1. Hoe was dit om saam met Nina Swart op Die Boekklub te werk?

Een van Nina se gunsteling sê-goed op stel was: “My hare val uit!” Jy weet altyd presies wat sy van ‘n toneel dink.  Nina het ongelooflik baie energie, hoe sy dit hou om 12 uur-dae te werk, alles dop te hou, almal op te charge en gefokus te hou en nog in die aande voor te berei en more is sy terug met woema! Ek was baie bang, ek het nog nooit so ’n groot rol in ’n TV reeks gespeel nie, ek is eintlik maar meer verhoogaktrise. Maar Nina het my aan die hand, voetjie vir voetjie gelei.  Ek dink omdat Nina self ’n aktrise was/is, verstaan sy akteurs se onsekerhede.  Ek het volle vertroue in haar en hoop om gou weer saam te werk.  En ja, die TV-gogga het nou gebyt. Ek is nie meer so bang vir hom nie en sal graag nog TV- en flimwerk wil doen.

 

2. Vertel meer oor jou karakter. Wat kan kykers verwag?

Vera Klopper is ’n dominee.  Ja, ek weet, almal dink ... wat jy ’n dominee! Nee mense, ek vetrolk die rol van ‘n dominee.  Soos Dolla en al my ander verhoogkarakters, vertolk ek hulle slegs. Okei, ek erken, soms neem hulle bietjie oor, maar ek bly eerstens ’n aktrise. Vera is ’n droomrol, sjoe daar is soveel fasette. Louis Pretorius en Albert Snyman het ’n karakter geskep wat heeltemal onder my vel ingeklim het.  Vera was eers ’n  mariene bioloog en is nou, al vir 10 jaar, ’n predikant.  Vera is gemaklik in haar vel, sy is slim, het ’n passie vir mense, kyk tot binne in jou siel ... tog bly sy self mens met haar eie onsekerhede en vrae.  Vera is sterk, maar sy het geen behoefte om te domineer nie, sy hoef nie.  Vera sal ’n  vertrek ongemerk binnekom, maar as sy loop, sal jy weet sy was daar.  Daar is niks aansitterig aan Vera nie: As sy wil lag, lag sy.  As sy iets wil sê, doen sy.  Ek dink die kyker gaan haar reis geniet ... ek het!

 

3. Vir elke mens beteken die Karoo iets anders. Hoe voel jy oor die Karoo en wat ontlok dit by jou?

Ek is altyd opgewonde as ek hoor ek gaan Karoo toe ... daai ooptes. Die ry soontoe is klaar ’n bonus, gewoonlik lank genoeg om jou kop te laat afskakel.  Dit was vir my goed om my eerste tonele in Merweville te skiet, meer gefokus as by die huis en die vlaktes en die aard van ’n mens wat permanent daar bly, het boonop bygedra tot die bou van my karakter.  En dan die mense van Merweville ... hulle kon nie genoeg vir ons doen nie. Ons is verwelkom soos ou vriende. Verder is ek mal oor die stofstrate, die gebrek aan straatligte, die helder sterre in die aand en die stilte.

4.Watter onthou-oomblik op Die Boekklub-stel kan jy met ons deel?

Daar is baie, sal half sleg voel om een uit te sonder, want ek moet sê Die Boekklub-geselskap: Akteurs, tegnies en logistiek, is ‘n droom om mee te werk. Ek onthou die aande stap van die koshuis na my huisie saam met Jana Cilliers en dan kyk ons sterre.  Ek onthou die lekker gesels met Pierre van Pletzen waarby ek so baie kon leer.  Die energie van Nina. June van Merch en ek wat agter-die-skerms ure kon babbel oor ons dae by die Breughel-gemeenskapsteater in Cloetesville. Die lekker lag saam met Christia Visser.  Gepraat van lag, toe ons Vera se openingstoneel skiet,  gelukkig was dit nie op dag een nie, moes ek instap om die hoofkarakter Tom Niemand te ontmoet ... daar glip my voete onder my uit en sit ek kadoef op my alie.  Armand Aucamp het nog omgedraai om met my te praat en toe is ek skoonveld “weg”.  Binne sekondes is die gladde skoene vervang en gelukkig was dit maar net my selfbeeld wat bietjie gekneus was. Ons het heerlik gelag!

