweldige deursettingsvermoë, liefde, omgee en ongelooflike passie! Dis só inspirerend en bemoedigend om waar te neem hoe ons mense weer en weer kan opstaan en nog ’n tree gee vanuit dikwels baie moeilike omstandighede.

 

9. In die bekroonde boek The 5AM Club word daar ondermeer bespreek hoe belangrik n oggendroetine is vir persoonlike groei. Het jy n spesifieke oggendroetine waaraan jy vasklou en wat bydra tot jou kreatiwiteit?

Vroegoggend is my gunsteling tyd van die dag - ek is van so 5 uur af wakker - en dit begin altyd met ’n lekker koppie koffie wat ek tydsaam en rustig in stilte sit en drink. So paar maande gelede sou ek dan in verdere stilte sit en teken, maar ek het nou ’n honde-kind in die huis, genaamd Fudge. Ek vermoed Fudge het die heel meeste energie van alle hondjies ooit én ek dink sy is die slimste (soos sekerlik alle honde-ouers), want sy raak bitter gou verveeld! Gevolglik het my oggendroetine bietjie verander. Na my koppie koffie gee ek vir Fudge kos en water, dan speel ons bietjie bal en gaan deur al die oefeninge van ‘sit’, ‘lê’, ‘bly’ en ‘los’ wat ek trots is om te sê sy al baie mooi regkry! Die oomblik wanneer sy lekker moeg is kan ek weer rustig kreatief wees of aandag gee aan dit wat aandag vra.

Lize en klein Fudge. FOTO Instagram / Lize Beekman
 

10. Wat is jou wens vir die nuwe jaar?

My wens vir die nuwejaar bly die afgelope paar jaar onveranderd, maar dis my waarheid: dat ek graag in die loop van elke dag sal wil regkry om toe te pas wat ek geleer het en dat ek met oop hande sal beweeg om ontvanklik te wees vir wat ek nog kan leer en beleef.