Haar handpalms het gesweet en sy het weerloos begin voel. Maar toe die elektriese haarknipper deur haar kroon beweeg en haar lokke stuk-stuk op die vloer val, het Mandi du Plooy-Baard geweet hierdie storie móét vertel word. 

In ’n jaar soos 2020, is dit nodig om te weet jy is nie alleen nie, meen sy.

Die afgelope paar maande het kykers van die gewilde kykNET-sepie Getroud met Rugby gesien hoe die karakters Lienkie (Mandi) en Blitz (Werner Coetzer) hul verhouding ’n tweede kans gee, tot die groot vreugde van hul 11-jarige seun, Johan (Dirk Jacobs). 

Maar toe word Lienkie siek: Pankreaskanker fase 4. Die prognose is tussen drie en ses maande. Wat los jy? Wat pak jy aan? Hoe maak jy die beste van tyd as ’n doodsvonnis reeds gegee is? Dís net van die vrae wat Lienkie meer gekonfronteer was.

In een episode verloop die gesprek tussen Lienkie en Blitz só: 

LIENKIE: ’n Mens dink jy het tyd, ’n leeftyd om alles te doen wat jy van jonk af beplan het. Ideale wat jy wil bereik. Plekke wat jy wil sien. Ervaringe wat jy wil deurmaak.

BLITZ: Jy kan nog steeds.

LIENKIE: Hoe? Wat kan ’n mens in drie tot ses maande vermag? Dis nie ’n lewe nie. Ek wil my lewe terughê. Ek het meer tyd nodig ... ek moet meer hê. Ek is nog nie reg nie.

Die storielyn het vir Mandi op vele vlakke uitgedaag ... fisies, emosioneel, psigies. Juis oor dit so close to home is.

“Drie jaar terug, het ek my eie skoonma se hare afgeskeer. Sy was met borskanker gediagnoseer. Dit was ’n weerlose oomblik ... so iets bly ewig by jou. En toe sit ek voor ’n spieël en my hare word afgeskeer.” 

En al wou Mandi tydens verfilming van hierdie spesifieke toneel uitmekaar val, het sy geweet dat Lienkie sou sterk wees – al verg dit elke onsie energie. “Ek onthou hoe ek geglimlag het, al het die trane geloop. Dis Lienkie ... sy wíl sterk wees, ter wille van haar man en kind. Sy voer hierdie stryd aan, ten spyte van alles.”

Oomblikke uit vanaand se roerende episode. FOTO’S Verskaf deur Getroud met Rugby

In die sepie is dit Bibi (Stephanie Baartman) wat Lienkie se hare skeer. “Ek en Stephanie is goeie vriende. Dit was besonders om hierdie met haar te kon deurmaak. In daai oomblik besef jy dis ’n band tussen twee vroue, twee vriendinne.”

Niemand was op stel toegelaat nie en die monitors was ook af tydens verfilming, verklap Mandi. “Maar my man, Schalk, kon die verfilming bywoon. Hy is ook die een wat my gemotiveer het om my hare af te skeer ... die storie moes só vertel word.”

En toe die woord “cut” geuiter word, het Schalk eerste na Mandi gekom. “Hy het my omhels en gesê: ‘Jy lyk amazing.’ Ag en toe huil ek behoorlik, want dis ’n stryd wat soveel geliefdes moet veg.”

Nes Lienkie, is Mandi ook ’n ma. Sy het haar kinders, Jeandré (7) en Sumé (5), voorberei vir hierdie storielyn. Elke kind het anders gereageer toe hulle hul ma sonder hare sien. “Oor my skoonma deur hierdie selfde pad gestap het, wou ek nie hê my kinders moet dink ek is siek nie. Hulle moet sien ek is blakend gesond. Ek en Schalk het hulle geprep.”

Mandi saam met haar twee kinders, Jeandré en Sumé. FOTO Instagram / Mandi Du Plooy-Baard

Jeandré, met die sagte hart, was aanvanklik hartseer. “En hy wou my net omhels.” Sumé, die ekstrovert, het vir mamma Mandi gelag. “Kyk hoe funny lyk mamma.” My dogtertjie het die situasie onmiddellik verlig.

Haar sepie-man en sepie-seun was haar steunpilare. “Alles van hierdie storielyn, hoe dit oorgedra was, is te danke aan hulle. Ek vertrou hulle met my hele hart.”

Lienkie se stryd met kanker, het Mandi opnuut laat besef hoe verganklik tyd is. “Jou mense, jou lewe, jou gesondheid ... niks is ’n gegewe nie. Niks. Ek kan ook nie dink hoe jy hierdie stryd alleen voer, sonder die Here nie ... sonder sy bystand.”

Die fotograaf, sanger en aanbieder Willem Botha het spesiaal die pragtige foto’s van Mandi geneem:

Willem Botha het spesiaal foto’s van Mandi geneem. FOTO Willem Botha
FOTO Willem Botha
FOTO Willem Botha
FOTO Willem Botha

- Kyk Getroud met rugby weeksaande om 18:00 op kykNET (DStv-kanaal 144)