 

5. Jou geliefde karakter, Dowwe Dolla, het soveel vreugde verskaf. Wat sou haar raad wees vir almal wat probeer kophou in hierdie moeilike en onsekere tyd?

“Moenie te veel dink nie”  dit klink dalk ligsinnig, maar hier is Dolla reg. Ons is almal in die hierdie vreemde tyd en as jy alles oordink, gaan jy jouself tot gekheid dryf ... vra my, Margit.  Te veel tyd om te dink, is nie ’n goeie ding nie.  En ongelukkig “go with the flow”. Covid vra nie jou toestemming om te beplan nie. En Dolla sê oefen: Dis goed vir die kop en die lyf.  Al rolle wat sy in 2020 gekry het was ’n maagrol en ’n  heuprol. 

6. Kinders kry veral swaar met skool wat aangepas en uitgeskuif word. Hoe gaan dit met Luca [haar dogter] en het sy jou eintlik te ware iets oor die lewe geleer in 2020, eintlik nou ook 2021?

Luca het my geleer dat ek nooit ’n onderwyseres kan wees nie.  Tuisonderrig was erg beproewend, daar was nie verniet die grappie wat die rondte gedoen het nie:  It might take a village  to raise a child, but it takes a whole vineyard to homeschool one. Kinders is sosiale wesens en die inperking was/is vir hulle swaar.  Luca is ’n enkelkind, voor die inperking het sy ’n  tablet gehad- nou het sy ’n selfoon en ’n rekenaar… Maar sy het ongelooflik aangepas.  Kinders is sterker as wat ’n mens dink.  Party dae het my trane net makliker as ander dae gevloei, ek was broos ... onthou ek is ’n  control freak wat nou niks kon beheer nie.  En dan het sy my vertroos op haar manier deur om klavier te speel, saam met my te ’n reeks te binge ens.  Sy was ook die rede hoekom ek “sterk” kon bly. Ek het steeds ’n reuse sense of purpose danksy my Luca.

 

7. Plaaslike reis is ons voorland en meer mense durf die langpad aan. Wat is volgens jou drie plekke (dorpe, stede of selfs natuur-plekke) wat Suid-Afrikaners gerus kan besoek?

Gelukkig het ons so ’n mooi land!  Ek het al so baie in verskillende provinsies, stede gewerk en ek kan nooit die beste-este kies nie, want elke streek het sy bekoring. Maar ek hou van klein plekkies soos Jacobsbaai, Pringlebaai, Victoriabaai.  Lief vir die “baaie”, maar net so dol oor die berge.  Beplan juis om bietjie die Maart-skoolvakansie iewers te gaan stap, natuur herlaai die batterye. O en Kwazulu-Natal is beslis die provinsie wat ek die slegste ken, was elke keer in die Drakensberge so vining in en uit vir werk, dink dis dalk die jaar om daar te gaan wandel.

 

8. 2020 was ’n bloedbad vir die kunste, ook julle het die ervaar met Die Boer. Het jy nog hoop vir kunste? Hoe kan Suid-Afrikaners intussen die kunste help?

Ek dink nie die kunste gaan vinnig herstel nie.  Almal is geraak deur die pandemie, nie net die kunste nie ...  Almal is armer, broser.  Kunste bly ‘n luxury, dit moenie so wees nie, maar dit is ongelukkig so.  Niks gaan ooit weer dieselfde wees ná Covid nie.  Die kunste gaan nie “herstel nie”.  Volgens my moet dit grotendeels ’n nuwe kunslandskap ontwikkel.  Ons sal altyd kuns maak, maar net nou anderste. Ek het nog nie die antwoorde nie, ek volg Dolla se raad en probeer nie te veel te dink nie. Dis tong in die kies, ek het my opgedink. Om die Boer-teater tydelik te sluit was een van die moeilikste dinge wat ek en Jurg nog ooit gedoen het, ek is steeds getraumatiseerd.

9. Hoe kan Suid-Afrikaners die kunste nou help? 

Gee wat jy het. Almal het nie altyd geld om te gee nie, maar dalk kan jy help met ’n diens of ’n produk.  Ondersteun die kunstenaars deur nie elke poging te kritiseer nie.  Ek sidder soms as ek op Facebook sien hoe lelik mense met mekaar is.  Daar is nie nou tyd vir lelik wees nie. Speel mooi “maats”.